’n Quiche is perfek as ligte ete of vir ’n teetafel. Hierdie kors is maklik om te maak en te hanteer, want dit hoef nie uitgerol te word nie. Die kombinasie van botterskorsie, rooi uie, tiemie en kaas as vulsel is heerlik.
Lewer 6 – 8 porsies
Kors
200 g (360 ml) koekmeel
’n knippie sout
30 ml (2 e) sesamsaad
80 g (80 ml) harde botter, in blokkies gesny
125 g gladde geroomde maaskaas
Vulsel
400 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
3 groot rooi uie, gehalveer en in wiggies gesny
30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
30 ml (2 e) vars tiemieblare
30 ml (2 e) sagte bruinsuiker
30 ml (2 e) balsamiese asyn
sout en peper na smaak
250 ml (1 k) melk
3 ekstra-groot eiers
15 ml (1 e) vars tiemieblare
125 ml (½ k) fyngerasperde pecorino- of wit cheddarkaas
- Kors: Plaas die meel, sout, sesamsaad en botter in ’n voedselverwerker en meng tot dit soos broodkrummels lyk. Voeg die maaskaas by en meng net tot ’n sagte bal deeg vorm. Moenie te veel meng nie. Vorm die deeg versigtig in ’n dik wors, bedek met kleefplastiek en plaas 30 minute in die yskas.
- Vulsel: Voorverhit intussen die oond tot 200 °C. Plaas die botterskorsie en uie in ’n groot mengbak. Roer die olie, tiemie, suiker en asyn by tot die groente deeglik met die oliemengsel bedek is. Geur na smaak.
- Skep die mengsel op ’n groot bakplaat en rooster 15-20 minute of tot die botterskorsie net sag en goudbruin is.
- Sny intussen met ’n tandjiesmes 0,5 cm-skywe van die verkoelde deeg. Voer die bodem en kante van ’n 23 cm-losboomquichepan of oondvaste tertbak met die skyfies deeg uit. Plaas die deegskyfies teen mekaar en druk die rande liggies saam om ’n eweredige kors te vorm. Of rol die deeg op ’n liggies met meelbestrooide oppervlak uit en voer die pan daarmee uit.
- Druk die deeg liggies om die vorm van die pan aan te neem. Sny enige oortollige deeg om die bo-rand af. (As die quiche nie dadelik gebak gaan word nie, kan die deeg met kleefplastiek bedek en in die yskas verkoel word.)
- Skep die botterskorsie en uie in die kors en versprei eweredig.
- Klits die melk, eiers en tiemie saam, geur na smaak en roer helfte van die kaas by. Skink melkmengsel versigtig oor die groente en strooi die orige kaas oor.
- Bak 35-40 minute of tot die eiermengsel net gestol het. Laat die quiche vir 10 minute rus en sit dan warm of teen kamertemperatuur voor. As maaltyd is ’n groenslaai van slaaiblare, komkommer, liggies gestoomde groenboontjies en geroosterde sonneblomsade regtig lekker.
Fotokrediet: LiG-tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenk
- Meng 15-30 ml (1-2 e) sesamsaad by die melkmengsel in.