Daar is baie resepte vir tamatiesop, maar hierdie is beslis my gunsteling! Dis so maklik en vinnig om te maak en elke keer wat ek dit voorsit, vra iemand vir die resep. Sny die groentes min of meer ewe groot, sodat dit gelyktydig rooster. Dis ’n dik en geurige sop en kan selfs vir ’n spesiale ete voorgesit word.
Lewer 4 – 6 porsies
1 kg ryp tamaties, in wiggies gesny
300 g kersietamaties, gehalveer
2 uie, in wiggies gesny
2 groot rooi soetrissies, ontpit en in repe gesny
2 wortels, geskil en in skywe gesny
2 preie, in dik skywe gesny
2 knoffelhuisies, in kwarte gesny
45 ml (3 e) vars tiemieblare
45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie
suurlemoensap, sout en peper
750 ml (3 k) sterk Rooibostee of groente-aftreksel
- Voorverhit die oond tot 180 °C.
- Plaas al die groente, knoffel, tiemie en olie in ’n groot mengbak en meng goed deur.
- Plaas die groentemengsel in ’n enkellaag op die bakplaat of in ’n groot oondbak. Geur na smaak met suurlemoensap, sout en peper.
- Rooster vir 40-45 minute of tot die groente gaar en goudbruin, maar nie te donker is nie. Haal enige groentestukkies uit wat te donker is of effens gebrand is.
- Plaas die geroosterde groente in ’n groot kastrol, maar hou ’n paar kersietamaties eenkant. Roer die tee of aftreksel by die groente en meng met ’n stokmenger tot verpulp. Geur na smaak en verhit tot deurwarm. Voeg ’n bietjie water by indien dit te dik is.
- Sit warm voor met die behoue tamaties, vars basiliekruidblare of -pesto, suurroom of ’n skeut olyfolie.
Resep uit Maak vyf, deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Berna Coetzee
Wenke
- Geur die sop met gewone of gerookte paprika na smaak.
- Spek of dun skyfies chorizo-worsies is heerlik in die sop. Onthou net dat beide baie sout kan wees, so moenie te veel sout in die sop gebruik nie.