Viskoekies kan op verskillende maniere voorberei en voorgesit word. Party mense verkies ’n gevormde viskoekie met ’n krummellagie, maar as jy eers dié maklike weergawe gemaak en geproe het, hoop ek jou gesin gaan net so baie soos myne daarvan hou. Terloops, dis ook baie lekker as deel van ’n kosblik.
Lewer ongeveer 24 koekies
1 x 410 g-blik sardyne in tamatiesous
45 ml (3 e) water
1 klein ui, gerasper
2 wortels, grofgerasper
60 ml (¼ k) koekmeel
2 eiers, geklits
125 ml (½ k) rou hawermout
60 ml (¼ k) blatjang of tamatiesous (opsioneel)
60 ml (¼ k) gekapte vars kruie, soos Italiaanse pietersielie en koljanderblare
fyngerasperde skil en sap van 1 suurlemoen
sout en peper
30 ml (2 e) olyfolie om in te braai
- Plaas sardyne met tamatiesous in ’n groot mengbak en druk dit met ’n vurk fyner. (Moenie die sagte graatjies uithaal nie, dis propvol kalsium.)
- Spoel die blikkie met die water uit en roer met die orige bestanddele, behalwe die olie, by die vis – dis ’n redelike loperige beslag. Meng goed deur en geur na smaak.
- Verhit ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n braaipan. Skep lepelsvol beslag in die pan en braai vir 3-5 minute aan elke kant tot goudbruin en gaar.
- Herhaal met die res van die beslag en nog olie, soos nodig. Hou viskoekies warm.
- Sit met slaai of groente van jou keuse voor.
Fotokrediet: Maak vyf, deur Heleen Meyer | Fotograaf: Neville Lockhart
Wenk
- Viskoekies vries uitstekend, so maak sommer ekstra om vir ’n volgende ete of die gesin se kosblikke gereed te hê.
Afrikaanse WOORD: Moenie dié twee vissies met mekaar verwar nie. Sardyne (pilchards in Engels) en sardyntjies (sardines) is wel familie, maar nie dieselfde nie. Veral wanneer jy dit in geblikte vorm koop, kan daar ’n groot verskil in prys wees. Sardyne word in ’n groter blikkie as die tipiese kleiner, plat blikkies sardyntjies verpak.
Fantasties Man!