Skrywer: Nikki Bush
Kry jy ooit die gevoel dat jy ’n manier moet vind om jou kind se brein “wakker” te maak, maar dit nie so eenvoudig is nie? Of jou kind leerprobleme het of nie, die volgende eenvoudige aktiwiteite is dalk net wat jy nodig het as opkikker om hulle fokus en konsentrasie te verbeter wanneer hulle huiswerk doen of vir toetse en eksamens leer:
- Vlugtige voetwerk. Het jy al ooit ’n professionele sokker- of tennisspeler dopgehou wanneer hulle opwarm voor ’n wedstryd? Hulle doen allerhande vlugtige voetwerk en trippelpassies tussen die sporte van ’n touleer op die grond – agtertoe, vorentoe, sywaarts. As jy nie ’n touleer het nie, maar wel teёlvloere, kan jou kind op sy tone tussen die blokke in die gang langs trippel. Hierdie oefening kry die liggaam aan die gang en stimuleer die brein, sodat die liggaam en brein meer effektief kan saamwerk.
- Top sportmanne en -vroue spring gereeld tou omdat dit uitstekend is vir algemene fiksheid en ’n mens se reflekse. ’n Mens het nogal koördinasie nodig om tou te spring. Die ekstra suurstof wat deur die liggaam gebruik word, help sommer ook om ’mens se brein ’n hupstoot te gee en sit daardie grysstof aan die gang.
- Klim trappe. Deur trappe te klim of uit te draf voordat huiswerk gedoen word of eksamen geskryf word, het ’n soortgelyke uitwerking as die vorige aktiwiteite op jou kind se brein.
- Hek toe en terug. Dit werk goed vir jonger kinders van so vyf tot agt jaar oud en wat sukkel om te konsentreer. Ek het my seun altyd sover gekry om in ons oprit te hardloop, aan die hek te raak en dan so vinnig as wat hy kon terug te hardloop. Soms het ek sommer vir die pret tyd gehou. Daar is min dinge wat ‘n mens so motiveer as om teen jou eie persoonlike beste mee te ding.
- Kougom kou. Dit kan ’n nuttige hulpmiddel wees om sensoriese insette te reguleer, asook om die brein te help om te fokus en te konsentreer.
- Oёnskynlik eenvoudige bewegings soos om jou arms voor jou te kruis en die teenoorgestelde oorlelle te masseer, of om die syfer agt op jou liggaam te teken deur jou hele arm te gebruik, het bewys dat dit die verskillende dele van die brein wakker maak en integreer vir beter prestasie. Google Brain Gym vir nog idees.
- Speel ’n vinnige speletjie. Ek het gevind dat ’n kort, prettige speletjie met ’n kind kan help om die kind vinnig te laat ontspan, terwyl dit hulle ook op ’n heeltemal ander manier energie kan gee, sodat hulle meer ontvanklik raak vir leer, hetsy dit huiswerk of studie is. Probeer ’n kaartspel of woordspeletjie. Om ’n speletjie saam met jou kind te speel, lei ook tot emosionele verbintenis tussen julle – en dit is beslis nie iets wat ’n mens by die winkel kan koop of in enige terapiesessie kan kry nie.
Een ding wat ten alle koste vermy moet word as ’n mens die brein wil stimuleer, is om TV te kyk. Dit is ’n passiewe aktiwiteit wat geneig is om teta-breingolwe te laat toeneem – daardie golwe wat betrokke is by ontspanning en nie leer nie. Televisie kom na werk of studies.
Ek hoop iets op die lys werk vir jou en help jou om jou kind se brein te stimuleer wanneer dit ’n opkikker nodig het. Hoekom probeer jy dit nie sommer ook nie?
Meer oor Nikki Bush
In ‘n wêreld waar verwarrende menings en keuses ten opsigte van kinderontwikkeling en ouerskap hoogty vier, is die bekroonde spreker en topverkoperskrywer van vyf boeke, Nikki Bush, en ‘n deskundige in menslike potensiaal en ouerskap, ‘n vars briesie. Haar gematigde en verstandige stem met ‘n gesonde skeut gesonde verstand daarby, is presies waarna ouers en opvoeders smag. Nikki het die vermoё om moeilike, komplekse en sensitiewe onderwerpe na vore te bring en dit op haar unieke manier toeganklik vir ons almal te maak.
Nikki is in 2019 as ‘n Hall of Fame-spreker opgeneem – die eerste vrou in Suid-Afrika om hierdie toekenning te ontvang. In dieselfde jaar, is sy deur die Ford Motor Company erken as ‘n vrou met dryfkrag (a Women with Drive).
Nikki se aanbiedinge, werkwinkels, artikels en so meer, spreek van energie, passie, humor en ‘n innemende eerlikheid en kwesbaarheid. Future-proof Yourself (Penguin Random House), haar boek oor dans met ontwrigting (dancing with disruption), is in Julie 2021 gepubliseer. Sy was medeskrywer van verskeie topverkoperboeke oor ouerskap, insluitende Future-proof Your Child for the 2020s and Beyond (Penguin Random House, 2019) en het reeds meer as 3 500 media-onderhoude op haar kerfstok met weeklikse insette op Radio 702 en SABC3 se Expresso.
Vir meer inligting, besoek: www.nikkibush.com
