Kies ʼn boek om hierdie Vadersdag aan ʼn spesiale pa te gee
“Boeke is ’n geskenk wat jy weer en weer kan oopmaak.” Hierdie wyse woorde van die Amerikaanse skrywer Garrison Keillor, verwys beslis na die vreugde wat ʼn boek bring. ʼn Vreugde wat lank aanhou nadat jy dit vir die eerste keer oopgemaak is. Sondag vier ons Vadersdag hier aan die suidpunt van Afrika. Wat gee jy vir ʼn pa wat reeds soveel dinge het? Tog net nie weer ʼn pak kouse of ʼn boks sjokolade nie. ʼn Mens hoef gelukkig nie heeltemal te ver te gaan soek indien jy besluit om vir jou pa ʼn boek te gee nie. Daar is tans uitstekende Afrikaanse boeke op die rak en Afrikaans.com beveel graag die volgende vyf boeke aan wat onlangs verskyn het. Jou pa sal dit nie kan neersit nie.
1. Tenk Pieter Stoffberg Penguin Random House
Dis die laaste paar maande van 1987. In Operasie Modulêr, ʼn werklike weermagoperasie in Angola, kom die nuwe Olifant-tenks van die Suid-Afrikaanse Weermag en die Russiese T-55 tenks teen mekaar te staan. Tenk, ‘n oorlogsroman van Pieter Stoffberg is feitefiksie. Ware feite, maar fiktiewe karakters. ʼn Uitstekende boek oor ʼn gebeurtenis wat nog nie voorheen werklik in die kollig gekom het nie. Resensent Fanie Olivier beskryf dit soos volg: “Stoffberg slaag daarin om lesers maklik vertroud te maak met ʼn ongemaklike gegewe veral omdat die verhaal vlot vertel word, tegniese inligting selde te veel word en weermagsleng nie oordonder nie. Maar, veral, omdat die klomp verskillende karakters oortuigend en selfstandig uit die verf kom. Dit is alles dinge wat Tenk kan bevestig as ʼn roman wat ʼn mens van ʼn goeie skrywer sou verwag.”
2. Zanzibar Zen – Marnus Hattingh Queillerie
Zanzibar Zen, Marnus Hattingh se aksieroman wat aan die einde van April vanjaar verskyn het, beloof om saam met die spanning, ook pret te wees. Die lyk van ʼn toeris spoel êrens op die eiland Zanzibar uit. Die joernalis Toast le Roux is in die midde van die aksie en daar is wilde jaagtogte op Vespa-bromponies en Dala dala-taxi’s. Oorgenoeg skobbejakke, maar ook dapper helde is die karakters wat die roman inkleur. Resensent Charles Smith som die boek soos volg op: “Zanzibar Zen is meer ʼn groen-aksieroman as spanningsroman, In dié heerlike boek, in keurige Afrikaans, ideaal vir ʼn naweek-wegbreek, verken jy Zanzibar se ryk kultuur en geskiedenis van slawehandel. En Toast? Hy kry die storie én blonde toeroperateur, Heike. Oor haar sou ek meer wou lees.”
3. Alle Sondaars welkom – Jaco Strydom Lux Verbi
In Alle Sondaars welkom, deel Jaco Strydom, leier van die Echo-gemeenskap maar ook rubriekskrywer en blogger ʼn paar van sy essays en gedigte oor verskeie lewenskwessies. Niks daarvan is lig nie en alles is beslis stof tot nadenke. Iets wat beslis duidelik uitkom in hierdie verskeidenheid gedagtes op papier is Strydom se liefde vir armes en gebrokenes. Hy draai nie doekies om nie maar daag jou uit om eerder die balk in jou eie oog, as die splinter in die oë van iemand anders, raak te sien. Die resensent, Dr Cas Wepener, som dit so op. “Alle Sondaars welkom disoriënteer en daag uit, maar nie om my daar te los nie. Inteendeel, dit word gedoen sodat ʼn ander visie in die plek van die bestaande kan kom. Hy help lesers om ook nuwe scenario’s vir optrede te verbeel. En tog is hierdie ander visie en nuwe scenario’s wat na die ontwrigting begin deurskemer, eintlik net die ou-ou storie, of in die taal van die Hallelujalied is dit “die ou-ou tyding”, spesifiek “Van Jesus Sondaarsliefde” en Jaco Strydom “bring dit eenvoudig.”
4. Monster – Rudi van Rensburg NB Uitgewers
Rudie van Rensburg het hom oor die afgelope paar jaar as een van Afrikaans se top misdaadskrywers bewys. Monster is geen uitsondering nie. Op 2 Oktober 2018 word die joernalis Jamal Khashoggi, in die Saoediese konsulaat in Istanbul vermoor. Gerugte doen die rondte dat dit in opdrag van die kroonprins van Saoedi-Arabië gebeur het juis omdat Khashoggi so kritiese teenoor die land en sy regeerders was. Tog is Westerse moondhede traag om hierdie gebeur te veroordeel. In Monster meng Van Rensburg feite met fiksie en ʼn fiktiewe karakter, ʼn Suid-Afrikaanse joernalis, word dan getuie van hierdie moord op Khashoggi. Carl Bester, ʼn karakter waarmee lesers al in van Van Rensburg se ander boeke kennis gemaak het, werk vir ʼn klandestiene arm van die CIA. Hy kry opdrag van die CIA om die getuie en die bewyse te beveilig. En dan is daar ook die geheime tussenganger, Bahir, wat Saoediese sake in Suid-Afrika onder ʼn dekmantel orkestreer. Resensent Anschen Conradie kom tot die volgende gevolgtrekking oor Monster: “Bahir se ware identiteit bly vir beide die leser en die karakters ’n tergende geheim tot by die slottonele en dien as addisionele bron van intrige, wat op sy beurt sterk bydra tot die spanningslyn. Die ontmaskering van sy ware identiteit is ’n hoogtepunt in die roman en verteenwoordig ’n verdere kinkel in die kabel, naamlik Suid-Afrikaanse magte wat, soos die destydse Amerikaanse president, ten alle koste nie die Saoedi’s wou affronteer nie, uit vrees vir weerwraak op ekonomiese gebied.”
5. Die wet van Gauteng – Hannes Barnard Human & Rosseau
Hannes Barnard het in 2019 met Halley se Komeet, ʼn roman vir jong volwassenes gedebuteer. Met Die wet van Gauteng takel hy ʼn politieke riller. Forensiese spesialis kaptein Cindie McKelly word gekonfronteer met ʼn reeksmoordenaar wat die linkeroë van sy slagoffers verwyder. ʼn Taakspan word aangestel om hierdie moordenaar, “die oogarts” op te spoor. Resensent Jonatan Amid verwys na Hannes Barnard as ʼn “veelsydige, ambisieuse vakman wat vroeg reeds die kompleksiteit van genrefiksie intuïtief verstaan.” Hy som hierdie boek soos volg op: “Die wet van Gauteng word sonder tierlantyntjies en fieterjasies vertel. Dis juis die strukturele en tegniese vaardigheid – tesame met die genotvolle karakterisering van uiteenlopende figure aan albei kante van die gereg – wat hierdie spanningsroman bo die gemiddelde verhef. Dis uitstekende vermaak. Punt.”
Maak dus jou keuse en gee aan jou pa ure se leesgenot!