Kinders en finansies
Liewe leser
As ouer, wil mens natuurlik die beste vir jou kinders hê. Dit beteken nie altyd die beste luukshede nie, maar die beste kans om eendag ook goed te vaar in hulle eie lewens met die nodige vaardighede en kennis om ingeligte besluite te kan neem. Wêreldwyd kan net ‘n handjievol mense aftree en dieselfde standaard leefstyl handhaaf, om nie eers te praat van hoe min ‘n begroting kan baasraak of ‘n fnuikspul uitken nie. Om jou kinders te leer van finansies van ‘n jong ouderdom af, is waarskynlik een van die beste dinge wat jy vir hulle kan doen, want jy gee al sommer vroeg vir hulle die sleutel vir die deur na finansiële vryheid en wesenlik minder slapelose nagte.
Een van die hindernisse in hierdie proses is egter dat daar nie noodwendig ‘n gids vir elke ouderdomsgroep bestaan of ‘n spesifieke stap-vir-stap- proses nie. Elke kind leer op ‘n ander manier, elke gesin se finansiële omstandighede verskil en natuurlik so ook die gereedskap tot hulle beskikking. Hoe jonger kinders is wanneer hulle blootgestel word aan hierdie lesse, hoe langer het hulle natuurlik om dit deel van hulle denkproses te maak, maar hoe kreatiewer moet jy as ouer ook wees. As ‘n kleuter byvoorbeeld, is geld vir jou ‘n abstrakte konsep; nog meer so met dié dat meeste transaksies deesdae digitaal plaasvind en kontant nie meer koning kraai nie.
Hier is ‘n paar dinge wat jy kan oorweeg in hierdie reis met jou kinders:
- Dit is belangrik dat jy self bemagtig is en word om jou kinders te kan lei in voorbeeld. Die eerste manier hoe kinders leer, is deur na hulle ouers te kyk.
- Daar is vier kategorieë waarmee hulle kennis behoort te maak, naamlik spandeer, spaar, belê en gee. ‘n Vyfde onderwerp is natuurlik die konsep van ‘verdien’ om die idee dat geld op ‘n mens se rug groei, te beveg. Kinders behoort nie geld te kry net om asem te haal nie.
- Probeer om die konsep van geld vir hulle minder abstrak te maak wanneer hulle eers begin en eerder nou en dan met kontant te werk en hulle toe te laat om saam met jou die geld uit te tel, die item te kies en seker te maak hulle betaal met die regte hoeveelheid.
- Dit is nie ‘n afmerklysie nie, maar ‘n 18 jaar lange reis wat jy met jou kind stap.
- Leer vir hulle die konsep van rente en hoe belangrik die effek van saamgestelde rente is as jy jou geld vir langer belê. Byvoorbeeld: Wanneer hulle geld verdien, kan hulle vier spaarblikkies hê (verkieslik deurskynend) vir elke kategorie. Vir die geld wat hulle in die spaarvarkie sit, kan jy vir hulle vir elke rand gespaar, vyftig sent by gee sodat hulle kan sien dat jy beloon word as jy spaar. Jy kan dalk vir elke maand wat die rand gespaar word, ekstra rente gee sodat hulle die effek van die langtermyn kan voel.
- Wanneer hulle aankope bo ‘n sekere bedrag wil maak, laat hulle eers ten minste ‘n dag wag. As dit byvoorbeeld ‘n pop of karretjie is bo R150, sê dan dat julle die volgende dag kan terug kom sodat hulle eers hulle geld kan tel by die huis en seker maak. Dit leer dat onmiddellike bevrediging (instant gratification) jou soms in die sop kan laat beland en leer hulle om eers deeglik te dink oor groter aankope.
- Ouer kinders, kan natuurlik ‘n bankrekening kry en jy kan vir hulle die basiese funksies van aanlyn dienste leer sodat hulle kan sien hoeveel geld in hulle rekening is. Meeste banke bied goedkoop bankdienste vir kinders en selfs gratis addisionele spaarrekeninge daaraan gekoppel.
- Laat jou kinders vroeg die belonende gevoel ervaar wat gepaard gaan met gee. Hulle kan dalk ‘n speelding koop vir ‘n projek rondom Kersfees of vir iemand ‘n roomys koop met hulle eie geld.
- Praat. Volgens verskeie navorsingstukke verkies ouers om nie finansies met hulle kinders te bespreek nie sou kinders verkies om meer by hulle ouers te leer oor finansies. Praat om die etenstafel oor die finansies, laat hulle toe om dinge te verstaan en te sien hoe werk dit daar buite.
- Laat hulle vroeg met die toepassing van ‘n begroting werk. Byvoorbeeld, laat hulle ‘n begroting vir verjaarsdagpartytjies voorlê.
Kennis is mag; bemagtig jouself en die generasies na jou om ‘n lewe met balans en finansiële vryheid moontlik te maak.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!