Meningstukke / Lindie van Gass
Liewe leser
Ek dink daar is groot verwarring onder ‘n magdom mense, so kom ons stel dit vandag reguit: Om te spaar en om te belê is twee totaal verskillende dinge.
Wat beteken dit om te spaar of te belê?
As jy jou geld spaar dan sit jy geld opsy in ‘n veilige plek, gewoonlik vir ‘n spesifieke doel. Hierdie geld is in kontantprodukte of gewone bankrekeninge waarop jy ‘n vasgestelde rente verdien. Dit is selfs die geld in jou spaarblikke of onder jou matras – as dit enige rente verdien, is dit waarskynlik minimaal. Dit sal gebruik word vir ‘n vakansie, spesifieke produk, deposito op ‘n bate en vir jou Ag tog-fonds. Mens spaar gewoonlik vir jou korttermyndoelwitte en geld wat jy binne bereik wil hê.
As jy jou geld belê, gebruik jy jou geld om te poog om vir jou méér geld te maak en dat dit mettertyd in waarde sal toeneem. Basies, om jou geld te kry om vir jou te werk, byvoorbeeld in aandele, eiendom, fondse, ensovoorts. Jy sal eerder begin belê, as spaar, wanneer jy voorberei vir jou medium- en langtermyndoelwitte. Mens sal jou portefeulje volgens jou doelwitte, risiko, en ander eienskappe wat dit kan beïnvloed, saamstel met verskillende onderliggende tipes bates, soos aandele, fondse, eiendom, goud, ensovoorts.
Natuurlik gaan hoër groei hand aan hand met hoër risiko, maar dis hoekom jy steeds sal seker maak dat dit goeie gehalte beleggings is en dat jy die geld vir ‘n langer tydperk nie gaan nodig kry nie. Die verskil tussen R5000 in ‘n spaarrekening vir tien jaar en R5000 in ‘n goeie beleggingsfonds vir tien jaar (geen belasting in ag geneem nie):
- As jy R5 000 in ‘n rekening gaan los vir tien jaar wat ongeveer 4.5% saamgestelde rente verdien (as jy gelukkig is op die stadium), sal jy na tien jaar R7 764.85 hê.
- As jy R5 000 in ‘n goeie fonds belê vir tien jaar, wat ongeveer 9.9% verdien (koers verkry vanaf ‘n Suid-Afrikaanse gebalanseerde fonds), sal jy na tien jaar ongeveer R12 851.30 hê.
Die verskil lyk nie wesenlik as jy vlugtig loer nie, maar dink net wat ‘n langer tydperk en gereelde bydraes tot die belegging in die groter prentjie kan beteken. Daar is ‘n rede hoekom Albert Einstein saamgestelde rente as die agtste wonder van die wêreld beskou het.
As mens jou ideale leefstyl en finansiële vryheid wil bereik, sal dit belangrik wees om spaar en belê in jou finansiële plan te inkorporeer.
Kom ons kyk na verskillende voorbeelde, en wat jy eerder sal doen vir daardie doelwit:
Scenario | Spaar of belê? |
Jou kind is 3 jaar oud en jy wil graag spaar vir hulle troue. | Belê |
Jou kind gaan oor 4 jaar universiteit toe en jy sal graag wil spaar vir ‘n woonstel. | Spaar |
Jou aftrede oor ongeveer 30 jaar. | Belê |
Jy wil ‘n noodfonds opbou. | Spaar |
Jy wil ‘n kar koop en moet spaar vir ‘n deposito. | Spaar |
Jy tree oor ongeveer 5 jaar af en beoog om 30 jaar van jou aftreegeld af te lewe. | Spaar en belê |
Jy wil begin spaar vir jou kind se universiteit sodra hy gebore word. | Belê |
Dit is dus nodig om saam na spaar en belê te kyk, want elkeen speel ‘n belangrike rol in jou finansiële plan. Daar is talle produkte beskikbaar om beide in te spaar en te belê, en dit is belangrik om seker te maak jou doelwit en die aard van die produk/bate gaan hand aan hand.
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!