Bobotie in ’n nuwe jassie. Maak sommer ’n dubbele maalvleismengsel, gebruik een deel vir aandete (sien wenk) en bak die res as ‘bakkies’ vir die gesin se kosblikke. Dis ewe lekker koud en baie vullend. Die bobotie-bakkies vries uitstekend, so dis ideaal as jy vinnig iets vir ’n ete of kosblik nodig het.
Lewer 6 porsies
15 ml (1 e) olyf- of avokado-olie
1 kg beesmaalvleis
2 middelslag uie, fyn gekap
2 knoffelhuisies, gekneus
20 ml (4 t) kerriepoeier
15 ml (1 e) elk gedroogde gemengde kruie, gemaalde komyn en koljander
5 ml (1 t) elk borrie en gemaalde gemmer
125 ml (½ k) rou hawermout
250 ml (1 k) Rooibostee of kookwater
20 ml (4 t) gladde appelkooskonfyt
75 g (125 ml) rosyntjies of sultanas (opsioneel)
45 ml (3 e) rooiwynasyn of suurlemoensap
sout en swartpeper na smaak
8 eiers, geklits
- Verhit helfte van die olie oor matige hitte in ’n groot kastrol en verbruin helfte van vleis. Skep uit, hou eenkant en herhaal met orige vleis en olie.
- Soteer uie in die pan tot sag en voeg knoffel, kerrie, kruie en speserye by en soteer nog 1-2 minute. Roer hawermout met Rooibos of water en vleis by uie en meng goed deur.
- Verlaag temperatuur en prut met deksel vir 20 minute. Roer konfyt, rosyne of sultanas (opsioneel) en asyn of suurlemoensap by en geur vleis na smaak. Laat mengsel effens afkoel voor dit met die eier gemeng word, as jy die bobotiebakkies gaan bak.
- Voorverhit oond tot 180 °C en smeer ’n muffinpan liggies met olie of sit muffinpapiertjies in elke holte. (Sien wenk.)
- Meng eiers deur die gaar vleismengsel and skep in muffinpan. Bak 20-25 minute of tot gestol.
- Laat ’n paar minute afkoel en skep versigtig uit. Laat afkoel en hou in die yskas tot dit in die kosblikke gepak gaan word. Dis ook ideaal vir ’n piekniek.
Fotokrediet: Heleen Meyer
Wenk
- Bak die bobotiemengsel soos gewoonlik met ’n bolaag van 2-3 eiers en 250 ml karringmelk in plaas van die 8 eiers.