’n Geurige kombinasie van groente, spek en ’n bietjie balsamiese asyn vir ’n vinnige ontbyt of ligte ete. Onthou dat sampioene moet “piep” as dit in ’n pan gesoteer word, wat ’n goeie teken is dat die pan warm genoeg is. Sampioene moet vinnig braai sodat dit nie vog uitstoot en op die ou end stowe of kook, in plaas daarvan om te braai nie. Soteer sampioene in klein hoeveelhede op ’n slag en moenie te veel olie gebruik nie.
Lewer 4 – 6 porsies
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
250 g spek, in breë repe gesny en oortollige vet verwyder
250 g bruin sampioene, in kwarte gesny
200 g kersietamaties
30 ml (2 e) balsamiese asyn
sout en peper
100 g babaspinasie
- Verhit ’n klein bietjie olie oor matige hitte in ’n braaipan. Braai die spek tot goudbruin en bros. Skep uit en hou eenkant.
- Verhit die res van die olie in dieselfde pan en soteer die sampioene tot aromaties. Voeg tamaties by en soteer tot deurwarm en die skilletjies begin oopbars. Stel die hitte laer.
- Voeg die balsamiese asyn by en roer die spek by tot deurwarm. As die pan te warm word, haal vir ’n rukkie van die stoof af.
- Geur na smaak. Roer die spinasie deur. Maak seker dat dit met die sous bedek word. Die spinasie lyk aanvanklik te veel, maar word vinnig minder soos dit gaar word.
- Haal die pan van die stoof af sodra die spinasie begin sag word, want dit moet nog heldergroen wees. Pasop vir te lank kook.
- Sit dadelik voor met brood en ’n ekstra skeut olyfolie.
Resep: Maak vyf, deur Heleen Meyer| Fotograaf: Neville Lockhart
Wenke
- Sit die groente met eier (na jou smaak gaargemaak) voor om dit meer vullend te maak. Of skep die groente op Franse roosterbrood.
- Roer die sampioen-en-spekmengsel by gaar pasta vir ’n ligte aandete.