Skrywer: Alita Steenkamp
Een van die karakters in die onlangse dramareeks, Projek Dina, wat voorwaar ʼn heerlike ligstraal was, is Charlene, of te wel Charlie Botha. ʼn Hardekoejawel kuberkraker wat in die eerste seisoen op ʼn heel interessante manier by ʼn blitsreaksie-taakspan van die Polisie betrokke geraak het. ʼn Taakspan wat week na week by een of ander opwindende soektog na vermiste persone betrek word.
Met die eerste aanskoue van Kay Smith in seisoen een van Projek Dina, het sy ʼn mens dadelik herinner aan ʼn karakter in ʼn 2009 Deense/Sweedse film, The Girl with the Dragon Tattoo. In hierdie fliek, gebaseer op die trefferroman van Stieg Larsson, vertolk die Sweedse aktrise Noomi Rapace die rol van Lisbeth Salander, ʼn donker kuburkraker wat die joernalis Mikael Blomkvist help in sy ondersoek na ʼn moord wat 40 jaar gelede plaasgevind het.
Kay lag uit haar maag uit wanneer sy hoor dat haar karakter Charlie ʼn mens aan Lisbeth Salander herinner. “Sy was een van my references toe ek Charlie moes skep. Ek is mal oor Charlie, want sy is nogal ʼn tawwe koekie. Straatslim, impulsief, vindingryk, maar ook beskermend. Al het sy ʼn skerp tong, het sy beslis ʼn sagte hart.”
Seisoen 2 van Projek Dina het aan die begin van Mei klaargemaak en op die vraag of daar ʼn derde seisoen sal wees, lag sy weer. “Watch this space.” Verder sê sy niks nie.
Kay Smith het op ʼn heel interessante manier in die vermaaklikheidsbedryf beland. Sy het altyd daarvan gedroom om ʼn sielkundige te word, maar juffrou Ilna Stander, haar Afrikaansonderwyser by Hoërskool Durbanville, het haar talent raakgesien en haar in haar matriekjaar ingeskryf vir die Kaapstadse toneelspelkompetisie. Kay het die beoordelaars beïndruk en ʼn dramabeurs by die Northlink-kollege losgeslaan. Sy is ook raakgesien deur die briljante regisseur Henry Mylne wat haar gekies het as deel van die rolbesetting vir sy toneelstuk Vaselinetjie, gebaseer op die gelyknamige roman van Anoeschka von Meck.
“Dit was ʼn fantastiese ervaring. Hier was ek pas uit die hoërskool uit en ek stap in ʼn professionele verhoogstuk in. Tot vandag toe het ek ʼn sagte plekkie vir daai verhoogstuk, want dit het ook gelei na my eerste televisierol in Vlug na Egipte en het verskriklik baie deure vir my oopgemaak. Dit het mense op my pad gesit wat vandag nog deel is van my lewe – Henry Mylne, Vinette Ebrahim, Theodore Jantjies… Die stuk het soveel vir my gedoen, nie net vir my professionele loopbaan nie, maar ook vir my menswees,” sê sy.
Met haar jeugdrome om ʼn sielkundige te word wat in dramaterapie spesialiseer, het sy ná haar jaarlange dramakursus ingeskryf vir sielkunde. In haar tweede jaar het die oproep gekom. Sy is gekies vir ʼn rol in Vlug na Egipte, Paul C. Venter se dramareeks wat op Hanover in die Karoo verfilm is. Meteens het sy nie geweet wat om te doen nie, maar ná ʼn paar gesprekke met mense wat sy kon vertrou, het sy tog gekies om die rol van die winkelassistent wat in Dot se winkel op Breipaal werk, te aanvaar. Vandag is sy nie vir ʼn oomblik spyt oor hierdie besluit nie.
“Nie net was Breggie ʼn wonderlike karakter om te vertolk nie, maar ons het die geleentheid gekry om seisoen een en twee op Hanover te skiet terwyl Paul nog daar gewoon het. Dit was so lekker om in die plek te skiet met die skrywer byderhand en die mense op wie die karakters gebaseer is ook in die omtrek. Werklik ʼn beautiful ervaring,” sê Kay.
Kay is ook al van die begin van die telenovella Arendsvlei deel van die rolbesetting. Aanvanklik was sy een van die skoliere, Debra Newman-Mortlock. Intussen het Debra ouer geword en is nou ʼn jong besigheidsvrou wat ook studeer. Arendsvlei word by die Atlantic ateljees in Kaapstad verfilm en al gaan dit soms dol, is sy deur en deur ʼn Kaapse meisie wat daarvan hou om in die Moederstad te werk. Sy moet soms vir ander werk elders in die land wees, maar dan laat weet haar vel en haar sinusse haar dadelik wanneer sy in Johannesburg is, lag sy weer. Kay is ook besonder lief om in die natuur te gaan stap: in die woude, op teen Tafelberg of langs die see. Dis vir haar ʼn manier om weer geanker te voel en rustig te word. Daarvan kry sy nie veel wanneer sy in die noorde van die land is nie, en dis altyd vir haar heerlik om terug te gaan huis toe.
In haar loopbaan het Kay al die geleentheid gekry om baie verhoogwerk te doen, rolprentwerk soos die rol van Nikita in Die Ellen Pakkies Storie, talle televisiereekse en sepies en ook radiowerk. Soos vir baie ander verhoogkunstenaars was dit vir haar besonder lekker om weer hierdie jaar te kon terugkeer verhoog toe. Sy is deel van die rolbesetting van Agulhasvlakte wat vanjaar by die KKNK geopen het. Saam met haar op die verhoog is Wilhelm van der Walt en René Cloete. Die stuk is geskryf deur Herschelle Benjamin en Kanya Viljoen behartig die regie. Agulhasvlakte het ook by die Suidoosterfees gespeel en sal in Oktober vanjaar by die Vryfees en die Woordfees op die planke wees.
“Daar is darem net iets magic aan die verhoog,” sê Kay. “Dis moeilik om dit presies vas te vat, want dit lê in soveel dinge: In die reuk van die vloer, in die warmte van die verhoogligte, in die tasbare energie wat jy kan voel uit die gehoor. Elke keer wanneer die deure oopgaan, is dit nuut. Jy kan net aanhou om aan jou karakter te werk. Elke vertoning is ʼn verskillende ervaring en so lekker. Dit laat my dink aan ʼn plant wat groei en more nie meer lyk soos wat dit gister gelyk het nie.”
Kay het in November verlede jaar 30 geword, en beskryf dit as ʼn lewensveranderende gebeurtenis. Vir haar was dit nog altyd belangrik om haar nie te meet aan ander persone se maatstawwe nie, maar tog was die aanbreek van haar 30’s vir haar die tyd om so ʼn bietjie te besin oor waar sy in die lewe staan. Is sy die mens wat sy altyd wou wees? Wat wil sy nog uit die lewe hê? Hoe gaan sy dit regkry om by hierdie mikpunte uit te kom? Dit is vir haar ʼn tydperk van introspeksie, maar ook een van dankbaarheid oor alles wat sy al reggekry het.
Met talle suksesse op haar kerfstok kan ʼn mens nie anders nie as om te wil weet waaroor sy nog droom. Die antwoord kom gou, sonder huiwering.
“Om nog baie en op ver plekke te gaan reis. Ek droom ook van abundance. Ek wil abundantly happy wees, maar ook deur alle grense te breek. Al die grense van beperkinge wat op my gesit is. In my dertig jaar op aarde het ek geleer niks is onmoontlik nie so ek wil graag elke bal wat aan my afgevuur word, uit die park uit slaan. Ek wil verder as die maan kan skiet en op elke ster waarvan ek gedroom het, land en net daar kan dans en goed voel. Dit klink dalk alles baie airy fairy, maar ek moet ook net byvoeg dat ek nie net oor geleenthede vir myself droom nie. Ek droom daarvan om dieselfde geleenthede wat ek in die wêreld gekry het, vir ander te kan skep. Niemand is immers ʼn eiland nie. Ek kon niks op my eie bereik het as iemand nie iets in my raakgesien het en my aangemoedig en gemotiveer het om aan te hou nie. Ek wil dieselfde vir iemand anders doen. Al is dit net een persoon, maar as ek meer mense op daardie manier kan raak, sal dit fantasties wees. Ek wil dit baie graag met my hele hart doen!”
Kay oor Afrikaans
“Ek is baie lief vir my taal, maar as ek eerlik kan wees dink ek daar is steeds ʼn lyn in Afrikaans waar sekere gemeenskappe voel dat hulle Afrikaans nie regtig Afrikaans is nie. Almal het beslis nie dieselfde trots vir hulle taal nie, want hulle Afrikaans word nie noodwendig dieselfde ervaar nie.
Afrikaans is net so ʼn verskriklike mooi taal. Dit is baie poëties, vreeslik beskrywend en kleurvol.
Ek droom van ʼn dag waar al ons Afrikaners in Suid-Afrika dieselfde ervaring van Afrikaans kan hê. Waar elke dialek ewe belangrik sal wees, ewe beautiful. Afrikaans sonder enige beperkinge.