Let wel: Sensitiewe onderwerp. Ouerbegeleiding is nodig.
Jy is besig om kos te maak en jou vyfjarige vra uit die bloute: “Mamma, wat is seks?” Nou-ja, voordat jy jou vinger raaksny of die lepel in die sous laat val, is die maklike antwoord natuurlik die eerlike een. Dalk iets soos: “Dit is hoe grootmense vir mekaar wys dat hulle lief is vir mekaar.” Die kans is groot dat dit jou kind se vraag gaan beantwoord en hoef jy vir eers niks verder te sê of te verduidelik nie. Maar, onthou – dis dalk die eerste van vele vrae oor seksualiteit. Daarom is dit raadsaam om voorbereid te wees, sodat jy die een is wat jou kind se vrae beantwoord. Trouens, dit is ons as ouers se verantwoordelikheid en ook ‘n voorreg om ons kinders oor seksualiteit en verhoudings in te lig.
“Wanneer dit kom by seksualiteit en verhoudings is dit ons waardes en manier van doen, wat ons kinders die verskil tussen reg en verkeerd, normaal en abnormaal, aanvaarbaar en onaanvaarbaar leer. Daarom is dit belangrik dat ons kinders sal weet dat dit oukei is om ‘nee’ te sê vir ’n volwassene – maak nie saak wie dit is nie.”

Dit is altyd die regte tyd
Maar wanneer is die regte tyd om my jong kind meer oor seks te vertel? Die kort antwoord is: Daar is nie ’n regte tyd, perfekte dag of spesifieke tyd nie. Jy moet van kleins af – van geboorte af – met jou kinders op ‘n ouderdomsgepaste wyse hieroor praat, maar op ’n informele wyse.
Volgens dr Elmari Craig, ’n internasionaal gesertifiseerde seksuoloog en verhoudingsterapeut, is sekspositiewe opvoeding steeds ’n dilemma en praat mense nie maklik daaroor nie. Dr Craig het onlangs op RSG met Anthea Fredericks, die aanbieder van die program, Groeipyne, gesels. Sy sê dit hang beslis af van jou eie seksualiteit en opvoeding oor hoe gemaklik jy daarmee gaan wees. Maar dat dit belangrik is om ons kinders in te lig, is ’n feit en maak ons hulle so weerbaar om self verantwoordelike besluite te kan maak. Gesonde seksopvoeding gee hulle waardering vir hulle eie liggame en leer hulle respek teenoor ander. Verder is dit ook die geleentheid om ons kinders se morele waardes, houdings en persepsies te vorm.
Begin eenvoudig
Hierdie is ’n gesprek wat deurlopend moet plaasvind en moet soos ’n alledaagse gesprek hanteer word. Openlikheid en eerlikheid is natuurlik die wagwoord. Jou kinders moet seksualiteit en die gesprekke daaroor as normaal ervaar. Dit is nie verkeerd of ’n taboe onderwerp nie. Daarom is dit so belangrik dat jy gemaklik in jou eie lyf moet wees. Hier is so ’n paar wenke:
- Gee altyd die feite. Dit is belangrik, sodat kinders nie banggepraat word oor allerhande mites wat bestaan nie. ’n Mens raas byvoorbeeld nie met jou vierjarige omdat hy aan sy privaatdele vat wanneer hy in die bad is nie.
- Verduidelik dat elke mens se geslagsdele – daardie dele wat deur ‘n baaikostuum bedek word – privaat en persoonlik is.
- Hou die kommunikasiekanale tussen jou en jou kind oop.
- Leer jou kinders om met jou te praat as iemand anders aan hulle geslagsdele wou vat of daarna wou kyk.
- Hulle moet dus altyd veilig voel en die vrymoedigheid hê om met jou te praat oor ongemaklike of onseker situasies. Moet dus nie veroordelend optree nie.
- Hanteer elke gesprek en vraag of situasie met kalmte en begrip, selfs al voel jy dalk die vraag is nie heeltemal ouderdomsgepas nie. (’n Goeie en eerlike verhouding met jou kind maak dit makliker.)
- Dit is nie ’n geheim nie. Verduidelik dat geheime net te make het met geskenke en verrassings en dat hulle enige ander sogenaamde “geheime” met jou moet deel.
- Normaliseer biologiese veranderinge. Sodat jou tiener weet dis normaal om bewus te raak van hulle eie seksualiteit.
- Lig jou kind betyds in oor menstruasie, selfontdekking, en so meer. So vermy jy skok, skuldgevoelens en negatiewe ervarings.

Nog riglyne wat kan help:
- Verduidelik wat jou waardestelsel is en dat keuses goeie of slegte gevolge kan inhou.
- Intimiteit is kompleks. Verduidelik vir jou kind dat dit nie net oor die seksuele daad gaan nie. Daarom is dit belangrik om jou kind te leer dat dit ook met die emosionele gepaardgaan.
- Koester en versterk jou kind se selfbeeld en selfwaarde na die beste van jou vermoё sodat hulle nie aanvaarding elders probeer kry en in situasies beland waarvoor hulle nog nie emosioneel gereed is nie.
- Bemagtig jouself. “Vind uit wanneer jou kind se skool hierdie ontwikkelingstadia in die klas bespreek. As jy nie saamstem met hulle benadering nie of vrae het, is dit jou goeie reg om met die onderwysers daaroor te gesels.”
Wie doen die praatwerk?
Is dit so dat die pa met die seun praat en die ma met die dogter? Dr Craig reken dat dit baie afhang van jou verhouding met die spesifieke kind. Albei ouers moet dus gemaklik wees om met hulle kinders (seun en/of dogter) te gesels. Solank dit ’n veilige ruimte is waarbinne die kind die vrymoedigheid het om sy vrese of vrae te uiter.
Soms is ’n rolmodel (soos ’n onderwyseres of tannie) ’n beter keuse om met kinders te gesels, want party kinders is gewoon net nie gemaklik om met hulle ouers hieroor te praat nie.
Hoeveel detail is nodig?
Dit is belangrik om die feite oor te dra. Hoeveel en presies wat jy sê, sal afhang van die kind se ouderdom, kennis, waardes en begrip. As ’n kind meer wil weet, sal hy gewoonlik nog ’n vraag vra.
Om eerlik met jou kind te wees, gee hulle die vermoë om die saak krities te benader, te evalueer en te bevraagteken. Veral as hulle sekere “feite” by maats gehoor het of iets in die media gesien of gehoor het.
Kliniese sielkundige, Wilma Beukes vul hierby aan soos volg: “Jonger kinders is uiteraard nuuskierig oor hulle liggaamsdele. Ek ervaar dit juis op die oomblik met my eie seuntjie. Hy is gefassineer deur die feit dat mammas en pappas en seuntjies en dogtertjies se liggame verskillend lyk. Daarom is dit vir my ouderdomsgepas om met jonger kinders oor die verskillende liggaamsdele te praat en dit te benoem. As jy nou spesiale woorde of benamings wil gebruik vir spesifieke liggaamsdele, is dit natuurlik nie verkeerd nie, maar uit my eie ervaring, is dit tog wel bemagtigend as ’n mens sonder skaamte of ongemak ’n seksuele orgaan op sy naam kan noem. Vra jouself as ouer die vraag: ‘Is ek skaam of bang om oor hierdie liggaamsdeel te praat?’
“Vir my doen ’n mens dit reg as jy wanneer die kind jonk is, praat oor toepaslike grense. Hulle moet weet dat niemand aan hulle liggame mag vat nie. En om te gesels oor die verskil om self jou liggaam te ontdek of om gefassineer te wees met jou eie genitalieё, teenoor om ander persone s’n aan te raak. Dit is so belangrik om privaatheid te verstaan.”
Wilma gee ook die wenk dat dit nuttig kan wees om vir jonger kinders met behulp van prentjies waarmee jy gemaklik voel, te vertel waar babas vandaan kom. Jou plaaslike biblioteek behoort ook boeke oor die onderwerp te hê sodat jy weet wat is ouderdomsgepas. Of anders is die internet ook ’n nuttige bron (kyk onder die bronnelys vir voorstelle van geskikte webtuistes).
Jy mag maar later antwoord
Wilma sê ook: “As jy nie gereed is om ’n vraag te beantwoord nie, is dit belangrik om eerlik met jou kind te wees. Sê vir hom dat jy tyd nodig het om oor die vraag te dink sodat jy dit op die beste manier moontlik kan beantwoord.

Puberteit
“As jy jou kind van die pil en kondome vertel, moedig jy hulle beslis nie aan om te eksperimenteer nie. Jy bemagtig hulle, sodat hulle ingeligte besluite kan neem en die wysheid sal hê om te wag.”
– Dr Eve (Dr Marlene Wasserman, kliniese seksuoloog en verhoudingskenner)
Tydens puberteit raak dit soms ingewikkeld. Jy sit nou met ‘n kind wat selfbewus is, emosioneel op ’n wipplank is, liggaamsveranderinge ondergaan en met hormonale veranderinge moet saamleef. Dit is wanneer daardie verhouding tussen julle ekstra aandag verg.
“As jy ongemaklik is, of skaam voel, is die beste raad om daaroor te kom. So plant jy die saadjie vir die nageslag, want jou kinders sal waarskynlik dan met dieselfde vrymoedigheid eendag met hulle kinders praat.
“Jou kind se persoonlikheid sal bepaal hoe jy oor seks gesels. Party kinders is gemaklik om gewoonweg daaroor te gesels, ander kinders is skamer en verkies situasies waar oogkontak tot ‘n minimum beperk word. Dalk werk ‘n e-pos of briefie beter in julle geval. Hoe ook al – moenie wegskram nie. Dit is nie die skool, kerk of ander familielede se verantwoordelikheid nie.”
Jy kom agter jou tiener is seksueel aktief. Hoe hanteer ’n mens dit?
Wat jy beslis nie moet doen nie is om te “oorreageer” nie. Dit is juis die aangewese tyd om op ’n dieper vlak, maar steeds gemaklik, daaroor te praat. Dr Eve glo dat ouers met hulle kinders moet praat oor emosies en verhoudings, liefde, selfrespek en selfwaarde en die redes waarom die kind besluit het om ’n seksuele verhouding te hê.
Wilma sê dat daar altyd plek is vir deursigtigheid. Verwoord jou bekommernisse, vrese en waardes, maar dit is tog belangrik om die kwessie op so ‘n manier aan te raak dat ons kinders besef hoe ons daaroor voel, maar dat dit hulle nie sal laat sleg of skuldig voel nie.
“Keuses het gevolge en dit is iets wat ons ons kinders kan leer. Leer hulle dat liefde grense het en dat as jy ‘n spesifieke keuse maak, daar spesifieke gevolge sal wees.”
Dr Eve maak ook die stelling dat “indien kinders te jonk met seks begin, dit gewoonlik is omdat hulle ’n behoefte aan aanvaarding het – dit dui dus op swak selfwaarde”.
Seksuele mishandeling
As ‘n mens vermoed dat ‘n kind aan seksuele trauma of mishandeling blootgestel is, is dit belangrik om vas te stel wat presies aan die gang is.
Kinders kan uit die bloute nagmerries kry, of skielik weer bed natmaak, of ontoepaslike seksgedrag vir hulle ouderdom openbaar. Dalk is dit blote nuuskierigheid of selfontdekking, maar dit kan ook daarop dui dat hulle aan ontoepaslike gedrag blootgestel is. Omdat seksuele mishandeling ’n bedreiging vir al die kinders in ons land is en ons kinders ten alle koste daarteen moet beskerm, mag ons onder geen omstandighede gevaarligte, hetsy ongegrond of nie, ignoreer nie. Ondersoek die saak met die nodige omsigtigheid en met behulp van kenners en aangewese instansies en tree daadwerklik op. (Kyk in die blokkie onderaan die artikel vir meer inligting.)
En wat van gender- of geslagdiversiteit?
Dr Craig maan dat ’n mens die onderwerp nie moet oorkompliseer nie. Wat ons wel aan ons kinders kan oordra, is dat alle mense nie dieselfde is nie en ook nie seksualiteit dieselfde ervaar nie. Daar is nie ’n reg of ’n verkeerd nie en dit is ook nie nodig om ’n uitspraak daaroor te maak nie. Wat wel belangrik is, is dat ons almal respekteer en met begrip en empatie optree.
’n Slotgedagte
Onthou, jy is nie die enigste persoon wat dalk skaam en ongemaklik is om met jou kind oor seks te praat nie. Wees maar op die uitkyk vir geleenthede om oor sekere kwessies te gesels. Wat wel belangrik is, is om self verantwoordelikheid te neem vir die holistiese opvoeding van jou kind. “Dis jou voorreg om jou kind lewenslim, maar ook lyfslim te maak.”

Daar is talle plekke wat gereed staan om slagoffers van geslagsgebaseerde of huishoudelike geweld by te staan. Die departement van maatskaplike ontwikkeling het ʼn 24 uur-beheersentrum teen geslagsgebaseerde geweld op die been gebring. Die sentrum kan gekontak word by 0800 428 428 of ʼn Please Call Me kan gestuur word deur *120*7867# van jou selfoon af te skakel. Die beheersentrum verskaf traumaberading en bystand en kan slagoffers ook in kontak bring met die polisie of ʼn maatskaplike werker.
Ander instansies wat gekontak kan word:
LifeLine 086 132 2322
Women Abuse Helpline 0800 150 150
Stop Misdaad 08600 10111
Childline 0800 055 555
Bronne:
Dr Wilma Beukes, kliniese sielkundige in Kuilsrivier, Kaapstad
Luister die potgooi op RSG – 2 Junie 2022: Die program “Groeipyne” op RSG het onlangs die onderwerp bespreek. Anthea Fredericks het met dr Elmari Craig, ‘n internasionaal gesertifiseerde seksuoloog en verhoudingsterapeut gesels. Klik hier.
Dr Etienne Kok, ’n seksuoloog van Pretoria, in gesprek met Ilse Salzwedel (2016). Klik hier.
Die waarheid oor jou tiener en seks (2008). Raad deur Dr Eve (Dr Marlene Wassenaar). Klik hier.
Hoe praat jy met jou kind oor seks? (2018). Klik hier.
Huishoudelike geweld – kry so hulp – klik hier.
Om af te laai:
’n Hulpbron vir ouers, versorgers en onderwysers: Ons lyfies – hoe om met kinders oor seksualiteit te praat deur Edith Kriel en Marita Rademeyer. Klik hier.
Lees ook:
Wat moet sussie weet oor seks (Baba & Kleuter – 2018)
Kinderontvoering en mensehandel: Maroela Media