Sinkfondse, of stresverligters?
Meningstukke / Lindie van Gass
Liewe leser
Kry jy sommer ‘n hol kol op jou maag wanneer jy net dink aan Kersfees, die feit dat jy weet jou printer se vervanging kom een of ander tyd, of sommer net groot verjaarsdae en kardienste? Wat as ek vir jou sê met ’n bietjie selfdissipline kan jy beheer oor daardie stresvlakke neem? Ek gebruik hierdie riglyne in my eie lewe. Hulle sê as iets jou jou vrede kos, is dit te duur. En is hierdie nie presies wat gebeur nie? Sal dit nie lekker wees om in Januarie te kom en nié te voel of dit nege maande is voor Februarie nie?
Wat is die oplossing? ‘n Sinkfonds!
Sinkfondse kan op verskillende maniere gebruik word, maar in dié artikel se konteks gaan dit daaroor om jou te help om gemaklik groot uitgawes te dek wat jy weet in die toekoms gaan opduik, byvoorbeeld Kersfees, vakansie, verjaarsdae, motorbande, ensovoorts.
Wat gaan jy nodig hê?
Selfdissipline en ‘n spaarrekening wat nie jou normale gebruiksrekening is nie.
Hoe werk dit?
Jy gaan elke maand geld betaal aan die sinkfonds, sodat wanneer die groot uitgawe wat aan jou senuwees knaag opduik, dit gemaklik betaal kan word sonder dat jy vir een maand nie kan eet nie.
Byvoorbeeld: As jou groot bekommernis Desembermaand is, dan is dit goed om uit te werk hoeveel geld jy reg wil hê spesifiek daarvoor, soos byvoorbeeld R6 000. Is dit maklik om skielik R6 000 te moet uithaal in een maand? Vir seker nie! Is dit makliker om elke maand R500 te vind om jou vrede te bewaar in Desember? Natuurlik. Jy sit dan elke maand jou R500 in hierdie bankrekening wat spesiaal daarvoor bedoel is, en wanneer Desember kom, VOILA! Jy hoef nie te wonder hoe die geskenke gekoop word en die familie gevoed word nie.
As jy meer as een sodanige uitgawe per jaar het, tel net almal bymekaar en deel die bedrag deur 12.
Byvoorbeeld:
Jy wil voorsiening maak vir die volgende uitgawes:
- Jou motorbande gaan jou R3 000 kos om te vervang en dit gaan die jaar moet gebeur.
- Jou kar moet gediens word en dit behoort R3 500 te kos.
- Jy wil vir Januarie so R2 000 ekstra hê, net vir ingeval.
- Jou karlisensie moet hernu word vir R400.
- Jy wil spaar vir Kersgeskenke en begroot so R4 000 daarvoor.
- Jy wil begroot vir ‘n R1 000-geskenk vir jou huweliksherdenking.
- Jou gesigseep is elke September op uitverkoping en jy wil dan sommer vir die jaar koop, in totaal kort jy R1 800.
In totaal wil jy voorberei vir R15 700 se uitgawes gedurende die jaar. Jy kan dit doen deur R1 308 elke maand in die sinkfonds te sit. In plaas van om een maand jou volle kardiens te moet betaal en die volgende maand nuwe bande te moet koop, kan jy elke maand ‘n kleiner bedrag daarvoor opsy sit en die las sodoende versprei.
Dis nooit te laat om te begin nie. As jy hierdie maand al begin, kan jy nog steeds ‘n groot gedeelte van daardie rekening in Desember gespaar hê en dan in Januarie volstoom begin. Natuurlik maak dietydsberekening van die uitgawes ook saak, maar met ’n bietjie beplanning kan jy dit regkry. Hier onder kry jy ‘n Excel en/of PDF waarop jy dit kan uitwerk en vooruitskat.
Daarsy. So maklik soos dit. As jy hierdie strategie natuurlik kombineer met jou noodfondse, is jy al soveel nader aan finansiële vryheid!
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!

