Skrywer: Nikki Bush
Hoekom is pa’s belangrik? Een van die positiewe gevolge van die pandemie, is dat mans ook van die huis af moes werk en steeds werk en daarom algaande besef het wat die antwoord op die vraag is.
Elke keer as ek saam met ’n span werk, voer ek een-tot-een-onderhoude met die personeel. Hieruit het ek agtergekom dat veral mans in bestuurs- of uitvoerende posisies, besef het dat hulle dit geniet om meer deel van hulle kinders se daaglikse lewens te wees. Hulle sien hulle by ontbyt, middag- en aandete en kan hulle dophou gedurende die dag. Daar is ook drukkies wanneer hulle van die skool af kom. Soveel anders as voor-Covid wanneer hulle dikwels laat saans tuis gekom het – net betyds om hulle kinders nag te soen.
Dus … hoekom is pa’s so belangrik in hulle kinders se lewens?
Die manier hoe pa’s hulle kinders behandel, het ’n enorme impak op kinders se latere selfwaarde en selfrespek.
Hier is vyf maniere vir pa’s om hulle vaderskappunte te verdien.
Ek noem dit die PAPPA-effek.
P – PRESENT (TEENWOORDIG)
A – AVAILABLE (BESKIKBAAR)
P – PROTECTIVE (BESKERMEND)
P – PROUD (TROTS)
A – ATTENTIVE (OPLETTEND/GEE AANDAG)
Kom ek verduidelik dit so:
– Wees teenwoordig – emosioneel, maar ook fisies
– Wees beskikbaar – moenie so besig wees dat jou kinders dink jy gee nie om nie
– Wees beskermend – pa’s is ’n simbool van fisiese en emosionele sekuriteit
– Wees trots – leer jou kinders om hulself waardig te ag deur hulle te waardeer en in hulle te glo
– Wees oplettend – gee aandag, luister, praat en deel
Ons het Sondag, 19 Junie, Vadersdag gevier. Tog, is daar talle kinders in ons land wat nie die voorreg het om die PAPPA-effek te ervaar nie. Trouens, ons woon in ’n land waar:
- Ons so dikwels sien en ervaar hoe sekere mans hulle mag misbruik – hetsy in ons eie geledere of op die nuus.
- Nagenoeg 60% van ons kinders afwesige pa’s het – soos bevind in ’n studie deur die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing en die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge. Hierdie vyf jaar lange studie beweer ook dat kinders wat sonder pa’s grootword meer geneig is om emosionele versteurings en depressie te ervaar.
My wens is dat alle kinders gemaklik sal voel om hulle pa’s se taaiheid en teerheid te kan vertrou. Maak daarom seker dat jou kinders nie bang is vir jou nie, maar moet ook nie al die dissipline-pligte aan hulle ma oorlaat nie. Daar is nie ’n “ideale” manier om ’n pa te wees nie en jy hoef ook nie ’n superheld te wees nie. Jou kinders wil eintlik maar net ’n alledaagse held hê – iemand wat op ’n werklike en tasbare manier daar is vir hulle.
Dit maak ook nie saak hoeveel geld jy maak of watter werk jy doen nie – solank as wat jy jou bes doen. Dit maak nie saak of jy jou liefdevolheid wys of jou kinders op ’n minder sigbare wyse liefhet nie. Die vraag is: Weet hulle dat jy lief is vir hulle en vir hulle omgee? Wat saak maak, is dat jy toegewyd is aan jou kinders en langdurig by hulle lewens betrokke is. Dat jy jouself met hulle deel en maniere vind om hulle te waardeer vir wie hulle is en nie net vir wat hulle doen nie.
Wat doen jy om jou vaderskappunte vanjaar by jou eie kinders te verdien, of om dalk ’n onbesonge held in die lewe van ’n ander kind te wees wat nie ’n pa as ’n rolmodel het nie?
- Reёl ‘n pa-en-dogter-afspraak
- Gaan op ’n pa-en-seun-avontuur
- Kamp saam met jou kinders in die tuin (wag maar tot dit warmer is!)
- Lees vir hulle stories voor as hulle jonger as 10 jaar oud is – jou stem klink uniek en het ’n spesiale plek in hulle harte
- Kook saam met hulle
- Leer hulle om ’n vuur te pak en aan te steek – so bly hulle ook veilig
- Volgende keer as jy die swembadwater toets (as julle een het), betrek hulle en wys hulle hoe dit gedoen word – dit is ’n wetenskapeksperiment
- Nooi hulle om saam kar te was – dit leer hulle die verantwoordelikheid en om vir hulle besittings om te gee
- Wys dat jy vir hulle ma omgee en haar respekteer
- Indien jy en jou kinders se ma nie in ‘n verhouding is nie, kry maniere om ‘n veilige en neutrale plek tussen julle te skep – ‘n spasie waar die kinders nie blootgestel word aan volwasse kwessies, indien enige, nie.
Meer oor Nikki Bush
In ‘n wêreld waar verwarrende menings en keuses ten opsigte van kinderontwikkeling en ouerskap hoogty vier, is die bekroonde spreker en topverkoperskrywer van vyf boeke, Nikki Bush, en ‘n deskundige in menslike potensiaal en ouerskap, ‘n vars briesie. Haar gematigde en verstandige stem met ‘n gesonde skeut gesonde verstand daarby, is presies waarna ouers en opvoeders smag. Nikki het die vermoё om moeilike, komplekse en sensitiewe onderwerpe na vore te bring en dit op haar unieke manier toeganklik vir ons almal te maak.
Nikki is in 2019 as ‘n Hall of Fame-spreker opgeneem – die eerste vrou in Suid-Afrika om hierdie toekenning te ontvang. In dieselfde jaar, is sy deur die Ford Motor Company erken as ‘n vrou met dryfkrag (a Women with Drive).
Nikki se aanbiedinge, werkwinkels, artikels en so meer, spreek van energie, passie, humor en ‘n innemende eerlikheid en kwesbaarheid. Future-proof Yourself (Penguin Random House), haar boek oor dans met ontwrigting (dancing with disruption), is in Julie 2021 gepubliseer. Sy was medeskrywer van verskeie topverkoperboeke oor ouerskap, insluitende Future-proof Your Child for the 2020s and Beyond (Penguin Random House, 2019) en het reeds meer as 3 500 media-onderhoude op haar kerfstok met weeklikse insette op Radio 702 en SABC3 se Expresso.
Vir meer inligting, besoek: www.nikkibush.com
