Hierdie gebakte suurlemoenpoeding met sy soetsuursous onder in die bak, is alombekend en op ’n koue dag maak dit sommer jou hart én maag warm. My ma, Letteli Nel, het eendag besluit om grenadellapulp by die beslag te roer en wat ’n verrassing! Nou is dit ons ‘onthoukos’, want my kinders vra altyd dat ek die poeding so moet maak.
Lewer 4 – 6 porsies
45 ml (3 e) botter
300 ml (240 g) suiker
sap en fyngerasperde skil van 2 suurlemoene
80 ml (⅓ k) koekmeel
4 eiers, geskei
250 ml (1 k) melk
250 ml (1 k) room
2 x 115 g-blikkie of 300 ml vars grenadellapulp
ekstra grenadellapulp en fyngerasperde suurlemoenskil vir garnering
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n vlak 3-liter oondbak liggies met botter.
- Klits botter en suiker met ’n elektriese klitser in ’n mengbak saam. Voeg suurlemoensap en -skil by en klits goed.
- Klits meel, eiergele, melk en room by. Die mengsel mag dalk skif, hou net aan met klits tot goed gemeng – dit sal nie die resultaat beïnvloed nie. Roer die grenadellapulp by.
- Klits eierwitte in ’n skoon mengbak (en met silwerskoon klitsers) tot stywepunte vorm. Vou versigtig met ’n groot metaallepel by die suurlemoenmengsel in.
- Skink die beslag in die gesmeerde bak. Plaas die bak in ’n groot oondpan en skink kookwater rondom sodat die bak halfpad in water staan. Dit laat die beslag egaliger bak.
- Bak vir sowat 40-45 minute of tot dit gaar en goudbruin bo-op is. Toets met ’n toetspen om seker te maak die boonste ‘deeg’-lagie is gaar. Die sous wat onderin vorm, mag dalk die poeding effens ‘rou’ laat vertoon, maar as die boonste laag gaar is, is die poeding gereed.
- Skep ekstra grenadellapulp en suurlemoenskil bo-op en sit dadelik voor, sodat die poeding nie sy volume verloor nie.
Resep uit Onthoukos, deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira