Het jy lekker herinneringe van ’n karringmelkpoeding? Jare gelede het ek ’n boek met die naam Onthoukos geskryf en mense vir hul ‘onthou’-resepte gevra. Hierdie eenvoudige, maar heerlike poeding het ek op ’n keer by Marietjie Pauw-Conradie geëet. Sy het dit by haar niggie Maria Kroes gekry wat dit weer uit háár ma, Mariëtta Heese se resepteboek afgeskryf het. En so duur die ‘aangee-proses’ steeds voort. My bydrae is die bessiesous om dit mee voor te sit – lipafleklekker!
Lewer 4 – 6 porsies
100 ml (100 g) botter
200 ml (160 g) suiker
3 ekstra-groot eiers
250 ml (140 g) koekmeel, gesif
10 ml (2 t) bakpoeier
5 ml (1 t) vanieljegeursel
2 ml sout
1 liter (4 k) karringmelk
Bessiesous
250 g gevriesde bloubessies, ontdooi
75 ml (5 e) strooisuiker
5 ml (1 t) fyngerasperde suurlemoenskil
15-30 ml (1-2 e) suurlemoensap of na smaak
- Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n vlak, 2-liter oondvaste bak liggies met botter.
- Klits botter, suiker en eiers saam tot lig en donsig. Klits die res van bestanddele by.
- Skep in die gesmeerde bak en bak vir 45 minute of tot gestol en ligbruin bo-op. Bedek vir die laaste deel van die baktyd met foelie as dit te donker word bo-op.
- Bessiesous: Meng intussen al die bestanddele met ’n stokmenger saam tot glad. Skink in ’n klein kastrolletjie en bring net tot kookpunt terwyl dit geroer word.
- Sit die bessiesous warm of teen kamertemperatuur met die warm poeding voor. Of sit die poeding met seisoensvrugte en ’n lekseltjie loperige heuning voor. Lemoen, aarbeie of ander bessies sal lekker wees. Jy sou selfs lepeltjies soet marmelade met die poeding kan voorsit.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira