Skrywer: Nikki Bush
Wedywering tussen broers en susters is normaal in enige gesin waar daar twee of meer kinders is. Daar is altyd tye wanneer een kind voel hy is onregverdig behandel of trek aan die kortste end. Dus, om nie by hulle bakleiery betrokke te raak nie, is dit belangrik om te verstaan: kinders baklei juis omdat hulle JOU aandag wil hê. Hulle wil hê jy moet kant kies. So, moenie!
Hierdie konflik gaan na alle waarskynlikheid nog verder eskaleer namate kinders die hormoonbelaaide tienerjare bereik. Sê Kevin Lehman MD, en skrywer van Have a New Teenager by Friday (Revell, 2011), “Niemand wil in ‘n oorlogsone woon, waar bomme oral land en ontplof nie. ‘n Mens het nie daardie soort opwinding in ‘n huis nodig nie. ‘n Mens se huis behoort ‘n plek van vrede en respek te wees, selfs al is daar nou en dan ‘n paar onderonsies. Dit moet met respek op ‘n ewewigtige manier hanteer word, met die doel om met ‘n oplossing wat vir almal aanvaarbaar is, vorendag te kom.”
Hy stem saam met my gevoel dat kinders hulle ouers se aandag soek deur met mekaar te baklei. “Hulle wil hê dat jy moet kant kies sodat hulle kan sê, ‘Sien, ek het jou mos gesê, mamma hou meer van my as van jou’.”
Lehman stel voor dat indien jy perspektief wil behou, jy hulle moet toelaat om te baklei waar jy hulle nie kan hoor nie, want dit haal die genot daaruit wanneer hulle jou nie as toeskouer het nie. Sit hulle in die kleinste moontlike vertrek in die huis en gee hulle die volgende opdrag: “Julle ouens moet dit oplos, en ek gaan julle 20 minute lank tyd gee om saam ‘n oplossing te kry. Ek sal terugkom en kom kyk.”
Dit is hoogs waarskynlik dat hulle binne minute uit die vertrek sal kom en sê dat alles uitgesorteer is, wat dit waarskynlik nie is nie. Jy sal dus spesifiek moet vra hoe hulle die probleem opgelos het. Hier is Lehman se siening:
“As een van jou kinders slu is met ‘n sterk wil en die ander kind is meer ontspanne, kan ek jou verseker dat die sterker een die een is wat meer dikwels sal besluit wat die oplossing is. Die meer straatwys ouer sal egter geneig wees om die meer manatee-tipe persoonlikheid – die een wat rustig saam met die stroom swem – te vra, ‘Is dit regtig hoe jy dit wil hê?’ Jy gee daardie kind dus die geleentheid om iets te sê.
“Indien sy sê, ‘Wel nie regtig nie,’ sê jy streng, ‘julle ouens moet langer hieroor praat totdat ek kan sien dat julle ’n regverdige en gebalanseerde oplossing vir hierdie probleem gekry het. Vir my klink dit taamlik eensydig.’ Jou tieners sal nou probeer om jou te laat skuldig voel. Hulle sal jou beskuldig dat jy hulle soos klein kindertjies behandel. ‘Wel,’ sê jy dan ongestoord, ‘julle gedra julle soos klein kindertjies, so ek veronderstel dit is gepas’.
Geen tiener wil ‘n klein kindjie genoem word nie. Jou boodskap sal wel inslag vind. Hulle sal minder geneig wees om volgende keer binne hoorafstand van jou te baklei.”
Die beste plek vir kinders om te leer hoe om regverdig te baklei, is by die huis. Moet net nie te betrokke raak nie. Wees die fasiliteerder, nie die skeidsregter nie.
Meer oor Nikki Bush
In ‘n wêreld waar verwarrende menings en keuses ten opsigte van kinderontwikkeling en ouerskap hoogty vier, is die bekroonde spreker en topverkoperskrywer van vyf boeke, Nikki Bush, en ‘n deskundige in menslike potensiaal en ouerskap, ‘n vars briesie. Haar gematigde en verstandige stem met ‘n gesonde skeut gesonde verstand daarby, is presies waarna ouers en opvoeders smag. Nikki het die vermoё om moeilike, komplekse en sensitiewe onderwerpe na vore te bring en dit op haar unieke manier toeganklik vir ons almal te maak.
Nikki is in 2019 as ‘n Hall of Fame-spreker opgeneem – die eerste vrou in Suid-Afrika om hierdie toekenning te ontvang. In dieselfde jaar, is sy deur die Ford Motor Company erken as ‘n vrou met dryfkrag (a Women with Drive).
Nikki se aanbiedinge, werkwinkels, artikels en so meer, spreek van energie, passie, humor en ‘n innemende eerlikheid en kwesbaarheid. Future-proof Yourself (Penguin Random House), haar boek oor dans met ontwrigting (dancing with disruption), is in Julie 2021 gepubliseer. Sy was medeskrywer van verskeie topverkoperboeke oor ouerskap, insluitende Future-proof Your Child for the 2020s and Beyond (Penguin Random House, 2019) en het reeds meer as 3 500 media-onderhoude op haar kerfstok met weeklikse insette op Radio 702 en SABC3 se Expresso.
Vir meer inligting, besoek: www.nikkibush.com
