Skrywer: Alita Steenkamp.
Vanjaar se Woordfees TV-fees is propvol wonderlike hoogtepunte wat aan ʼn wye gehoor se smaak sal voldoen. Hierdie opwipfees duur vanaf 15 tot 28 Julie 2022 en word op DStv Kanaal 150 uitgesaai. Daar is ʼn groot verskeidenheid genres wat gewoonlik deel uitmaak van die Toyota US Woordfees en nou vir televisie verwerk is. Afrikaans.com se keuse val op die volgende vyf produksies:
1. Boekgesprek: Dol heuning met S.J. Naudé.
In hierdie boekgesprek gesels Marius Swart met die Hertzogpryswenner S.J. Naudé oor sy wenbundel, Dol heuning. S.J. Naudé, wat homself ʼn aktivis vir die kortverhaal noem, vertel waar sy inspirasie vandaan kom. Hy deel ook sy siening oor die belangrikheid van skryfopleiding. Sandra Prinsloo lees voor uit een van Naudé se verhale.
18 Julie 10:01, 19 Julie 1:44.
2. Saluut Theuns Jordaan
In hierdie musiekprogram word daar hulde gebring aan Theuns Jordaan, die sanger met sy diep stem wat verlede jaar in die fleur van sy loopbaan as kunstenaar aan kanker dood is. Kunstenaars soos Anton Goosen, Bok van Blerk, David Kramer, Dozi, Dr Victor, Tarryn Lamb en Valiant Swart sing Theuns se musiek in hierdie konsert. Melissa van der Spuy is die musiekregisseur.
19 Julie 18:15, 22 Julie 18:00, 23 Julie 14:15, 26 Julie 10:15 en 28 Julie 19:02.
3. Krismis van Map Jacobs
ʼn Bendeleier en gevaarlike krimineel kom na sewe jaar in die tronk uit op parool. Hy word oral gevrees. Het die tyd in die tronk hom verander, of is hy steeds die gevreesde misdadiger. Hierdie drama van Adam Small speel af op die Kaapse Vlakte en die magdom probleme wat daar deel is van mense se alledaagse lewe. Ilse Klink, June van Merch, Dann-Jacques Mouton en Elton Landrew is van die akteurs in hierdie drama. Jason Jacobs het die verhoogregie gedoen en Jaco Bouwer het as regisseur vir die filmverwerking opgetree.
17 Julie :21:42, 20 Julie 15:10, 22 Julie 2:03, 24 Julie, 22:18 en 26 Julie 2:02
4. Karen Zoid & die Kaapstadse Filharmoniese orkes
Karen Zoid het twintig jaar gelede Afrikaners regop laat sit met haar weergawe van “Afrikaners is plesierig”. Die rock-chick het in hierdie twintig jaar getoon dat sy ʼn kunstenaar van formaat is. Haar rockmusiek en haar soeter ballades is ewe gewild. In hierdie konsert, waarin sy terugkyk op twintig jaar se hoogtepunte, word sy begelei deur die Kaapstadse Filharmoniese orkes. Brandon Phillips is die dirigent.
17 Julie 20:00, 18 Julie 23:04 en 20 Julie 1:23
5. Die Naaimasjien
Die uitstaande eenvrouvertoning van Sandra Prinsloo, Die Naaimasjien, het vir ʼn paar jaar vol sale regoor Suid-Afrika getrek en het selfs ʼn draai gemaak by die Edinburgh Fees in Skotland. Danksy die KKNK en Brainwaves Produksies kan kykers nou in die gerief van hulle voorkamers na hierdie bekroonde stuk kyk. Terwyl Magdaleen (Sandra Prinsloo) haar naaimasjien oppak, dink sy terug aan 55 jaar van haar lewe wat hierdie item haar getroue vennoot was. ʼn Heerlike nostalgiese terugreis in tyd en Sandra voorwaar uitmuntend. ʼn Produksie van Wordsmith Theatre Factory.
15 Julie 10:30, 17 Julie 6:40, 19 Julie 20:00, 24 Julie 13:00 en 26 Julie 0:59
Besoek https://woordfees.co.za/tv-program/ vir die volledige program. Skakel in op DStv Kanaal 150 vir hierdie en ander wonderlike hoogtepunte.