Skrywers: Christelle Webb Joubert en Juanita de Villiers
‘n Platform met hoёgehalte Afrikaanse oudiostories vir kinders 0 – 10 jaar oud:
Beskikbaar as toepassing en aanlyn.
Lekker Luister is die resultaat van twee mammas, Christelle Webb Joubert (radiopersoonlikheid, RSG) en Juanita de Villiers (aktrise, Getroud met rugby) wat uit persoonlike ervaring ’n geleentheid gesien het om iets te begin wat ’n werklike verskil in kinders se lewens kan maak. Sê Christelle: “My seun, Lukas, is op die outismespektrum en nieverbaal. Hy sal moontlik ook nooit self kan lees nie. Dit is die hoofrede waarom ek kragte saamgespan het met Juanita: Om hom die geleentheid te gee om ook die wonderwêreld van stories te ontdek.” Juanita se dogtertjie, Zia, is in 2020 gebore en Juanita vertel dat sy nog kan onthou hoe sy as klein dogtertjie elke middag na die stories op die radio geluister het. “Dit is hoekom ek ’n soortgelyke platform wou skep waar Zia ook die geleentheid kan kry om na stories te luister.”
Die teikenmark is van 0 – 10 jaar, maar volgens Christelle en Juanita sal dit ook baie afhang van die kind se spesifieke behoeftes. “Daarom gee die verskeidenheid stories en die tydsduur daarvan ouers en onderwysers die geleentheid om die storie te kies wat die beste by hulle tyd en die geleentheid inpas.”
“Ons sal baie graag wil hê dat alle kinders die geleentheid kry om na stories te kan luister. Daarin lê die waarde van hulle ontwikkeling van verbeelding, taal en om sommer net kind te wees. Ons wil ook ’n ondersteunende rol speel in die klaskamer, sodat onderwysers dit as hulpmiddel kan gebruik. Lekker Luister gee ook skrywers die geleentheid om hulle stories te deel en stemkunstenaars kan op hulle beurt weer lewe blaas in die karakters en sommer ook so ’n inkomste verdien.” – Christelle en Juanita
Steeds groeiende biblioteek
Daar is reeds 70 stories in die Lekker Luister-biblioteek op die webtuiste en toepassing gelaai. Die stories is altyd beskikbaar en elke Vrydag word daar ’n nuwe storie gelaai. Maar die oulike stories is nie net nog voorlesings nie. Daar is musiek en byklanke wat alles bydra om die atmosfeer van die storie oor te dra. Boonop is daar verskillende stemme wat die karakters uitbeeld. Stories wissel van avontuur- en fantasieverhale, Bybelverhale en vervolgverhale, soos Trix & Patat en Boelie & Loelie.
Sluit aan en teken in op die webtuiste en/of toepassing
As jy as privaat persoon op die toep wil inteken, kos dit R100 per maand of R1000 per jaar. Jy kan ook ’n R1000-geskenkbewys vir iemand anders koop.
Skole kan ’n subskripsiefooi van R100 per maand per klas betaal. Dit sluit toegang tot al die stories in en daar kan soveel keer as wat hulle wil na die stories geluister word.
Volg Lekker Luister op:
Instagram: @lekkerluister
Facebook: @lekkerluisterstories
Webtuiste: www.lekkerluister.co.za
Om die toep af te laai:
Klik op die skakels:
Laai af:
Anroid: https://play.google.com/store/apps/details?id=om.lekkerluister.lekkerluisterapp
IOS: https://apps.apple.com/us/app/lekker-luister/id1590162529.
’n Lusmaker
Hier is drie gratis stories wat lesers kan luister. Klik op die skakels:
Trix en Patat – Ep 1 finaal
Brolloks en Skoonlief – finaal
Die kleurvolle wegkruipertjie – finaal
Hoekom is oudiostories belangrik?
Kinders het verleer om te luister en dit het ’n direkte invloed op hoe hulle opdragte uitvoer. Op langtermyn kan dit ook potensiёle probleme veroorsaak wanneer hulle skool en universiteit toe gaan en eendag die werksplek betree. Oudiostories help met:
- Om na ’n storie te luister, skep ’n mens jou eie prentjies. Jy sien ’n bos, kasteel, prinses, heks, seuntjie of dogtertjie en dit lyk soos jy wil hê dit moet lyk.
- Dit verbeter jou taalgebruik en stimuleer woordeskat.
- Om na ’n storie te luister maak jou luisterfiks, trouens 85% van wat ons leer, is deur middel van wat ons hoor.
- Baie kinders wil graag lees, maar kan nie. Kinders met gestremdhede kry dus ook die geleentheid om stories te geniet.
- Lekker Luister is ’n lekker alternatief vir slaaptydstories.
- Grootouers wie se kleinkinders dalk oorsee bly, kan die stories aanskaf sodat hulle kleinkinders steeds na stories in Afrikaans kan luister.
- Lekker Luister-stories is ’n goeie manier om kinders besig te hou in vakansietye of terwyl jy as ouer dalk besig is met werk of ’n aanlyn vergadering.