Skrywer: Alita Steenkamp
Presies ʼn jaar gelede, op 1 Julie 2021, het Kate Rok, ʼn nuwe stem in Afrikaans, haar heel eerste enkelsnit, “Maangenade” aanlyn vrygestel. Sy is besonder opgewonde oor die volledige nuwe album wat dag en datum ʼn jaar later kon verskyn. Kate vertel dat haar droom vir ʼn album van haar eie al ʼn lang pad kom vandat sy die skool 18 jaar gelede verlaat het. Al die planne was reeds in plek vir die opname van hierdie album in Johannesburg, toe die Covid-19-pandemie in 2020 toeslaan en vrye beweging meteens stopgesit is. Kate het toe reeds op Clarens gewoon. Gelukkig vir haar het sy iemand in Clarens gekry wat haar kon help met die opname en vandag kyk sy trots na hierdie album, VerKEN wat nou aanlyn beskikbaar is. Afrikaans.com het ʼn paar vrae aan Kate gestuur om so ʼn bietjie meer oor haar te wete te kom.
Vyf interessante feite oor Kate:
- Kate is ʼn wiskunde- en wetenskaponderwyser by Bethlehem Akademie, ʼn privaatskool op Bethlehem in die Oos-Vrystaat.
- Sy was lid van die skoolkoor van Laerskool Truida Kestell op Bethlehem, toe sy begin het om koor te sing. Daar het sy ook die geleentheid gekry om solo’s te sing. Die Bloemfonteinse Kinderkoor het haar in haar Graad 7-jaar gekies om in dié koor te sing.
- Ná haar dramastudies by die Universiteit van Pretoria, het sy vir ʼn paar jaar as vryskutgrimeerkunstenaar in Johannesburg gewerk.
- Sy is gebore en getoë in die Oos-Vrystaat. Hier in die berge met die sandsteenkranse vind sy die meeste inspirasie vir haar musiek. Sy skryf self al die woorde en die musiek.
- Sy het haar kunstenaarsnaam Kate Rok gekies as simbool van haar vroulikheid. Sy is glad nie ʼn feminis nie maar hou besonder baie van die dinamika tussen mans en vroue wat vir haar besonder mooi is.
Waar kom die inspirasie om musiek te maak vandaan?
Musiek was nog altyd deel van wie ek is. Ek het video’s waar ek as driejarige dogtertjie reeds sing. Ek het dus nooit daaroor gedink of ʼn doelbewuste besluit geneem om met ʼn sangloopbaan te begin nie. My oupa was ongelooflik musikaal. Albei my ouers het ook mooi stemme en ons het altyd in die huis gesing. Later het ek in kore begin sing en altyd die solo gekry om te doen. Die droom van ʼn musiekloopbaan het dus outomaties gebeur, want ek sing my hele lewe lank. Wat wel ʼn nuwe ervaring is, is om myself uit te daag en te sê: “Kom luister na my musiek!” Ek doen dit sonder om om te gee of ek ʼn finansiële sukses daarvan gaan maak. Sonder om om te gee of tien mense daarna gaan luister, of dalk 1000. Sukses lê vir my daarin om nie net in jou kamer te sit nie maar dit te waag, ongeag wat die resultaat gaan wees. Dis ʼn lekker plek om te wees.
Watter Afrikaanse kunstenaar/s was vir jou ʼn rolmodel?
Koos du Plessis is die een Afrikaanse kunstenaar wie se musiek nog altyd met my hart gepraat het. Reeds as klein dogtertjie was ek in verwondering oor hom. Die ander kunstenaar na wie ek besonder baie opkyk is Chris Chameleon. Sy groep Boo! was nog altyd een van my gunsteling bands, selfs as ek die groep opweeg teen internasionale groepe. Chris as kunstenaar het hierdie fantastiese range in sy stem. Hy is ongelooflik.
Sing jy in die stort? Indien wel, wat sing jy?
Luidkeels! Die akoestiek in die badkamer maak my stem sommer mooi vir myself. Ek sal my eie liedjies sing, maar ook bekende liedjies van ander kunstenaars. Dan maak ek van alles opera. Ek verbeel my ek is ʼn operasanger wanneer ek in die stort sing so enige liedjie word omgesit in operastyl.
Wat is die beste advies wat jy al ooit gekry het?
Omdat ek myself nog altyd opgeweeg het teen ander, het ek vir te lank gedink ek klink te anders of my musiek is nie kommersieel genoeg nie of dit is te vreemd. Die beste advies wat ek gekry het, was om eg en uniek te wees. Wees 100% jy! Moenie jouself vergelyk nie. Vandat my vriende en mense op wie ek kan vertrou my hierdie raad gegee het, het ek besef ek moet dit aangryp. Hoekom wil ek soos ander klink? Daar hoef nie reëls en boksies te wees wat jou en ʼn teikenmark afbaken nie. Wanneer ʼn mens by hierdie punt kom, is dit vry en wonderlik om dit net te kan doen.
Met watter Suid-Afrikaanse kunstenaars sal jy graag wil saamwerk?
Chris Chameleon, Herman van den Berg en Laurika Rauch is almal musikante met wie ek wil saamwerk. Dan ook Refentse. Ek hoop ons paaie as kunstenaars sal iewers in mekaar vleg.
Watter groot droom wil jy graag bewaarheid sien?
My grootste droom as sangeres is om “Nkosi Sikelel’ Afrika” voor ʼn Springboktoets te sing. As enigste dogter met vier broers, het ek vroeg al geleer om van rugby te hou. Dis nou nog ʼn groot liefde en ek en my pa kyk graag saam rugby. Daarom hoop ek ek sal hierdie droom eendag kan bewaarheid.
Vertel ons ietsie interessant van jou.
Ek is ʼn groot waaghals in ʼn kar en sal nie huiwer om elfuur in die nag met ʼn viertrekvoertuig berg-op te ry nie. Ek hou van spoed, maar net wanneer ek alleen in die motor is. Tog is ek nie onverskillig nie, net ietwat waaghalsig. Dan is ek ook ʼn massiewe romantikus. Ek is verlief op die liefde in intense oorvloed. Op die oomblik is daar niemand spesiaal in my lewe nie, so ek kan lekker droom.