Klassieke musiekliefhebbers se lang wag na ʼn fees in die hartjie van die Klein Karoo, gevul met die mooiste klassieke musiek, is verby.
Klein Karoo Klassique maak ʼn terugkeer na Oudtshoorn met ʼn propvol en opwindende program vanaf Vrydag 5 tot Dinsdag 9 Augustus 2022. Hugo Theart, die artistieke direkteur van die KKNK, is opgewonde oor die terugkeer van Klein Karoo Klassique nadat dit vir twee jaar nie kon plaasvind nie. Die langnaweek in Augustus is dan ook die ideale geleentheid om ʼn fees van hierdie gehalte in Oudtshoorn aan te bied.
Die fees skop op Vrydagaand 5 Augustus om 19:00 af met die Klassique Galakonsert in die Burgersentrum. In hierdie produksies tree lede van die Kaapstad Opera op saam met die uitstekende sopraan Janelle Visagie en die pianis José Dias. Oor die duur van die fees is daar talle uitsonderlike en begaafde klassieke kunstenaars wat hulle talent in ʼn verskeidenheid musiekstyle in Oudtshoorn gaan ten toon stel. Die baie gewilde Steinway-pianis, Charl du Plessis, sluit vanjaar se Klein Karoo Klassique op Dinsdag 9 Augustus af met die vertoning Songs for my Mother waarin hy onder meer die musiek van Chopin, Bach, Brahms en Beethoven speel.
Afgesien van die dertien uitstaande konserte, kan feesgangers ook uitsien na musiekgesprekke, ʼn visuele kunsprogram, boekgesprekke en -verkope en wynproe- en ander proe-ervarings. Oudtshoorn se Burgersentrum vorm die kern van die fees, maar die dorp bied ook ander heerlike eetervarings in verskeie van die restaurante en eetplekke.
ʼn Spesiale kaartjiepakket vir 11 van die 12 uitvoerings is beskikbaar teen R1300, maar enigeen kan ook plek vir individuele uitvoerings bespreek. Vriende van die KKNK kwalifiseer vir ʼn 5%-afslag. Om ʼn vriend van die KKNK te word, besoek www.kknk.co.za. Vir verdere inligting oor die program en die kunstenaars besoek www.klassique.co.za. Kaartjies is beskikbaar by Webtickets, Pick n Pay-winkels reg oor die land of die KKNK-kantoor.