Heerlike kuierkos vir ’n groep vriende of sommer net ’n vinnige gesinsete. Mediterreense geure pas perfek by hoender en alles komplementeer mekaar baie goed. Dis kleurvol en maklik om in drie basiese stappe voor te berei. Verbruin die hoender, maak ’n sous en prut dan die hoender in die sous tot gaar.
Lewer 4 – 6 porsies
15 ml (1 e) olyfolie
8 hoenderporsies, oortollige vet verwyder
2 rooi of wit uie, in wiggies gesny
2 knoffelhuisies, gekneus
2 soetrissies van enige kleur, ontpit en in repe gesny
2 x 410 g-blik gekapte tamaties of geblikte kersietamaties
125 ml (½ k) sterk Rooibostee of hoenderaftreksel
2 lourierblare
8 takkies elk vars origanum en tiemie
15-20 olywe, ontpit
30 ml (2 e) kappertjiesade (opsioneel)
suurlemoensap, sout en peper na smaak
’n handvol vars origanum- en tiemieblare
babaspinasieblare en suurlemoenwiggies om mee voor te sit
- Verhit olie in ’n groot kastrol en braai hoender tot goudbruin. Skep uit en hou eenkant.
- Soteer uie en knoffel tot sag en voeg soetrissies by. Soteer nog ’n paar minute.
- Roer die res van die bestanddele by, behalwe die hoender. Verhit oor matige hitte tot kookpunt en prut vir 15 minute.
- Skep hoender in die sous en roer deur om dit met die sous te bedek. Verlaag die hitte, sit die deksel op en prut vir 30-40 minute of tot die hoender net gaar is. Geur na smaak.
- Roer vars kruie by en sit op spinasieblare met suurlemoenwiggies voor. Garneer met nog kruie, indien verkies. Die hoender kan ook op koeskoes of met skywe ciabatta voorgesit word om die lekker sous mee op te vee.
Resep uit Maak vyf, deur Heleen Meyer | Fotokrediet: LiG Tydskrif | Fotograaf: Adel Ferreira
Afrikaanse WOORD: Onderskei mooi tussen soetrissie (a sweet pepper of net peppers in Engels) en brandrissie (chilli in Engels). ’n ‘Peper of pepper’, soos baie in Afrikaans na ’n soetrissie verwys, is nie die korrekte term nie. En om net van ’n rissie te praat, kan juis verwarrend wees, want is dit ’n soetrissie of brandrissie? Dis iets wat ’n groot verskil in ’n resep kan maak. Peper, daarenteen, is wat saam met sout as geurmiddel gebruik word.
Jou kos lyk heerlik, baie dankie