’n Goeie resep vir frikkadelle is een van daardie wat jy maar altyd byderhand kan hou. Dis maklik om te maak en is ewe lekker warm of teen kamertemperatuur. Perfek vir ’n piekniek, ’n ete op ’n warm dag, vinnige pasta-aandete en natuurlik kosblikke. ’n Jogurtsous (sien my wenk) of hummus is ’n heerlik doopsous daarmee saam.
Lewer 6 – 8 porsies
1 kg beesmaalvleis
15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil
20 ml (4 t) gemaalde koljander
25 ml (5 t) gemaalde komyn
80 ml (⅓ k) gekapte vars kruie, soos ’n mengsel van Italiaanse pietersielie, tiemie, origanum en koljanderblare, of dit waarvan jy hou
1 klein ui, baie fyn gekap
60 ml (¼ k) rou hawermout
2 middelslag wortels, grofgerasper
2 eiers, geklits
sout en peper na smaak
olyfolie om in te braai
- Plaas maalvleis in ’n groot mengbak en breek met ’n groot vurk uitmekaar. Voeg al die orige bestanddele, behalwe die olie, by en meng goed deur met jou hande.
- Geur na smaak en rol in klein frikkadelletjies.
- Verhit intussen ’n dun lagie olie oor matige hitte in ’n groot braaipan. Verbruin helfte van die frikkadelle aan beide kante tot goudbruin, maar nog nie gaar nie. Herhaal met orige frikkadelletjies en olie.
- Plaas al die frikkadelle terug in die pan. Verlaag die hitte en prut met ’n deksel vir 5-8 minute of tot net gaar. Die frikkadelle moenie droog wees nie. Sit frikkadelletjies warm of teen kamertemperatuur met die bykosse van jou keuse voor.
Resep deur Heleen Meyer | Fotograaf: Adel Ferreira
Wenke
- Meng 15-30 ml fyngerasperde vars gemmer saam met die speserye by die maalvleis.
- In die oond gebak: Pak die frikkadelle in ’n oondbak, skink 100 ml sterk Rooibostee of ’n blikkie gekapte tamaties oor en bedek met foelie. Bak teen 180 °C vir 20 minute. Verwyder die foelie en bak nog 20 minute of tot goudbruin en gaar.
- Maak ’n vinnige doopsous: Geur 250 ml gewone jogurt met 30 ml (2 e) gekapte vars koljanderblare, 20 ml (4 t) gekapte vars kruisementblare en 15 ml (1 e) fyngerasperde suurlemoenskil.
Afrikaanse WOORD: frikkadelle (meat balls in Engels). Ten spyte van die mooi Afrikaanse woord, gebruik baie mense tog die Engelse woord as hulle na dié vleisballetjies wil verwys. En onthou hoe om dit te spel, met ’n dubbel-k en dubbel-l vir die meervoud.
resepte lyk heerlik