Suid-Afrikaanse teatergangers het reeds die bekoring van Eric-Emmanuel Schmitt se skryfwerk in Afrikaans beleef met twee Afrikaanse teaterproduksies: Oskar en die pienk tannie en Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran wat plaaslik opgevoer is. Albei hierdie teaterstukke is ook romans van die skrywer Eric-Emmanuel Schmitt. Hierdie Franko-Belg het oor die laaste dekade of twee een van die gewildste skrywers wat in Frans skryf, geword. Sy werke is al in byna 50 tale vertaal en van sy toneelstukke word ook oral in die wêreld opgevoer, soos ook hier by ons. Sandra Prinsloo het geskitter in die eenvrouproduksie Oskar en die pienk tannie wat Schmitt geskryf het terwyl Dawid Minnaar weer bekoor het met sy eenmanstuk Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran. Nou is daar ʼn volgende roman van Schmitt wat in Afrikaans vertaal is deur Naomi Morgan, hoof van die departement Frans aan die Universiteit van die Vrystaat. Dit was ook Naomi Morgan wat die Afri-Frans-liedjies uit Afrikaans in Frans vertaal het. In hierdie roman, Madame Pylinska en die geheime van Chopin, vertel die skrywer van sy vermaaklike klavierlesse by Madam Pylinska, ʼn Poolse musiekonderwyseres. Dis ʼn roerende vertelling wat fokus op die Saterdae wat Schmitt in die geselskap van die kleurvolle Madame Pylinska en haar katte deurgebring het en hoe sy hom meer geleer het oor die geskiedenis van Pole en van komponiste wat veral musiek vir die klavier geskryf het. Haar liefde vir Chopin is ʼn belangrike deurlopende tema. In hierdie verhaal ontdek Schmitt ook dat sy eintlike talent nie by die uitvoering van Chopin lê nie, maar by die skryf van kortverhale, romans en dramas. Interessant genoeg het Schmitt hierdie roman ook as ʼn verhoogstuk verwerk en het hy, soos met Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran, homself gespeel. Die boek is ʼn juweel wat beslis sal bekoor. Madame Pylinska en die geheime van Chopin word deur Naledi uitgegee. Besoek www.naledi.co.za om die boek te bestel.
Deel hierdie plasing