Skrywer: Alita Steenkamp
Die joernalis Pieter van Zyl het eenmaal in ʼn artikel verwys na die 19 warrelwindjare wat Zelda la Grange saam met wyle oudpresident Nelson Mandela deurgebring het. Warrelwindjare was dit gewis. Zelda la Grange, in die geselskap van Madiba, het verskeie wêreld-ikone, staatsleiers, sangers, sportmense, akteurs en aktrises en doodgewone mense ontmoet. Nou, meer as agt jaar ná sy dood, leef sy nalatenskap steeds in baie Suid-Afrikaners se harte. Mense word aangemoedig om op 18 Julie, sy geboortedag, 67 minute van hulle tyd aan een of ander projek te bestee wat die wêreld om ons ʼn beter plek gaan maak.
Dis een tradisie waarby sy ook jaarliks hou, vertel Zelda la Grange. Vir haar is dit ʼn wonderlike manier om hulde te bewys aan iemand by wie die mensdom so baie kon leer oor vergifnis, bevryding op ʼn persoonlike vlak, maar ook harde werk en toewyding. Sy gaan op 18 Julie woel en werk by ʼn kinderhuis in Sandbaai wat sy as een van haar welwillendheidsprojekte aangeneem het. Die motorhuis van die woning wat omskep is in ʼn kinderhuis, word as ʼn speelkamer en studeerkamer vir die kinders ingerig en daar moet nog heelwat gedoen word om dit mooi te maak. Dan gaan Zelda saam met ander vrywilligers bome en plante in die tuin plant. So gaan hulle seker maak die kinders woon in ʼn ware tuiste.
Is sy enigsins rustiger as in die tyd toe sy as persoonlike assistent langs oudpres. Mandela gewerk het? Sy lag en skud haar kop.
“Tyd vir stilsit is daar nie eintlik nie. Veral in hierdie tyd van die jaar is ek druk besig met Mandela-dag, maar ander tye hou ek motiveringspraatjies waarvoor ek dikwels moet reis. Ek werk by die kinderhuis en dan is ek ook besig om my tweede boek te skryf. Hierdie is nie weer herinneringe soos in Goeiemôre mnr. Mandela nie, maar die tweede boek fokus op leierskap en ek gebruik dan stories en voorbeelde wat ek in my tydperk saam met Madiba waargeneem het ter illustrasie. Ek dien ook op die raad van die Kalfiefees in Hermanus en tussen 4 en 9 Augustus gaan ons behoorlik feesvier. My betrokkenheid op die adviserende komitee van Defend our Democracy, slurp ook baie ure op. Dis ʼn organisasie wat hom beywer om druk op die regering te plaas om verandering te laat gebeur en ons almal, Afrikaners ingesluit, se regte deur die Grondwet te beskerm, ” sê sy.
Zelda was ook vir vier jaar deel van die kletsprogram, Tussen ons, wat op kykNET uitgesaai is. Saam met Kay Karriem, Tracey Lange, Success Lekabe en Ingrid Jones het sy met interessante gaste gesels en netelige kwessies aangeraak. Hierdie reeks het op 29 Junie tot ʼn einde gekom, maar seisoen vyf is steeds op DStv Catch Up beskikbaar. Zelda sê een van haar drome is dat sy vorentoe weer die spasie en tyd sal hê om ʼn televisieprogram aan te pak.
Zelda woon in ʼn huis in die Overstrand en sy deel haar huis met die twee Franse boelhonde Ché en Eva wat vernoem is na Ché Guevara, en Eva Perón. Wanneer sy tuis is gaan loop sy elke dag langs die see met haar honde – dis vir haar heerlik om haar dag in die natuur te begin. Haar lewe draai nogal om die twee honde en sy lag wanneer sy sê dat sy regtig ʼn goeie ma vir haar hondekinders is. Die geleentheid om kinders van haar eie te hê, het nooit gekom nie, maar tog is nie sy spyt oor enigiets in haar lewe nie. Nou met haar werk by die kinderhuis kry sy ook baie te doen met kinders en vir haar voel hulle soms soos kinders van haar eie. Sy reis nog heeltemal te veel om daaraan te dink om ʼn kind aan te neem. Kinders verdien ʼn standvastige lewe, sê sy, en dit kan sy tans nie vir ʼn kind in die huis bied nie.
Zelda vind dit nogal amusant dat mense dink sy is ʼn ekstrovert, want sy gesels en lag hard, maar tog is sy in wese ʼn introvert. “Ek is sosiaal heeltemal te besig en dan wil ek weghardloop wanneer die introvert in my nie genoeg tyd en aandag kry nie. Mense vra altyd wat doen ek dan die hele dag. My antwoord hierop is dat ek lééf. Dis nie so maklik om ʼn huis, twee honde en my lewe aan die gang te hou nie. Daaglikse dinge soos ʼn gebreekte kas, of onkruid in my tuin of hoe om beurtkrag te omseil en die pot aan die kook te hou met stygende lewenskostes, is alles dinge waardeur ek ook elke dag gaan. Daar is nog baie verwagtinge van my en ek probeer dit volbring waar ek kan, maar ek besef ook dat ek ouer word en daarom meer tyd vir myself nodig het. Nou voel ek nie meer skaam om nee te sê vir ʼn uitnodiging nie en ek lewe beslis nie ʼn lewe van onmiddellike bevrediging nie. Ek het 19 jaar van uiterse druk beleef wat my foon dag en nag gelui het. Nou het ek sielsrus nodig,” sê sy.
Op byna 52 is daar beslis die geleentheid om terug te kyk en oor die lewe te besin. Tog glo sy selfs die swaarste en hartseerste oomblikke in die lewe, die grootste foute wat sy gemaak het en die konflik het alles bygedra daartoe om haar te vorm as die mens wat sy vandag is. Alhoewel daar nie dinge is waaroor sy spyt is nie, wens sy tog dat sy beter dagboek gehou het en meer foto’s geneem het. Daar is soveel wat sy vergeet het, maar weens die druk en spoed waarteen hulle gewerk het, was daar eenvoudig nie tyd vir behoorlike notas en dagboek hou van elke dag se gebeure nie. As sy maar net in daardie tyd ʼn slimfoon gehad het, kom die versugting.
Zelda la Grange het nog nooit weggeskram van die feit dat sy Afrikaans in murg en been is nie. Dit was beslis ook een van die grootste gemene delers tussen haar en Nelson Mandela. Hy was besonder lief vir Afrikaans en het tydens sy gevangenisskap die werke van groot name soos Langenhoven, C Louis Leipoldt, D.F. Malherbe, A.G. Visser, Ingrid Jonker, Elisabeth Eybers en N.P. van Wyk Louw gelees. Madiba het saamgestem dat Afrikaans een van die mooiste tale ter wêreld is en ʼn wonderlike taal om jouself in uit te druk. Sy sê wanneer hulle oorsee was en hy met haar wou skinder oor iets, het hy dit altyd in Afrikaans gedoen. Dan het die mense hom verbaas aangekyk, maar glad nie geweet waaroor hy en Zelda gesels nie.
“Afrikaans is die taal van my hart,” sê Zelda. “Ek droom in Afrikaans en huil in Afrikaans. Alhoewel simboliek my nie definieer nie, is dit Afrikaans wat in my are pomp. Afrika het ʼn baie besonderse ritme en die Afri- in Afrikaans is wat my eg Afrikaan maak. Iets wat Madiba my geleer het, is om nooit skaam te wees vir wie en wat ek is nie. Om nooit my identiteit prys te gee nie. Dit is wie en wat ek is en my taal definieer my. Die las van die verlede trek my nie plat nie, want ek het elke dag ʼn geleentheid om te bewys dat wie en wat ons is, nie gedefinieer word deur die foute van ons verlede nie.”