Deur: Celeste Labuschagne
“Staan op, sit stil, boeke oop, leer jou les, oe-la-la-la, oe-la-la-la.”
As jy weer laat kom kry jy ses van die bestes, oe-la-la-la, oe-la-la-la.”
Hierdie woorde, geskryf deur Ruben Lennox, vervat in twee reëls die persepsie van dissipline in skole en klaskamers. Dissipline word meestal gesien as “kinders moet gesien, en nie gehoor word nie” of “ʼn pakslae op sy tyd, is soos brood en konfyt.”
Kinders word gesien as gedissiplineerd wanneer hulle tjoepstil bly terwyl hulle op hul stoele agter tafels in netjies rye sit en in boeke skryf. Ek het dit al baie gesien, maar tog laat dit my altyd wonder: is dit regtig dissipline, of is dit ʼn vorm van ontmoediging van leergierigheid, nuuskierigheid en opgewondenheid om nuwe dinge te leer?
Reëls teenoor waardes
Ek het lank vir tieners skoolgehou en het die uitdagings van klaskamerdissipline self ervaar. In plaas van ʼn reeks reëls in my klas, was daar net een en dit was nie eintlik ʼn reël nie, maar ʼn waarde: respek.
Ek en my leerders het hierdie reël jaarliks saam bespreek. Respek is allesomvattend en deur respekvol op te tree, gaan die volgende in ʼn klaskamer kan gebeur:
- ʼn Leerder gaan stilbly wanneer ʼn onderwyser vir die klas iets wil sê; en so gaan die onderwyser ook luister wanneer ʼn leerder iets wil bespreek of ʼn vraag wil vra.
- Respek impliseer dat leerders mekaar gaan ondersteun en nie verhinder om te leer nie.
- Leerders wat respek vir hulself het, handel hul opdragte noukeurig en betyds af.
- Respek gaan ook beteken dat leerders onderling vir mekaar die geleentheid gaan gun om hulle volle potensiaal te ontwikkel.
- Die onderwyser gaan uit respek nie etikette om leerders se nekke hang wat leerders se gedrag gaan tipeer nie.
- Leerders se gedrag word dikwels negatief beïnvloed omdat hulle probleme by die huis of in hul persoonlike lewe ervaar. Weens ʼn kultuur van wedersydse respek, gaan ʼn leerder met ʼn probleem nie huiwer om dit met die onderwyser te bespreek nie.
Indien ek die kwessie van klaskamerdissipline vanuit my eie ervaring moes opsom, sou ek dit soos volg doen: “dissipline moet die leerder bemagtig en nie onderdruk nie.”
Buiten vir ʼn waardegedrewe benadering, is daar ook praktiese aanpassings wat onderwysers kan maak om dissipline in die klaskamer te verbeter.
Die oorsaak van kriewelrigheid
Volgens Brain Balance kan ʼn normale tiener vir 42 tot 48 minute op een taak konsentreer en ʼn kind van 7 jaar slegs 14 tot 35 minute. Dit beteken egter nie dat die leerders aaneen vir so lank in ʼn klaskamer móét konsentreer nie. Leerders begin dikwels ʼn periode in die skoolrooster goed “gedissiplineerd”, maar soos die periode vorder, begin hulle kriewelrig raak. Tradisioneel sal hierdie kriewelrigheid gesien word as “stout” of “ongedissiplineerd”. Die oorsaak van die probleem in die meeste gevalle is dat die leerders se konsentrasie begin taan, of vanweë die feit dat leerders se belangstelling bloot net nie meer geprikkel word nie. Om té lank in een posisie stil te sit kan ook ʼn oorsaak wees van hierdie “stoute” gedrag.
Aanpassings aan hoe ʼn klas aangebied word kan leerders se gedrag positief beïnvloed. Eerstens kan die metode waarop inhoud aan leerders oorgedra word, verander. Die onderwyser kan die les so struktureer dat dit ʼn ervaring of belewenis word waarin leerders op ʼn aktiewe wyse met die inhoud kennis maak en betrek word by die oordrag van inligting. ʼn Voorbeeld hiervan is die omgekeerde klaskamer.
Die voorbereide leerder as antwoord
Almal is dit eens dat ʼn voorbereide onderwyser die antwoord op probleme met klasdissipline is. Daar skuil egter nog baie oplossings in ʼn voorbereide leerder. In die omgekeerde klaskamer kyk leerders ʼn video by die huis of doen naslaanwerk wat handel oor die inhoud wat bemeester moet word. In die klas ontvang die leerders dan ʼn werkkaart of probleem waarin hulle die inhoud kan toepas onder leiding van die onderwyser. Tydens so ʼn “omgekeerde” les kom die leerders gewapen met voorkennis by die klas in – hulle is dus voorbereid. Die leerders word nou aktiewe deelnemers van die les, eerder as passiewe ontvangers van inligting en die onderwyser word nou ʼn fasiliteerder van leer eerder as ʼn lesingaanbieder.
Stasierotasie is nog ʼn metode om aktiwiteite binne die klaskamer aan te pas. Dit is wanneer daar verskeie “stasies” in die klas is waar nuwe inligting met behulp van verskillende scenario’s en opdragte toegepas moet word. Stasies kan vir ʼn periode, week of selfs maand lank duur. So ʼn klas hoef ook nie noodwendig altyd stil te wees nie. Leerders gaan aktief konsentreer en doenig wees met die inhoud wat verveling gaan uitskakel en op sy beurt weer gaan verseker dat leerders gedissiplineerd bly.
Wenke om konsentrasie te behou
Coordikids gee in die artikel “5 Ways to Improve Concentration and Behavior in the Classroom”, baie nuttige wenke om leerders se konsentrasie te behou en in die proses hul gedrag te verbeter.
- Verdeel jou les in korter segmente wat pas by die ouderdomsgroep waarvoor jy skoolhou. Indien ʼn leerder op ʼn ouderdom is waar hul vir 45 minute kan konsentreer gaan jy jou les opbreek in drie segmente van 14 minute lank, met twee bewegingsbreuke (“breinpouses”) tussenin.
- Gebruik stasierotasie. Verdeel die 45 minute les in drie stasies waar leerders (in kleiner groepe) elke keer met ʼn ander komponent van die leermateriaal besig is. Tyd by elke stasie kan 14 minute lank wees waarna die groepe roteer na die volgende stasie toe.
- Identifiseer verskillende kategorieë waarvoor leerders erkenning kan ontvang. Hierdie kategorieë kan betrekking hê op die individu, maar ook op groepe. Die onderwyser kan baie interessante maniere kry om die leerders se positiewe gedrag asook hul akademiese prestasie te erken. Beloning van groepe het ʼn positiewe effek en veroorsaak dat leerders mekaar aanspreeklik hou en so mekaar se gedrag positief beïnvloed.
- Konsekwentheid is ʼn baie belangrike komponent in die handhawing van dissipline en moet altyd in die oog gehou word.
Celeste Labuschagne is ’n vakspesialis vir wetenskappe by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).
Hierdie artikel het oorspronklik op Maroela Media verskyn en word met toestemming van laasgenoemde op Afrikaans.com geplaas.