Groot planne om die Louwhuis op Sutherland weer tot volle glorie te herstel
Skrywer: Alita Steenkamp
Oor die jare het Sutherland, die yskoue Karoodorpie wat gereeld spog as die koudste plek in die land, veral bekend geword vir die Sutherland Sterrewag wat jaarliks duisende internasionale besoekers lok. Maar Sutherland is ook om ʼn ander rede bekend. Dit was die groot Afrikaanse digter N.P. van Wyk Louw en sy talentvolle digterbroer W.E.G. Louw se komvandaan. Sitterland, soos Louw in vele geskrifte daarna verwys het. Een van die huise in Sutherland, op die hoek van Northumberland- en Jubileestraat, is die geskiedkundige huis waar die Louws van 1905 tot 1920 gewoon het. Hierdie huis is in die tagtigerjare as museum in gebruik geneem – Louwhuis ter ere van hierdie bekende broers.
Gerard Scholtz, boekeredakteur en insetselvervaardiger by De Kat, vertel dat hy nog altyd die droom gekoester het om ʼn draai by die Louwhuis te maak. As skrywer en passievolle liefhebber van poësie, is dit goed te verstane dat hy graag die grootwordplek van die Louw-boeties eerstehands wou beleef. Hy en sy vrou Anuta het ʼn besoek aan Sutherland gebring om hierdie droom te bewaarheid. Toe hy egter voor die geslote Louw-huis staan, het hy die volgende boodskap op die hek gelees: Louw Museum: Tydelik gesluit. Louw se Rakas het die huis geplunder, verniel. Ons hoop om dit binnekort te herstel. Gerard het nie moed opgegee nie en uiteindelik daarin geslaag om ʼn sleutel van die huis/museum te bekom. In ʼn brief beskryf Gerard daardie eerste oomblik in die geplunderde museum soos volg:
Ek en my kamera het vanoggend alleen ‘n heiligheid betree. Ek het sleutels van die Louwhuis na maande se moeite gekry en moes ek eers deur stof en jare se verwaarlosing waad. Die binneluike het ek begin oopmaak om lig in te laat. Voor my lê die lewens van die Louws in gebreekte vase, verflenterde dokumente en geskrifte, verwaarloosde meubels, en rommel in stof op die plankvloere. ‘n Groot gat is deur die solderplafon gebreek, waar die vandale ingekom het, wat lig op stugge portrette, plastiek skoolstoele en ‘n ou fiets laat val. Ook op boeke wat rondlê en verkrummel. In ‘n hoek staan ou bokse vol dokumente. Vergeel en verdun deur tyd.
Vir Gerard was hierdie verval pynlik om raak te sien. Oor die jare het gebrekkige finansiering ʼn geleidelike agteruitgang tot gevolg gehad. Ook die museumraad wat aan die stuur van die museum gestaan het, het bedank maar uiteindelik was dit Covid-19 en die inperkingstyd wat die finale spyker in die doodskis was. Rondlopers het by die huis ingebreek en heelwat skade aangerig. Gerard het daar op die werf van die Louwhuis gestaan en ʼn besluit geneem om dinge nie net daar te laat nie. Daar was steeds soveel kosbaarhede, dokumente, skilderye en kosbare artefakte wat nie so aan die verwaarlosing oorgelaat mag word nie.
Gerard het begin briewe skrywe aan die Louw-familie en op die naweek van 21 Mei 2022 het ʼn klomp belangstellendes vir ʼn werkswinkel opgedaag waar beplanning gedoen kon word vir die bewaring van hierdie kleinood. W.E.G. Louw se seun Paul en sy kleinseun Wilhelm, prof Matilda Burden, ʼn kultuurhistorikus van Stellenbosch, die digter Daniel Hugo en ʼn Gentse literator prof. Yves T’Sjoen was onder meer teenwoordig.
Tydens die werkswinkel is daar ʼn tussentydse raad verkies om in die volgende paar maande alles in die stryd te werp om die museum te red en weer die plek tot volle glorie te herstel. Daar sal ook besluit moet word hoe die opgeknapte eiendom uiteindelik benut sal word. Sal dit bloot ʼn statiese museum en historiese toerisme-aantreklikheid wees, of kan dit dalk ʼn “lewendige museum” word waar brood in die buiteoond gebak word, en voornemende skrywers hier in ʼn skrywershuis kan tuisgaan.
Gerard Scholtz, wat intussen ook self twee eiendomme op Sutherland gekoop het, het reeds van sy eie werkers ingestuur om die werf so ʼn bietjie netjies te maak. Heel eerste wil hy graag die windpomp op die erf herstel sodat die leivoor weer vol water kan wees en daar so ʼn bietjie tuin gemaak kan word. Hy lag en sê hy sien plate wit Iceberg-rose wat oor ʼn jaar of wat daar vol in die blom sal staan. Nou word daar dringend na finansiering gesoek om hierdie droom ʼn werklikheid te maak.
“Die Louwhuis en Museum moet weer die trots van die dorp word,” sê Gerard. “My droom is dat ons ʼn skenker kan kry om die naburige eiendom as ʼn anneks aan te koop waar die volledige geskiedenis van die dorp en al sy mense kan tuisgaan. En dat die werf weer sal word soos wat NP van Wyk Louw in sy vers Beeld van ʼn jeug: Duif en perd beskryf:
Ons agterplaas die flikker van die son
en bo die staldeur pronk my rooi-bont duif;
Waar agter in die donker die swart hings
ruk aan sy ring, sy pote stamp en snuif.
Die helderte is oor my boek en in
my oë, die gruis is warm aan my skeen;
my duiwetrop lê wit en bruin en blou
soos lappies warm wasgoed om my heen.”
Enigeen wat betrokke wil raak of iets kan bydra, kan Gerard kontak by fluisterbos@gmail.com of skakel op 083 388 8209.