Meksikaanse kos is bekend daarvoor dat dit ’n wonderlike kombinasie van geure en teksture is. Chilli con carne is ’n maalvleisgereg met tamaties, paprika, komyn, koljander en ’n bietjie brandrissie. Probeer gerus hierdie weergawe met hoender. Die hoendervleis word gepluis en in tortillas met ’n verskeidenheid bykomstighede voorgesit. Dit is ’n heerlike gesellige manier om saam te eet en te kuier. As jy van meer skop hou, kan ekstra jalapeños na smaak by die hoender geroer of op tafel voorgesit word.
Lewer 4 – 6 porsies
20 ml (4 t) olyfolie
4-6 hoenderborsies aan die been, gehalveer (sien wenke)
2 middelslag uie, gekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1 rooi soetrissie, ontpit en in blokkies gesny
1-2 klein rooi brandrissies, gekap (sien wenke)
5-10 ml (1-2 t) rooipeper, of na smaak
5 ml (1 t) paprika
10 ml (2 t) gemaalde komyn
10 ml (2 t) gemaalde koljander
125 ml (½ k) lemoensap
1 x 410 g-blik gekapte tamaties
1 x 50 g pakkie (50 ml) tamatiepasta
30 ml (2 e) gekapte vars origanum
2 lourierblare
1-2 heel steranys
sout en swartpeper na smaak
1 x 410 g-blik rooi nierboontjies, gedreineer
Om mee voor te sit
6-12 klein sagte tortillas
suurroom of ongegeurde jogurt
vars koljanderblare
suurlemoenwiggies
avokado
vars salsa, sien die voorstelle in stap 7 in die resep
- Verhit helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot kastrol en verbruin die hoenderborsies aan beide kante. Skep dit uit en hou eenkant.
- Verhit die orige olie en soteer die uie, knoffel en soetrissie tot sag. Roer die brandrissies en speserye by en soteer tot aromaties.
- Voeg die hoenderborsies, lemoensap, tamaties, -pasta, origanum, lourierblare en steranys by die groente en roer goed deur. Verhit net tot kookpunt en sit die deksel op.
- Verlaag die hitte en prut 20 minute of tot die hoender net gaar, maar beslis nie droog is nie.
- Skep hoender uit en laat effens afkoel. Ontbeen en ontvel die hoender en pluis die vleis in repies. Plaas weer terug in die warm sous.
- Geur na smaak en roer die boontjies by. Prut nog 10 minute met die deksel tot deurwarm en geur verder indien nodig.
- Sit hoender met warm tortillas, suurroom of jogurt, vars koljanderblare en suurlemoenwiggies voor. Ander vars elemente wat heerlik is daarmee saam, is avokado, tamatie en ’n salsa. Gebruik bestanddele soos kool, pynappel, komkommer, soetrissie, swartboontjies, sprietuie of mieliepitte vir ’n kleurvolle salsa wat ekstra kleur en tekstuur aan die ete gee.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Sny heel hoenderborsies aan die been met ’n skerp kombuisskêr in die helfte, dan word dit vinniger gaar.
- Daar is ’n verskeidenheid brandrissie-variëteite beskikbaar. Brandrissies kan ontpit word om die hitte minder te maak, of sit dit heel in die sous en haal dit uit voor die vleis voorgesit word. Dit sal die vleis geur, maar minder sterk wees.