Skrywer: Alita Steenkamp
Jana Peeters, ʼn Belg wat haar hart in 2011 op Suid-Afrika en veral Afrikaans verloor het, is ʼn wonderlike Afrikaanse ambassadeur in België. Jaar na jaar bied sy klasse in Afrikaans aan by CVO Pro, ʼn instansie wat opleiding aan volwassenes bied. Die instansie is geleë in Aalst, ʼn stad in Oos-Vlaandere. Tydens die Covid-19-pandemie is daar begin om hierdie klasse digitaal aan te bied. Jana vertel dat hulle elke jaar in September met ʼn nuwe groep studente begin wat dan teen die einde van Februarie klaarmaak met die kursus. Daar is baie mense in België, veral aan die Vlaamssprekende kant, wat belangstel om meer oor Afrikaans te leer. Tog gaan die kursus nie bloot net oor die aanleer van Afrikaans as taal nie, maar Jana leer ook meer aan hierdie klompie entoesiastiese Belge oor die Afrikaanse kultuur wat sy met haar talle besoeke aan ons land raakgesien en ervaar het.
Aan die einde van Mei vanjaar het sy al haar studente bymekaar gekry vir ʼn heerlike eg Afrikaanse braai. Dit was dan ook die ideale geleentheid om vir die eerste keer fisies bymekaar te wees, hulle Afrikaans op mekaar te oefen en nog meer te leer van die kultuur van Afrikaanssprekendes. Jana het seker gemaak dat daar biltong, koeksisters, beskuit, bobotie, heerlike Kaapse rooiwyn en Amarula beskikbaar is om aan te proe. Sy vertel dat daar selfs opgewekte Afrikaanse sokkiemusiek gespeel het en van die studente het nie op hulle laat wag om te dans nie.

“Daar was vanjaar tien studente in die groep en die groep het gewissel tussen mans, vroue, oud en jonk. Almal van hulle het ʼn spesiale band met Suid-Afrika. Party was daar vir hulle wittebrood, ander het weer in Suid-Afrika die liefde van hulle lewe ontmoet. Die groep was baie divers, maar ’n oulike groep mense,” sê Jana.
Jana vertel die een ding wat sy met haar talle besoeke aan Suid-Afrika geleer het, is hoe lief die Afrikaners vir braai is. Dit was dan ook vir haar die ideale manier om die groep bymekaar te kry en hulle aan hierdie eg Afrikaanse tradisie voor te stel na afloop van hulle kursus.

Vir Jana is haar betrokkenheid by die aanbied van hierdie Afrikaanse klasse net een groot plesier. Sy sê dat elkeen van haar studente hulle eie storie het oor Suid-Afrika en die mense wat hulle daar ontmoet het. Dit was vir almal erg om weens die reisinperkings wat Covid-19 teweeggebring het nie hierheen te kon reis nie en op ʼn manier het die Afrikaanse klasse troos gebied. Een gemene deler vir hierdie groep is ʼn passie vir Afrikaans, sê sy.
“Die entoesiasme wat ek weer die dag met die braai ervaar het, was groot. Ek het gedink ék is lief vir Afrikaans, maar die groep het net so baie entoesiasme vir die taal. Almal het planne om Suid-Afrika te besoek en ander gaan weer ʼn keer inskryf vir die kursus. Bloot vir die lekkerte.
Ons is mos lief vir Afrikaans!”