Skrywer: Nicolette Kritzinger
“Lees is die paspoort na ’n wêreld se avonture”
– Mary Pope Osborne
Junie is jeugmaand en ter viering van die jongspan, bied ons jou ’n keur van NB-Uitgewers se nuutste kinder- en jeugboeke. Open ’n wêreld van avonture vir jou kind met hierdie uitstekende leesstof.
1. Verf en leer: Kleure |
Verf en leer: Kleure
ISBN-13: 9780798182928
Uitgewer: Human & Rousseau
Leer jou kleure én leer tel deur oor en oor lekker te verf sonder gemors! Hierdie hardebandboeke het versteekte prente om te vind sodat kinders na die kleure kan kyk! Kinders kan water oor die wit agtergrond verf en kleur sal verskyn. Die kleur sal weer verdwyn en die prente kan oor en oor gebruik word. ‘n Kwas word ingesluit! iSeek Ltd is ’n kinderboekuitgewer gesetel in die VK. Hulle skep interaktiewe en vermaaklike kinderboeke asook produkte wat as familiegeskenke dien.
2. Pret met Afrikaans Eerste Addisionele Taal in Graad 3 |
Pret met Afrikaans Eerste Addisionele Taal in Graad 3
Mart Meij en Best Books-paneel
ISBN-13: 9781776073146
Uitgewer: Best Books
Dié werkboek is ontwikkel volgens die vereistes van die kurrikulum en assesseringsbeleidsverklaring. Aandag word gegee aan woordeskat wat die kind hardop moet herhaal sodat die kind teen die einde van die grondslagfase vlot kan praat en gegradeerde leesstof in Afrikaans kan lees. Die werkvelle en oefenbladsye, wat die kind saam met die praatwerk moet doen, bied geleentheid vir inoefening en inskerping. Die inhoudsopgawe dui ook duidelik aan tydens watter week die betrokke aktiwiteit voltooi moet word om die stelselmatige progressie van vaardighede aan te leer.
3. Vuurvreter |
Vuurvreter
Joha van Dyk
ISBN-13: 9780798182829
Uitgewer: Human & Rousseau
Malherbe Albertyn, oftewel Vuur, beplan om sy somer in Kransbos te spandeer om die magiese Ylwoud te vind. Desperaat op soek na die antwoorde, na iets buiten die bloedskuld wat hy en sy bendebroers steeds in die arena betaal. Desperaatheid dryf ook vir Mieke om te waag om haar drome na te jaag. Kan sy ontsnap deur saam met Malherbe in ‘n onvoorspelbare bos te gaan verdwaal? Is Ylwoud die antwoord op Malherbe se suster se verdwyning?
4. Spel |
Spel
Annerle Barnard
ISBN-13: 9780624092889
Uitgewer: Tafelberg
Die sewentienjarige Lukas is een van ’n handjievol oorblywende mense ná die aarde deur kuborge, transterrane en robotte oorgeneem is. Hy en Dimpho boer op Lukas-hulle se plaas in die Bloemfontein-omgewing. Wanneer hongersnood die voortbestaan van die superwesens bedreig, stel die wrede heerser Dakian ’n bose plan in werking om Lukas te vang en toegang tot sy oorlewingstrategieë te verkry.
5. Die stoutste klas op aarde word stouter |
Die stoutste klas op aarde word stouter
Joanna Nadin, Kobus Geldenhuys
ISBN-13: 9780798182997
Uitgewer: Human & Rousseau
Volgens die skoolhoof is 4B DIE STOUTSTE KLAS OP AARDE. Sy sê skool gaan nie oor leeglê en lyf wegsteek, of pret hê nie. Dit gaan oor LEER. Maar Alex en Manjit het LETTERLIK nie bedoel om die toilette te verstop terwyl hulle die skoolgrond moes oppas nie. En hulle het definitief nie bedoel om LETTERLIK ‘n pikkewyn vanaf die dieretuin skool toe te bring na hulle skooluitstappie nie. Hierdie goed gebeur net, al het hulle ‘n perfekte plan gehad om daarmee weg te kom!
6. Die Sproetebessies en die hart van die Swart Roos |
Die Sproetebessies en die hart van die Swart Roos
Troula Goosen
ISBN-13: 9780798182812
Uitgewer: Human & Rousseau
Milan, Andante en Nova gaan na ’n musiekfees om die beroemde popster, Tyrion, te sien optree, maar daar wag ’n groter avontuur … Milan beland op die verhoog saam met die Kaalbas Kitare en uit die bloute ontvang hulle ’n uitnodiging om ’n slypskool by ’n eksklusiewe superster-akademie by te woon. Maar daar skuil ’n donker geheim op Die Swart Roos en die drie van hulle moet vinnig plan maak – net soos toe hulle eens die bekende Sproetebessie-bende was.
7. Die dodelikste donuts in die heelal |
Die dodelikste donuts in die heelal
Cecilia Steyn, Johann Strauss
ISBN-13: 9780798182690
Uitgewer: Human & Rousseau
Wynand se ma is nou wel ‘n superheldin met supersoniese, superheldin-tekkies, maar dit beteken niks in hulle kombuis nie. Sy wil sowaar haar aaklige groen muffins vir die skool se jaarlikse koekverkoping bak! Maar Wynand maak ‘n ander plan: sjef Sprinkles in New York se beroemde donuts is gratis en hulle versend reg oor die wêreld! Wat kan tog fout gaan?
8. My eerste tweetalige woordeboek/My first bilingual dictionary |
My eerste tweetalige woordeboek/My first bilingual dictionary
Miles Kelly
ISBN-13: 9780798182638
Uitgewer: Human & Rousseau
Kinders kan hulle wêreld met hierdie prettige eerste woordeboek verken en die name van allerlei dinge rondom hulle leer. Elke bladsy is vol prente en dinge om te soek en oor te praat. Dié boeke is hardeband met volkleurillustrasies.
9. Katastrofe |
Katastrofe
De Wet Hugo, Martinus van Tee
ISBN-13: 9780798182317
Uitgewer: Human & Rousseau
’n Katastrofe het Katjiesfontein getref! Die geld wat mevrou Mynie Koen vir die talentkompetisie geskenk het, is van juffrou Katoliek se lessenaar af gesteel. Leo is seker dit was daardie boelie, Spiertier. Tiere soek mos altyd skoor! Of dalk het dit iets te doen met Gato, die vreemde nuwe leerling in Laerskool Katedraal wat van Katalonië af kom. Maar skielik dink almal Leo was die dief! Hoe gaan hy sy onskuld bewys en vir Spiertier uitvang? En wie gaan die talentkompetisie wen?
10. Eerste Liefde Omnibus 2 |
Eerste Liefde Omnibus 2
Janie Oosthuysen, Helen Brain
ISBN-13: 9780798182706
Uitgewer: Human & Rousseau
Drama, humor … en natuurlik liefde en liefdesdriehoeke. In Ouens is nes ekstra bagasie moet Barbara die vakansie by die Turkana-meer spandeer waar haar pa opgrawings doen en dokumentêre films maak. In Liefde is nie tjoklits nie is Tamara vir die eerste keer in haar lewe smoorverlief en ’n makeover is haar enigste hoop. In Soene op ’n Suzuki het Lizanne skaars die supervatterige Gerhard afgesê, of haar ma pers haar af om met hom op te maak.