Sny op jou kruideniersrekening
Liewe leser
Dit is geen geheim dat ons buitengewone hoë inflasie in die gesig staar nie. Niemand weet werklik hoe wesenlik dit gaan raak of hoe lank dit gaan aanhou nie. Dit is nou veral tyd om te kyk hoe jy kan sny op daardie inkopiesrekening wat voel asof hy elke maand groei, terwyl die koskaste leeg lyk. Dan sak jou hart ook behoorlik tot in jou skoene elke keer wat jy kos moet weggooi omdat dit verval het voordat jy daarby uitgekom het – dis so goed jy gooi jou geld direk in die asblik.
My pa sê altyd dat Suid-Afrikaners hulle grafte met ‘n mes en vurk grawe, en hoe waar is dit nie. Ek weet ons is almal lief vir kos en ons wil almal lekker eet, dit beteken egter nie dat jy jouself in die skuld in moet eet nie. Ek gaan vir jou ‘n lysie hieronder maak van wenke wanneer dit kom by jou inkopies, want lysies is makliker om in te neem en laat mens georganiseerd voel. Lysies is veral bobaas wanneer jy moet gaan inkopies doen en dit hou jou boonop uit die versoeking uit!
Maar kom ons gesels net eers kortliks oor die samestelling van jou kruidenierswarebegroting:
Die “Koevertjie”-metode werk lekker, veral wanneer jy nog gewoond daaraan moet raak om jou begroting op te deel en verantwoordelik daarby te hou. Min mense koop net een keer per maand kruideniersware, wat dit dus belangrik maak om jou begroting daarvolgens te verdeel – byna asof elke geleentheid se bedrag in sy eie koevertjie is (selfs al is dit in jou rekening en nie in ‘n regte koevert nie). ’n Goeie idee is om die volle bedrag in ’n gratis spaarrekening te sit en net oor te plaas soos beplan wanneer die geleenthede opduik. Hier is ’n voorbeeld van so ’n proses:
- Neem jou maandelikse kruidenierswarebegroting.
- Haal ’n bedrag uit vir naweke – wanneer melk gewoonlik vervang moet word, ensovoorts. Dit voorkom dat jy oor die naweek reeds die volgende week se geld gebruik en met meer maand as geld opeindig.
- Haal ’n bedrag vir “groot inkopies” aan die begin van die maand uit, wat gebruik kan word vir vervanging van byvoorbeeld toiletpapier, seep, sout wat op is, of as jy vleis in grootmaat koop.
- Deel die oorblywende bedrag met die hoeveelheid weke in die maand. Byvoorbeeld:
- R4 500 per maand se inkopies kan vir ’n gewone 4-week lange maand soos volg opgedeel word:
R600 vir naweke (R150 per naweek)
R300 vir vervanging (indien jy vleis in die week koop)
R900 per week.
Wenke vir die kruidenierswareuitstappies:
- Moet nooit honger gaan inkopies doen nie. Jy weet dit so goed soos ek, so pas dit toe. Elke bemarker in die wêreld lag vir jou as jy ’n lekkerny gryp op die rakke by die toonbank. Indien jy weet jy gaan ’n Cheese Puff by Woolworths wil kry as belonging vir die inkopies, werk dit van die begin af in die begroting in.
- Die ander B-vloekwoord: B E P L A N jou inkopies en jou maaltye. Wat het jy in die vrieskas of die koskas? As jy net links en regs die trollies pak, gaan jy waarskynlik môre weer moet winkel toe omdat jy iets kort. En oormôre weer. En die dag daarna. As dit bietjie oorweldigend klink om van geen beplanning na weeklikse beplanning toe te gaan, probeer om jou maaltye en lysies op te stel vir drie/vier dae op ’n slag. Stel eers ’n spyskaart op en gaan dan daardeur en maak seker jy kry die bestanddele vir elke ete. Indien die begroting nie klop nie, pas jou spyskaart aan.
- BYOB – Bring Your Own Bag. Jy doen dan sommer jou deel vir Moeder Aarde ook.
- Maak gebruik van winkels se lojaliteitsprogramme. Suid-Afrika is lief vir hierdie lojaliteitsprogramme, en met goeie rede! Onmiddelike besparings en punte vir later; jy hoef nie eers die kaarte by jou te dra met die StoCard app nie. Jy kan dan jou punte bêre vir Kersgeskenke aan die einde van die jaar, of om jou duur gesigseep te vervang. Sekere puntestelsels by mediese fondse gee selfs vir jou kontant terug as jy slim koop. Jy gaan in elk geval geld spandeer, jy kan netsowel gebruik maak van hierdie voordele.
- Proe die generiese blatjang regtig soveel anders as die fancy schmancy handelsmerke as jy dit in kos gebruik? Hierdie is natuurlik van toepassing op baie generiese produkte.
- Moet nie in grootmaat koop nie – oukei, hierdie wenk is gerig op daardie mense wat dit oordoen. Net omdat die 10 liter mayonnaise op ’n spesiale aanbieding is, beteken nie jy moet dit koop nie, tensy jy beplan om binnekort vir 100+ mense aartappelslaai te maak nie. Dit is nou en dan goedkoper om in grootmaat aan te koop, maar nie altyd nie. Dink prakties, aan jou onmiddelike begroting en behoefte en die koste per eenheid.
- Kyk na uitverkopings terwyl jy die begroting opstel. Meeste winkels se spesiale aanbiedings is beskikbaar op hulle webtuistes of apps. Moet dus nie toelaat dat die uitverkopings in die winkel jou skielik onkant betrap en al jou beplanning by die venster uitgooi nie.
- Vergelyk pryse. Dit neem jou minder as 30 sekondes om net gou deur die pryse op die rak te loer vir die goedkoopste opsie. Hoekom dan nou dubbel betaal vir dieselfde grootte halfdosyn eiers as wat jy hoef?
- Probeer die bekende “Meatless Monday”. Ek weet, dis nie ‘n ete tensy daar vleis is nie, is baie van ons se oortuiging, maar jy sal oorleef en dit sny baie op die week se uitgawes. Probeer om aanvanklik ’n ete rondom spek of biltong te maak, sodat vleis nie jou hoofbestanddeel is nie. Etes soos gevulde aartappels en slaai, of ’n tamatie-pasta, werk perfek!
- KEN JOU PRYSE. Weet jy hoeveel keer flous winkels jou deur net te sê iets het ’n spesiale prys en dan vang hulle jou omdat jy nie die gewone prys ken nie?
- Koop peuselhappies vir die week en gebruik sommer oorskiet vir middagete – sodat jy nie op die ingewing van die oomblik winkel toe gaan en die begroting breek agter lus aan nie.
- Begroot vir die parkeergeld!
- En om hemelsnaam, rasper jou eie kaas!
As jy net een van die wenke gaan gebruik, maak dit ’n goeie een en begin beplan. Begin net iewers en werk daarmee. Daar is nog honderde soortgelyke wenke, maar dis beter om eers die fondament te lê as om jouself in ’n posisie te plaas waarin jy oorweldig voel en faal nog voordat jy begin het.
Hierby is ‘n Excel– en/of PDF-templaat om jou te help met die beplanning van jou weeklikse inkopies, met spasie vir jou spyskaart daarby. Jy kan jou begroting daarin sit en sommer seker maak hy klop nog voordat jy in die winkel is. Wanneer jy in die winkel is en spaar, tel die besparings op soos jy vorder en bederf jouself – selfs al beteken dit net jy kan daardie parmesan vir vanaand se pasta ook bekostig.
Daarsy! Ek hoop jy kry sommer baie gespaar met jou volgende uitstappie winkels toe. Maak dit ‘n uitdaging.
Spandeer slim, spaar baie én eet lekker.
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!

