Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die onlangse wedstryd tussen die Springbokke en Wallis in Bloemfontein was weereens ‘n voorbeeld van sekere toeskouers wat klaarblyklik nie die konsep van goeie sportmanskap verstaan nie en is die wedstryd deur onnodige uitjouery versuur. Trouens, swak sportmanskap kom op alle vlakke en in alle sportsoorte voor. Ja, soms in die hitte van die stryd, kan ‘n mens seker jou koelkop effens verloor, maar dit plaas ‘n demper op iets wat eintlik daar is om geniet te word. ‘n Mens kan seker redeneer dat geldsport ‘n groot aandeel daarin het, maar wat dan van op skoolvlak, waar veral ouers hul daaraan skuldig maak en skeidsregters en ander leerders links en regs aangevat word omdat hulle bloedjie nie vir die span gekies is nie, of te hard geduik is, of tevrede moet wees met tweede of derde plek. Afrikaans.com het die volgende riglyne saamgestel om gesonde sportmanskap te kweek in spanverband of as individuele deelnemers.
- Respek. Behandel jou mededinger met die nodige respek en behou jou waardigheid wanneer jy verloor.
- Karakterbou. Sport bou karakter. Daarom is dit belangrik om dit te geniet en nie net ingestel te wees op die wen nie.
- Waardes. Goeie waardes bepaal hoe jy jou mededinger sal behandel.
- Reёls. Hou by die reёls van die spel. Die skeidsregter is daar om die spel te beoordeel en ordelik te laat verloop en daarom moet jy jou aan sy oordeel onderwerp.
- ‘n Tyd en ‘n plek vir alles. Kwessies (ten opsigte van die reёls of beslissings) wat dalk na afloop van die wedstryd bespreek moet word, moet op ‘n geskikte plek, tyd en platform geskied – nie in die openbaar nie.
- Gee die keiser wat hom toekom. Gun ander die sukses wat hulle toekom. Al wen jy of jou span nie, leer sportmanskap jou om regverdig op te tree.
- Teleurstelling. Sportmanskap leer ‘n mens om grootmoedig op te tree en om teleurstellings te verwerk.
- Uitdaging. Nie alles kom maklik nie. Uitdagings is deel van die lewe en waar beter om daaroor te leer as op die sportveld.
- Onnodige druk. Soms is verwagtinge onrealisties en word deelnemers onderwerp aan druk van ouers, medespanlede, onderwysers, afrigters en selfs die gemeenskap. Dit is wanneer om ten alle koste te wen, ongeag die omstandighede, oordryf word en almal betrokke benadeel.
Kweek só sportmanskap by jou kind
“’n Kind kan slegs ’n waardige wenner wees as hy geleer het hoe om ’n waardige verloorder te wees. Vra jouself af: Wil jy hê die kind moet ’n wenner of ’n aanpasbare, kreatiewe kind wees wat weet hoe om met ander saam te werk?” – Wendy Maartens, skrywer. (In Vlermuis loop hom vas. Wen is nie alles nie.)
- Stel self die voorbeeld. Beteuel jou humeur en gedrag langs en op die sportveld.
- Lê klem op spangees en dat sport daar is om geniet te word.
- Leer jou kind dat nie almal altyd kan wen nie, maar dat wanneer jy of jou span verloor, dit as aansporing moet dien om harder te werk en te verbeter. ‘n Mens kan altyd iets by ander leer.
- Moenie ander blameer nie. So leer jou kind om verantwoordelikheid te aanvaar.
- Om te verloor is ‘n belangrike lewensles. Jou kind moet van kleins af leer dat hy soms gaan verloor. Daarom is dit belangrik dat hy so nou en dan ‘n speletjie verloor (soos bordspel of kaarte) sodat jy hom kan help om dit reg te hanteer.
- Niemand hou van ‘n swak verloorder nie. “As jou kind kwaad raak wanneer hy verloor, vra hoe hy sou voel as sy maat so teenoor hom sou optree.”
- Kweek ‘n gesonde selfbeeld by jou kind. Hy hoef nie persoonlik verantwoordelik te voel vir sy span se spel nie. Boonop gee dit hom selfvertroue om deel te neem.
- Leer jou kind om eerstens teen homself mee te ding. Om sy eie talente te slyp en prestasies te verbeter.
- Leer jou kind dat as hy ten spyte van sy bes doen steeds verloor, dit goed genoeg is en hy beslis nie ‘n swakkeling is nie. Om betrokke te wees, is net so belangrik.
- Prys jou kind vir goeie spel, ongeag die uitslag. Maar, beklemtoon ook dat almal soms foute maak.
- Help jou kind om sy talente te ontwikkel – dit hoef nie noodwendig op die sportveld te wees nie. Fokus dus op sy sterk punte. Dalk is hy meer van ‘n kultuurkat en kom sy talent op die verhoog of kitaar in die hand, na vore.
Om nie grootkop te kry nie …
Die sogenaamde brekers of “jocks” op skool en universiteit, kan ‘n mens soms warm onder die kraag maak met hulle selfbelangrikheid. Daarom is dit nodig om kinders van jongs af te leer hoe om hul prestasies met nederigheid en dankbaarheid te hanteer.
Gee erkenning. Kinders wat goed en buitengewoon presteer, moet die nodige erkenning kry. Ons almal hou daarvan om op die skouer geklop te word. Dit gaan nie die kind ‘n grootkop gee nie.
Leer jou kind om sy vaardigheid met ander te deel. Dit is belangrik om jou kind te leer om steeds ander in ag te neem wat dalk nie so goed presteer nie. Dalk kan hulle die minder vaardige leerders bystaan en sommer ekstra “punte” verdien – almal hou daarvan om deur die “sportheld” van die skool raakgesien te word.
Leer jou kind oor nederigheid en dankbaarheid. Hy het nie alleen gekom waar hy is nie. Dit kos ‘n span mense wat alles insit, om ‘n uitblinker te help om te presteer. Maak seker hulle besef dit en dat hulle diegene wat hulle gehelp het, bedank.
Moedig jou kind aan om die wenner geluk te wens. Al is hy teleurgesteld, leer hy so ‘n belangrike lewensles oor hoe om teleurstelling te verwerk, op te staan, homself af te stof en weer te probeer.
Hou maar daardie ego en tong in plek, Ma en Pa!
- Gedra jouself langs die veld – en “moenie raad uitskree of probeer afrig van die kant af nie”.
- Bly kalm en bedaard terwyl jou kind deelneem – al voel dit of jy uit jou nate gaan bars.
- Gee erkenning vir goeie spel – ja, selfs vir die mededingers.
- Respekteer skeidsregters se besluite, selfs al stem jy nie noodwendig saam nie.
- Moet nooit ander beledig nie, hetsy ander toeskouers, spelers, beamptes of afrigters. Hou maar daardie wag voor jou mond!
Wendy Maartens skryf soos volg in hierdie oulike verhaal: Vlermuis loop hom vas. Wen is nie alles nie.
“Dit is baie lekker om te wen, maar niemand in die hele wêreld kan altyd wen nie. Om te wen is amper soos om spookasem te eet … die lekker smaak bly net vir ’n klein rukkie in jou mond voor dit verdwyn, en buitendien bly jy heeltyd lus vir nog. As ’n mens verloor, het jy twee keuses: Jy kan moedeloos word en tou opgooi, of besluit om harder te probeer. Soms oefen ’n mens baie hard en verloor nog steeds. Dit beteken nie jou harde werk was verniet nie. Jy is steeds beter of sterker as wat jy voor die tyd was. Die belangrikste is dat jy jou bes moet doen en dit moet geniet.”