Is jy ʼn skolier wat drome koester om eendag stories te skryf, maar nie presies weet waar en hoe om te begin nie? Ken jy iemand tussen die ouderdom van 12 en 18 met hope talent wat graag meer sal wil leer oor die skryfkuns en hoe om ʼn uitstekende opstel te skryf?
Die Kreatiewe Skryfkuns vir Skoliere-werkswinkel wat op 23 Julie 2022 op Akademia se Centurion-kampus aangebied word, is nommerpas daarvoor. Tydens hierdie praktiese en prettige eendag werkswinkel word kinders touwys gemaak oor die skryfproses, vertellersperspektief, skryfgenres, hoe om ʼn storie aanmekaar te sit en die redigering van skryfwerk. Deelnemers gaan nie bloot net sit en luister nie, maar daar is ook heerlike speletjies en skryfoefeninge om die skryfspiere behoorlik los te maak. Hierdie werkswinkel word aangebied deur die skrywer Christien Neser, ʼn spraakterapeut van Sandton. Met al die kortverhale, tientalle jeugboeke en niefiksie boeke wat sy al geskryf het, weet Christien watter uitdagings daar vir enige aspirantskrywer is en kan sy uit ervaring praat en praktiese wenke deel. Kaartjies kos R650 per persoon en daar is 10%-afslag vir groepe van vyf of meer. Na afloop van die kursus sal leerders ook ’n sertifikaat van deelname ontvang. ’n Ligte ete word ook bedien. Inskrywings sluit op 18 Julie 2022. Spring gou om in te skryf want daar is beperkte plek beskikbaar. Inskrywings kan hier gedoen word: https://winkel.akademia.ac.za/collections/frontpage/products/kreatiewe-skryfkuns-vir-skoliere.