Die musikant, liedjieskrywer en musiekregisseur David Kramer is vroeër vanjaar as legende met ʼn kykNET Fiësta-toekenning vereer vir sy lewenslange bydrae tot die Suid-Afrikaanse kunslandskap. ʼn Besondere eer val hom binnekort weer te beurt wanneer hy by die FynArts-kunstefees ook vereer word vir sy lewenswerk en bydrae tot die kunste in Suid-Afrika en internasionaal. Ikoniese liedjies van Kramer wat ná dekades steeds baie gewild is, is liedjies soos “Blokkies Joubert”, “Royal Hotel”, “Skipskop” en “Meisie sonder sokkies”. Hy het onlangs die liedjie “Lenie Lenie” saam met die gewilde groep Spoegwolf heropgeneem.
Kramer, wat sy musikale loopbaan in die middel 70’er jare begin het, het sy eerste album BAKGAT! in 1980 bekendgestel maar dit is onmiddellik deur die SAUK verban. Tog het hy nooit van sy missie afgewyk nie en oor die jare uitstekende satiriese, maar ook Afrikaanse folkmusiek gesing en geskryf. Hy en sy musikale vennoot Taliep Petersen het wonderlike musiekteater soos Fairyland, District Six en Kat and the Kings geskep.
Van die ander besonderse werk wat Kramer gedoen het, was die Karoo Kitaar Blues waarin hy die musiek van kunstenaars van klein dorpies in die Karoo en Namakwaland in die kollig geplaas.
Deur sy loopbaan het David Kramer al verskeie toekennings verower. Sy en Taliep Petersen se musiekblyspele het die Laurence Olivier-prys op West End in Londen ontvang. Hy het ook in 2009 ʼn prestige prys by die Akademie vir Wetenskap en Kuns ontvang.
Die FynArts word op Saterdag 11 Junie om 9:30 in Hermanus se munisipale ouditorium aan David Kramer toegeken. Kaartjies vir die geleentheid kos R85. Die FynArts-kunstefees duur vanaf 10 tot 19 Junie in Hermanus en omliggende gebiede.