Persverklaring
“Want mens moet weet …”
Is jy die volgende kenniskampioen? Weet, die Afrikaanse e-naslaangids vir leerders, gaan elke kwartaal ʼn vasvrawedstryd saamstel en aan skole versprei.
Weet het tydens sy bekendstellingsgeleentheid ʼn vasvrae-kompetisie tussen vier plaaslike laerskole aangebied. Die opwinding was groot en die spanne het behoorlik geskarrel en gespook om eerste die regte antwoord in te dien.
Intussen het navrae vir nóg vasvrawedstryde ingestroom. Natuurlik wil ons ag slaan op die gemeenskap se versoeke en daarom gaan Weet elke kwartaal vasvrae saamstel. Skole kan dan dié vasvrae vir interne algemenekennis-kompetisies gebruik.
Die dertig vrae in die onderskeie vasvrae sal kurrikulum-onderwerpe dek, maar ook die net wyer gooi met interessanthede wat kinders dalk nie op skool leer nie. Al die antwoorde sal op Weet beskikbaar wees en deelnemers sal dus maklik die antwoord kan opsoek as hulle dit nie self ken nie.
Die formaat van die vasvrae is buigbaar, maar ʼn goeie metode is om ʼn tydsbeperking van 10 of 20 minute te stel, waarbinne die deelnemende spanne soveel as moontlik vrae moet beantwoord.
Meer oor die Weet-platform
Weet is ‘n aanlyn ensiklopedie en e-naslaangids vir leerders. Met dié platform wil ons aan leerders toegang gee tot goeie gehalte, betroubare inligting in Afrikaans, aanvullend tot die skoolkurrikulum, wat hulle in staat sal stel om naslaanwerk vir skooltake en -opdragte in Afrikaans te doen. Sodoende dra ons by tot Afrikaans-moedertaalonderrig op skool.
Skole, leerders en ouers word ook aangemoedig om ons te laat weet as hulle inligting soek en dit nie op Weet vind nie – ons skep graag inhoud wat aan ons mark se behoeftes voldoen! Weet is ʼn inisiatief van Maroela Media.
Kontak Weet gerus as jou skool ook deel wil word van die Weet-kenniskampioenskappe!
Vir meer inligting: Petronel Fourie, projekbestuurder: Weet by petronel@weet.co.za