Vis in ’n geurige sous gebak, is ’n maklike gesinsete. Bevrore vis kan nét so in die sous, in die oond gebak word. Met ’n basiese tamatiesous soos hierdie, is niks meer nodig om dit smullekker te maak nie.
Lewer 8 porsies
Sous
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
2 uie, gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
15 ml (1 e) gerasperde vars gemmer
2,5 ml (½ t) vinkelsaad (opsioneel)
2 wortels, grof gerasper
2 x 410 g-blikke gekapte of heel, geskilde tamaties
30 ml (2 e) gedroogde gemengde kruie of origanum
75 ml (5 e) gekapte vars kruie van jou keuse, soos Italiaanse pietersielie of origanum
1 lourierblaar
15 ml (1 e) balsamiese asyn
10 ml (2 t) sagte bruinsuiker
suurlemoensap, sout en swartpeper na smaak
Vis
ongeveer 900 g – 1 kg bevrore stokvisporsies
10 ml (2 t) olyf- of avokado-olie
’n handvol vars Italiaanse pietersielie- en origanumblare en suurlemoenwiggies om mee voor te sit
- Sous: Verhit olie oor matige hitte in ’n kastrol en soteer uie en knoffel tot sag. Voeg gemmer, vinkelsaad (opsioneel) en wortels by en soteer vir nog ’n paar minute.
- Roer tamaties, gedroogde en vars kruie, lourierblaar, asyn en suiker by. Prut oor ’n lae hitte, sonder ’n deksel, vir 20-30 minute of tot die sous effens verdik het en geurig is. Geur na smaak, verwyder die lourierblaar en verpulp met ’n stokmenger.
- Vis: Voorverhit die oond tot 200 °C. Skep ’n laag van die warm sous in ’n oondbak.
- Plaas die bevrore vis in die sous en geur na smaak. Skink die olie oor die vis en skep die orige sous eweredig bo-oor.
- Rooster vir 35-40 minute of tot die vis net gaar is en maklik met ’n vurk vlok. Moenie die vis te lank gaarmaak nie – dan kan dit droog wees.
- Sit die vis en sous met vars kruie, suurlemoenwiggies, ’n groen groente en stysel van jou keuse voor. Iets soos kapokaartappels of koeskoes, met suurlemoen, kruie en olyfolie gegeur is heerlik met die sous.
Resep uit Maak vyf, deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Porsies vars lynvis of klein heel sardyne kan in plaas van bevrore vis gebruik word. Vars vis sal vinniger rooster, so kyk na 20-25 minute of dit al gaar is.
- Die sous kan in grootmaat voorberei word. Vries in porsies en gebruik vir pasta, oor mieliepap met braaivleis of met ’n stukkie wors of steak. Porsies hoender is net so lekker in die sous.