Persverklaring
“‘n Historiese gebeurtenis. Wat ’n belewenis! Daar is ’n knop in my keel.”
Só het van die doofblinde gehoor Vrydag na afloop van hul eerste teaterervaring reageer. Die geleentheid is deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) aangebied en in die Danie Luckhoffsaal by Innovation for the Blind in Worcester gehou.
Meer as 20 mense met verskillende grade van die dubbele sensoriese gestremdheid het die geleentheid gehad om die opvoering van Oskar en die Pienk Tannie te beleef. Die verhoogstuk is deur die legendariese aktrise en die voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans, Sandra Prinsloo, opgevoer.
Die ervaring was nie net vir van die doofblindes ’n eerste nie, maar ook vir Prinsloo. Prinsloo het die oorspronklike emosionele en humoristiese verhoogstuk verkort om die mense wat vir die doofblinde gehoor getolk het kans te gee om die storie soos dit op die verhoog opgevoer word, te vertolk.
“Ek was bietjie senuweeagtig oor of dit sou werk. Die terugvoer wat ons gekry het, dui wel aan dat dit bo verwagting goed gegaan het. Daar is van die mense wat nou graag die hele vertoning wil sien. Ons kan dit gerus in die toekoms meer doen.”
Volgens Prinsloo was dit vir haar ook ’n emosionele ervaring. “Ek is baie ontroerd oor hoe ontvanklik die gehoor was en oor hoe hulle gelag het en deel wou hê aan die opvoering.”
Die doofblindes wat die opvoering bygewoon het, se vlak van gestremdheid verskil van persoon tot persoon. Daarom is hul sitplekke hiervolgens gerangskik sodat hulle die meeste uit die toneelstuk kon kry. Benewens dít het van hulle hul eie tolke gehad, maar van die tolke het vir twee persone op ’n slag getolk.

Mamma is tolk vir beide haar kinders op een slag.

‘n Swaksiende vrou en haar tolk lees hier die teks van Oskar en die Pienk Tannie.

Sandra Prinsloo in Oskar en die Pienk Tannie.
Anroux Marais, Wes-Kaapse minister van kultuursake en sport, Antoinette Steyn, die uitvoerende burgemeester van die Breedevallei, dr.Niel le Roux, hoof van die SBA, dr Johan Pretorius, Wes-Kaapse bestuurder van DoofBlindSA en Rochelle McDondald, nasionale ontwikkelingskoördineerder van DoofBlindSA was van die ander eregaste wat ook die geleentheid bygewoon het. Marais en Steyn het die SBA geloof vir hulle openhartigheid en hul betrokkendheid by die doofblind-gemeenskap.
Niel le Roux sê die SBA het ’n mandaat om jaarliks op ’n projek te fokus wat mense met gestremdhede help.
“Ons het al byvoorbeeld gebaretaal-opnames van wetenskapeksperimente laat doen, boeke laat brailleer, persone in rolstoele na die teater geneem, ’n kinderinkleurboek aangepas vir kinders met leeruitdagings, en tablette geskenk aan kinders met disleksie om hulle beter te laat lees.
“Ons doen ook verklanking en voorlesings van publikasies en maak seker ons het onderskrifte by ons video-opnames.
“Vanjaar is dit om doofblindes teater te laat ervaar, ’n konsep totaal buite hul verwysingsveld, met ’n opvoering wat vir elkeen individueel getolk sal word. Ek wil my verstout om te sê dit is die eerste in die wêreld dat so iets aangepak word en alle eer aan Sandra Prinsloo, ons voorsitter, wat bereid is om ’n stuk in ‘stop and go’ te speel ter wille van die vertolking.”
Pretorius, Wes-Kaapse bestuurder van DoofBlindSA was baie ingenome met al die rolspelers wat die geleentheid moontlik gemaak het. Hy sê die opvoering vir die groep was ’n “baie goeie deurbraak.” “Ek het ’n knop in my keel gehad.”
Volgens hom ervaar doofblinde mense baie uitdagings.
“Mense met dubbele sensoriese gestremdheid word baie gemarganaliseer. Ons is gewone mense met gevoelens. Ons kan seerkry en ons kan liefhê.”
Jeanne Steenkamp, Prinsloo se verhoogbestuurder wat al 14 jaar saam met Prinsloo die verhoogstuk doen, sê die opvoering was vir haar ook ’n unieke belewenis. “’n Mens dink jy kom om vir iemand iets te doen en dan doen hulle eintlik iets vir jou.”

Michelle Benardie tolk hier vir Garth Cannear.

Sandra het van stoel na stoel beweeg sodat die mense in die gehoor haar gesig kan voel om haar karakter beter te verstaan.

Die SBA se personeel het klein stelle van die verhoog vir die teatergangers gegee om aan te voel.