Die einde van huiswerk soos ons dit ken?
Hildegard Brummer – Solidariteit Skoleondersteuningsentrum
Hierdie artikel het oorspronklik op Die Skole Ondersteuningsentrum (SOS) se webtuiste verskyn. Die SOS se doel is om elke skool in ons land waar onderrig in Afrikaans aangebied word, by te staan om in die toekoms steeds onderrig van wêreldgehalte te bly bied, wat tred hou met die nuutste navorsing en internasionale beste praktyke. Vir meer oor die SOS, klik hier: https://skole.co.za/
Huiswerk. ʼn Woord wat elke onderwyser, ouer en veral leerder al te goed ken. ʼn Onskuldige woord wat in ʼn oogwink ʼn doodnormale, gelukkige vertrek in ʼn oorlogsone kan verander.
Huiswerk is iets wat ons oor die jare maar geleer het om te verduur. Onderwysers skryf elke dag huiswerk voor en ouers vra elke aand dieselfde vrae:
“Is jou huiswerk al gedoen?”
“Het jy hulp nodig met jou huiswerk?”
“Hoekom moet ek jou ELKE dag SMEEK om jou huiswerk te doen?”
Die volgende dag by die skool is dit dieselfde storie:
“Hoekom is jou huiswerk nie gedoen nie?”
“By wie het jy hierdie antwoorde afgeskryf?”
Almal is ongelukkig, en slegs die topleerders het beter daarvan af gekom.
Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek self is ʼn aanhanger van huiswerk. Huiswerk leer leerders goeie tydsbestuur en hoe om te prioritiseer. Dit leer leerders om selfstandig te werk, te beplan en by doelwitte te hou. Dit is nou te sê AS die huiswerk wat gegee word goed beplan en deurdink is. Die tyd om te herbesin oor huiswerk het aangebreek. Is daar nie dalk ʼn beter manier om huiswerk te struktureer sodat leerders werklik daarby kan baat nie?
Die omgekeerde klaskamer
Wat is dit?
Die omgekeerdeklaskamermetode is ʼn metode van onderrig waarby leerders voorbereiding by die huis doen, sodat hul op daardie kennis kan bou in die klas deur aktiwiteite saam met die kundige (die onderwyser) in die klas kan doen. Leerders se huiswerk word ʼn kort video wat hul moet kyk en opsom voordat die tema in diepte in klastyd deurgewerk word.
Klaswerk word nou gestruktureerde aktiwiteite wat elke leerder se individuele vaardighede en behoeftes aanspreek met die voordeel van die spesialis wat reg langs elkeen is om die leer te fasiliteer. Leerders kan dus nou produktief werk in die klas inplaas daarvan om op hul eie by die huis te sukkel met die aktiwiteite. Die oefening wat vir hul in die verlede ʼn kopseer was, maak hul nou opgewonde omdat hul dit skielik kan bemeester. Hierdie vorm van huiswerk leer alle kinders om te prioritiseer, beter tydsbestuur te handhaaf, selfstandig te werk, te beplan en doelwitte te bereik, nie net die “pliggie” in die klas nie. As ʼn bykomende bonus is die leerder se huiswerk nou ʼn aktiwiteit wat geen kind voor sal nee sê nie: Netflix vir skoolwerk!
Voordele vir onderwysers
Verbeel jou, jy as onderwyser kan al die “talk en chalk” uitkontrakteeer aan byvoorbeeld ʼn kort video wat jou leerders voor klas kyk en jou tyd in die klas saam met jou leerders kan dan bestee word aan probleemoplossing, praktiese aktiwiteite en konkrete oefeninge.
Voordele vir ouers
Ouer, verbeel jou, jy kan by die huis meer tyd saam met jou kind spandeer aan speel eerder as om daardie 30 wiskundesomme te probeer oplos wat jy 20 jaar gelede al afgeskryf het as ʼn verlore saak. Die omgekeerdeklaskamermetode gee beide hierdie voordele.
Wat van ʼn omgekeerde klaskamer?
Dit is dus nie nodig om die baba met die badwater uit te gooi nie. Huiswerk het sy plek en talle voordele. Maak net seker dat die huiswerk wat jy voorskryf wel daardie voordele inhou vir jou en jou leerders.