Skrywer: Nikki Bush
Kinders gee nie om as ons besig is nie en hulle gee ook nie om as ons werk nie, solank ons gereeld gehaltetyd saam met hulle spandeer. Dit is ons uitdaging as besige ouers in die 21ste eeu – om genoeg geleenthede te skep vir gehaltetyd saam met ons kinders sodat ons nie by mekaar verby leef nie, maar genoeg tyd het om ’n onvergeetlike en positiewe indruk op hulle lewens te maak. Trouens, die jongste navorsing het weereens bevestig dat al wat kinders regtig wil hê, is ’n ware verhouding met ons, hulle ouers.
Een van my kliёnte het die volgende met my gedeel: Sy was op pad na ’n vergadering toe, maar voordat sy gery het, eers ’n rukkie opsygesit om iets saam met haar seun te doen. Hy het vir haar gekyk en gesê: “Asseblief, mamma, moenie nou haastig wees nie. Jy kan haastig wees wanneer jy vertrek.” Hy kon dit nie beter stel nie. Hierdie jong seun het ons dilemma raak beskryf. Ons moet maniere vind om presies dit wat hy geïmpliseer het, te doen. ‘As jy die volgende tien minute saam met my gaan wees, wees dan rustig en moenie jou stres aan my oordra nie. Wees net saam met my in die oomblik, want dit is al wat ons tans het. Geniet dit saam met my, gee jou onverdeelde aandag aan my, en dan, wanneer jy vertrek, kan jy haastig en gestres wees. Maar asseblief, net nie nou nie.’
Kinders word gebore met die mees natuurlike, wonderbaarlike, ontwikkelingstydrooster en hulle leef teen ’n baie stadiger tempo as ons. Ons kan hulle nie opwen en programmeer om teen ons tempo te lewe nie. Dit sou hulle hul kinderjare ontneem. In plaas daarvan, moet ons hul behoefte aan meer tyd sien as ‘n gesonde teenmiddel vir ons voortdurende besig wees. Dit moet ons daaraan herinner om stil te raak en om die oomblikke van saamwees met ons kinders, te geniet.
Een van die pluspunte om kinders te hê, is dat hulle ons bewus maak van die klein goedjies in die lewe wat ’n groot verskil kan maak. Ons kinders het mos nou eenmaal die vermoё om ’n ding op sy naam te noem. Dalk moet ons fyner na hierdie onskuldige wyshede luister, want hulle slaan dikwels die spyker op sy kop.
Meer oor Nikki Bush
In ‘n wêreld waar verwarrende menings en keuses ten opsigte van kinderontwikkeling en ouerskap hoogty vier, is die bekroonde spreker en topverkoperskrywer van vyf boeke, Nikki Bush, en ‘n deskundige in menslike potensiaal en ouerskap, ‘n vars briesie. Haar gematigde en verstandige stem met ‘n gesonde skeut gesonde verstand daarby, is presies waarna ouers en opvoeders smag. Nikki het die vermoё om moeilike, komplekse en sensitiewe onderwerpe na vore te bring en dit op haar unieke manier toeganklik vir ons almal te maak.
Nikki is in 2019 as ‘n Hall of Fame-spreker opgeneem – die eerste vrou in Suid-Afrika om hierdie toekenning te ontvang. In dieselfde jaar, is sy deur die Ford Motor Company erken as ‘n vrou met dryfkrag (a Women with Drive).
Nikki se aanbiedinge, werkwinkels, artikels en so meer, spreek van energie, passie, humor en ‘n innemende eerlikheid en kwesbaarheid. Future-proof Yourself (Penguin Random House), haar boek oor dans met ontwrigting (dancing with disruption), is in Julie 2021 gepubliseer. Sy was medeskrywer van verskeie topverkoperboeke oor ouerskap, insluitende Future-proof Your Child for the 2020s and Beyond (Penguin Random House, 2019) en het reeds meer as 3 500 media-onderhoude op haar kerfstok met weeklikse insette op Radio 702 en SABC3 se Expresso.
Vir meer inligting, besoek: www.nikkibush.com
