Dit maak nie saak of jy dit botterbroodjies of skons noem nie, as dié gebakte lekkertes vars en stomend uit die oond kom, is ek eerste aan die tafel. Dié volkoringweergawe is heerlik, met die ekstra vesel en neuterige smaak, en die jogurt gee dit ’n veerligte tekstuur.
Lewer 12 skons
250 ml (1 k) volkoringmeel
250 ml (1 k) koekmeel
15 ml (1 e) bakpoeier
80 ml (80 g) koue botter, in blokkies gesny
1 eier, geklits
200 ml gewone jogurt
ekstra melk om mee te verf
- Voorverhit die oond tot 180 °C. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit en strooi liggies met ’n bietjie ekstra koekmeel.
- Meng die twee mele en bakpoeier saam in ’n mengbak. Vryf botter met jou vingerpunte in tot dit soos growwe broodkrummels lyk. Of gebruik ’n outydse deegsnyer as jy een het.
- Klits die eier en jogurt saam en sny-roer dit versigtig met die agterkant van ’n mes by die droë bestanddele in. Meng net tot die vloeistof ingemeng is en moenie die deeg te veel hanteer nie.
- Druk die deeg saggies op ’n meelbestrooide oppervlak, tot ’n dikte van 2-3 cm uit.
- Sny skons met ’n koekiedrukker of ’n glas uit. Doop die snyer of glas se rand elke keer in ’n bietjie ekstra koekmeel om seker te maak dat die deeg nie daaraan vassit nie.
- Pak die skons op die bakplaat. Verf die bokant van elke skon met ’n bietjie melk.
- Bak vir 15-20 minute of tot goudbruin en gaar. Sit warm met botter, kaas en konfyt van jou keuse voor.
Fotograaf: Adel Ferreira
Wenk
- Voeg 2,5 ml paprika of rooipeper by die meelmengsel vir ’n sout skon. Sprinkel met nog paprika of rooipeper voor dit gebak word.
Afrikaanse WOORD: Dalk ken jy dié lekker gebakkies in Afrikaans as botterbroodjies, maar die woord ‘skons’ is beslis ’n erkende Afrikaanse woord, selfs al mag dit baie soos die Engels klink.