Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Iemand het op ’n keer gesê: “Die beste manier om egskeiding te hanteer, is om nie te skei nie …” Beslis waar, maar nie juis realisties gegewe die moderne samelewing nie.
In data gepubliseer in 2019 het Statistiek SA onthul dat vier uit elke 10 huwelike in Suid-Afrika in egskeiding eindig. Suid-Afrika is ook 83ste op die lys van 154 lande vir egskeiding. Die hoofredes vir egskeiding? ’n Gebrek aan liefde, respek of toegeneentheid tussen die partye. Beslis nie die beste omgewing om ’n mens in te bevind nie en veral nie die beste atmosfeer om kinders in groot te maak nie. Tog is dit so dat nie alle huwelike vir altyd hou nie en die meeste egskeidings is ook nie “vriendelik” nie. Dit is laasgenoemde situasie wat die grootste impak op kinders en ouers het. Afrikaans.com het ondersoek ingestel na veral die effek wat egskeiding op kinders het en hoe ouers die situasie kan benader om dit minder traumaties te maak. Die bekende motiveringspreker en ouerskapkenner Nikki Bush, gee ook waardevolle raad.
‘n Benadering van die minste moontlike konflik
Egskeiding het vele gedaantes. Party egskeidings word vinnig afgehandel, maar ander kan jare lank sloer omdat die partye nie langs dieselfde vuur sit nie en mekaar om elke hoek en draai probeer te na kom. Dikwels is dit die onskuldige partye – die kinders – wat die swaarste kry. Daarom is dit so belangrik dat die paartjie wat wil skei liewer saamwerk (Nikki Bush noem dit ’n collaborative divorce), hul verskille opsyskuif en die kinders eerste stel sodat hulle steeds ’n warm en liefdevolle verhouding met albei ouers kan ervaar. Dit is natuurlik makliker gesê as gedaan, maar wel moontlik mits daar genoeg emosionele intelligensie teenwoordig is. Die einddoel: Om die mees positiewe uitkoms moontlik te bewerkstellig.
Wat is nodig?
“Dit gaan nie daaroor dat die een party ten koste van die ander moet wen nie, maar dat die einddoel ’n wen-wen-situasie vir alle betrokkenes moet wees.” – Nikki Bush
- Respek vir mekaar en emosionele volwassenheid. Die partye besluit vooraf om mekaar nie te manipuleer nie, om eerlik te wees en saam te werk.
- Om die behoeftes en belange van almal eerste te stel sodat albei ouers ’n gesonde verhouding met hulle kinders kan handhaaf, selfs al woon hulle apart.
- Die regte span om te verseker dat langtermyn-genesing plaasvind. Dit is mense soos sielkundiges, finansiële kundiges, egskeidingsafrigters en ander terapeute indien nodig.
Die doel is nie om te bewys wie verkeerd was nie, maar om die toekoms positief te benader en deur die seer te groei.
Plaas die ouer-kindverhouding eerste
Volgens Bush is ’n gesonde en sterk ouer-kindverhouding noodsaaklik om ’n kind se emosionele sekuriteit en stabiliteit te verseker sodat hulle nie slagoffers raak wat voel dat hulle tussen hulle ouers moet kies nie. Nie net dra dit by tot die kind se toekomstige stabiele verhoudings met ander nie, maar dit help ook met aanpassing op ander gebiede, soos in die klaskamer, op die sportveld en binne hul sosiale omgang.
Hoe doen ’n mens dit?
- Trek jou grootmensstewels aan en tree soos ’n volwassene op en nie soos ’n kind wat aandag soek nie. Hou in gedagte: Kinders het hul ouers nodig en of jy dit nou wil hoor of nie, ouers het hul kinders nodig. Daarbenewens het kinders gesonde en stabiele rolmodelle nodig sodat hulle met ’n positiewe uitkyk anderkant uitkom.
- Jou kinders se emosionele welstand kry voorrang. Gebruik sover moontlik “ons” in plaas van “ek”, “jou pa”, “jou ma”. Jou kinders moet voel dat julle as ouers hul beste belange op die hart dra.
- Verseker hulle van jul onvoorwaardelike liefde.
- Wees eerlik sonder om onnodige en dalk sensitiewe inligting te deel, soos wanneer daar miskien ’n ander persoon betrokke is.
- Indien moontlik, berei hulle voor op die veranderinge wat gaan plaasvind. Byvoorbeeld waar hulle gaan woon en by watter ouer. Die impak wat dit op hulle skool, buitemuurse aktiwiteite en so meer gaan hê. Waar die ander ouer gaan woon en wanneer en hoe gereeld hulle die “afwesige”ouer gaan sien.
- Wees sensitief vir hulle reaksie en reageer dienooreenkomstig. Die een kind het dalk net ’n drukkie nodig, terwyl die ander kind tyd en ruimte gaan nodig hê om dit te verwerk.
- Moedig kommunikasie aan, luister met aandag en antwoord so eerlik en geduldig moontlik – selfs ’n honderd keer as dit nodig is.

Egskeiding is ’n verlies – hanteer dit sodanig
Kinders ervaar egskeiding soos ’n verlies, en voel onseker omdat daardie belangrike huweliksverhouding tussen hulle ouers – ’n verhouding wat hulle laat veilig voel het – nie meer daar is nie. Boonop moet hulle aanpas by verandering, soos byvoorbeeld:
- Een van die ouers is nie meer elke dag teenwoordig nie.
- Hulle moet dalk verhuis en afstand doen van hul bekende omgewing, hulle tuin, slaapkamer en maats omdat hulle na ander skole toe moet gaan.
- Daar is ook finansiële gevolge en daar is minder geld beskikbaar om die lewenstandaard waaraan hulle gewoond was, te handhaaf. Skielik is daar nie meer geld vir die nuutste tekkies op die mark, of spesiale krieket- of tennisafrigting nie.
Hoe raak dit jou kind se emosies?
Nie twee kinders ervaar egskeiding dieselfde nie, en soms kan kinders selfs verlig voel as hulle ouers skei omdat hulle kan sien die verhouding werk nie en die atmosfeer in die huis gespanne is. Dit mag selfs lyk asof jou kind dit gelate aanvaar.Tog is daar sekere emosies wat deur die meeste ervaar word – al steek hulle dit goed weg. Wat belangrik is, is om jou kind met geduld en empatie deur die proses te help sodat hy “op sy eie tyd deur die proses kan werk en ’n nuwe roetine vestig” en uiteindelik die egskeiding aanvaar. Let op die volgende:
- Skuldgevoelens. Jou kind voel dit is sy skuld dat julle geskei het.
- Jou kind is bang dat een of albei ouers nie meer vir hom lief gaan wees nie. Dit is veral in gevalle waar die ouers ’n nuwe verhouding aanknoop.
- Onsekerheid en angs. Jou kind weet nie hoe om die situasie te hanteer nie en het waarskynlik baie vrae oor die toekoms.
- Dit geld veral vir jonger kinders. Hulle verstaan nie noodwendig alles nie en dink omdat die een ouer reeds weg is, dat die ander ouer ook sal weggaan – daarom wil hy nie van die ouer geskei wees nie.
- Kinders kan verwerp voel, veral as ouers nie tyd maak om met hulle te gesels nie en hulle boonop moet luister hoe hulle ouers oor hulle rusie maak.
- Oordrewe verantwoordelikheid. Jou kind voel verantwoordelik vir die ouer by wie hy nie woon nie en sal dikwels “kant kies” ten koste van die ander ouer.
- Hoop op versoening. Jou kind hoop dat julle jul verhouding sal kan herstel. Dit kan egter daartoe bydra dat die kind langer neem om by die situasie aan te pas. Daarom is dit belangrik om nie vals hoop te skep nie.
- Selfs al het jou kind dit verwag, bly dit steeds ’n skok wat met baie hartseer gepaardgaan.
- Jou kind praat dalk nie daaroor nie, maar kan intense woede teenoor een of albei ouers, homself of sommer die lewe in die algemeen ervaar. Dit kan probleemgedrag tot gevolg hê omdat dit ’n manier is om van hulle emosies ontslae te raak. Daardie “onbeskofte” tiener weet dalk nie hoe anders om hulp te vra nie, of daardie kleuter gooi ’n vloermoer, want hy weet nie hoe om sy gevoelens te verwoord nie.
- Jou kind onttrek, weier om met maats te sosialiseer, wil nie meer aan sport deelneem nie, slaap meer as gewoonlik en toon oor die algemeen tekens van depressie omdat hy magteloos voel om die situasie te verander. Hy kan ook juis meer tyd saam met maats deurbring – om as’t ware die situasie tuis te vermy.
- Skoolwerk kan agteruitgaan. Omdat “jou kind met sy eie gedagtes en emosies worstel, vind hy dit moeilik om op sy skoolwerk te konsentreer”.
So hanteer jy dit …
“Doen wat die beste is vir jou kind sonder om toe te laat dat die seer en bitterheid in jul gesprekke oorneem. Al skei julle van mekaar, skei julle nie van julle kinders nie. En net omdat jy nie ’n goeie huweliksmaat is nie, beteken nie dat jy nie ’n goeie ouer kan wees nie.” – Emsie Martin
Emsie Martin skryf in ’n artikel op Solidariteit se webtuiste (Jou gesin-afdeling) dat ouers die nuus saam moet oordra. Dit is egter belangrik om dit op ouderdomsgepaste wyse te verduidelik. Doen die volgende:
- Verseker jou kind dat dit nie sy skuld is nie en dat daar niks is wat hy kan doen om dit te verander nie.
- Dit is ook belangrik dat jou kind weet dat julle steeds net so lief vir hom is en dat niks dit kan verander nie.
- Sorg dat jy emosioneel sterk genoeg is sodat jy jou kind sinvol kan bystaan om deur die proses te werk. As jy daarmee sukkel, raadpleeg ’n kundige om jou te help.
- Maak seker jou kind voel nie dat hy moet kies tussen sy ouers nie en dat hy steeds ewe lief vir albei kan wees.
- Kinders mag nie by enige konfliksituasies betrek word nie. Dit moet deur volwassenes hanteer word en nie in die kinders se teenwoordigheid nie.
- Wees eerlik en moet NOOIT die ander ouer kritiseer of afkraak nie.
- Onvoorwaardelike ondersteuning en aanmoediging. Jou kind moet weet jy is daar vir hom.
Onthou: Daar is nie ’n tydsbeperking op hoe lank dit jou kind gaan neem om die situasie te aanvaar nie.

Praktiese reëlings
- Besluit wat julle gaan doen en gesels dan met familie, vriende en onderwysers oor jul voornemens om te skei.
- Berei jou kinders voor op wat in die vooruitsig is. Hulle moet weet hoe dit hul gewone roetine gaan raak. Die rede hiervoor is dat kinders dikwels bekommerd is oor die konkrete dinge. Hulle wil weet waar hulle gaan bly, hoe hulle by die skool gaan kom, wat van die hond en kat gaan word, wat vakansies gaan gebeur, hoe dit hulle aktiwiteite en sport gaan raak, hulle verjaarsdae, Kersfees, kuiers by familie, en so aan. (Wenk: Probeer hierdie vrae eers self beantwoord voordat julle met die kinders en die res van die familie gesels.)
- Handhaaf dieselfde dissipline by albei ouers. ’n Skuldgevoel kan veroorsaak dat die kind nie behoorlik gedissiplineer word nie, want niemand wil die “kwaai een” wees nie, maar jy doen nie jou kind ‘n guns deur hom vrye teuels te gee nie. Kinders het grense nodig om veilig te voel. Jou kind gaan nie minder lief wees vir jou omdat jy streng optree nie, inteendeel.
Nog wenke*
- Jou kind is nie jou boodskapper na die ander ouer nie.
- Maak kwaliteit-tyd vir jou kind. Jou onverdeelde aandag is meer werd as al die geld en besittings in die wêreld.
- Gee ʼn mate van beheer en keuses aan jou kind. Dit was nie sy keuse dat jul skei nie. Al die veranderinge is buite jou kind se beheer.
- Kry professionele hulp wanneer jou kind se gedrag en emosies kommerwekkend word.
*Aldus Emsie Martin
Ten slotte
Egskeiding is traumaties vir alle betrokke partye, en dit is veral die kinders wat swaar kry. Ouers word dikwels genoodsaak om ter wille van die kinders se welstand hul eie gevoelens af te skeep, maar dit is juis dan moeiliker om jou kinders te ondersteun. Daarom is dit belangrik om na jouself en jou geestesgesondheid om te sien, kundiges te raadpleeg indien nodig, hulp te vra en te aanvaar en jou eie emosies onder beheer te kry sodat jy die beste moontlike ouer vir jou kind kan wees. Jy as ouer wil dalk so gou moontlik veranderinge in jou lewe aanbring, maar dink mooi daaroor. Jou kind het juis nou stabiliteit nodig en te veel te gou kan jou kind nog meer onseker laat voel. ’n Kind wat gekoester en veilig voel, is ’n gelukkige kind – selfs onder moeilike omstandighede.
Bronne en lees meer:
https://nikkibush.com/collaborative-divorce-a-healthy-alternative-for-families/
https://maroelamedia.co.za/leefstyl/ouerskap/die-effek-van-egskeiding-op-kinders/
https://jougesin.solidariteit.co.za/hoe-om-jou-kind-te-vertel-jy-gaan-skei/
https://www.vrouekeur.co.za/leefstyl/ouerskap/hoe-vertel-jy-die-kinders-dat-julle-gaan-skei