Waag so met jou idee vir ʼn teaterteks
“Goeie teater begin by ’n goeie teks. En ’n goeie teks begin by ’n goeie idee wat aanklank by die tye vind,” só nooi Hugo Theart, artistieke direkteur van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK), gevestigde en opkomende skrywers uit om deel te neem aan die sewende Teksmark. Hierdie jaar vind dit van 22 tot 27 Augustus in die Baxter-teater in Kaapstad plaas. Die sluiting van voorstelle is op Maandag 27 Junie 2022 om middernag.
Hierdie Teksmark, ʼn projek van die KKNK in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en die Baxterteater, bied ʼn opwindende geleentheid aan skrywers om hulle idees en tekste met belangstellendes in die bedryf te deel vir moontlike verdere ontwikkeling. Tydens Teksmark bied skrywers ʼn voorlegging oor hulle idee aan. Dit word gevolg deur ʼn uittreksel uit die teks wat as leesteater aangebied word en gesprekke met rolspelers en die gehoor. Hierdie gehoor sluit genooide teater- en feesverteenwoordigers, sowel as beleggers en vervaardigers in.
Weens beperkte tydgleuwe kies ʼn onafhanklike paneel slegs ʼn paar tekste uit wat dan deur professionele regisseurs en akteurs opgevoer word tydens die Teksmark. Alhoewel teks-idees in alle genres oorweeg sal word, is die organiseerders veral op soek na komedie, satiriese tekste en tekste gemik op kinders en jong volwassenes. Voorstelle van tekste in enige van die amptelike Suid-Afrikaanse tale sal oorweeg word en veeltalige produksies word aangemoedig. Slegs tekste deur Suid-Afrikaanse burgers wat nog nooit voorheen professioneel opgevoer is nie, sal oorweeg word.
Het jy ʼn idee vir ʼn opwindende teaterteks? Moenie wag nie. Dien jou voorstel hier in.
Vir navrae kontak Lizané Basson by 044 203 8600, of per e-pos by teksmark@kunste.org.za.