Meningstukke / Lindie van Gass
Liewe leser
Skuld – ek weet, nie iets waaroor ons graag gesels nie. Dit hoef egter nie so groot las op jou balansstaat of skouers te wees as jy skouer aan die wiel sit en dit een vir een uit jou lewe elimineer nie. Die wyse Albert Einstein het blykbaar gesê: “Compound interest is the eighth wonder of the world. He who understands it, earns it and he who doesn’t, pays it.” Het jy al uitgewerk hoeveel word aan rente spandeer op lenings en op huurkoop wanneer jy gaan kyk hoeveel geld jy eintlik op die ou einde terugbetaal teenoor wat dit gekos het?
Ou Albert was nie verkeerd nie. Suid-Afrikaners het ongelooflik baie skuld en ongelukkig is daar baie plekke in die mark wat jou met ‘n slenter vang of sommer vir jou skuld gee sonder dat jy dit enigsins kan bekostig, maar op daardie oomblik soek jy dit en baie keer is dit nie eers noodsaaklik nie. My oupa het altyd gesê: “‘n Geleentheid is net ‘n geleentheid as jy reg is vir hom, anders is dit bloot ‘n versoeking.” Wêreldwyd het millenniërs ook gemiddeld meer skuld as ander generasies omdat studieskuld ‘n wesenlike gedeelte van hulle balansstate uitmaak.
Dit is belangrik om te onthou dat nie alle skuld sleg is nie. Nes meeste dinge in die lewe, is daar ook nie ‘n pertinente swart en wit vir hierdie kategorieë nie en sal dit afhang van jou omstandighede.
Goeie skuld is gewoonlik die geld wat jy skuld op items wat jou help om bates te koop; wat jou netto batewaarde of jou inkomste kan verhoog. Dit sluit dinge soos verbandlenings, besigheidslenings en studiegeld in. Jy koop basies iets wat jou kan help om jou geld in méér in te verander.
Slegte skuld is daardie skuld wat gemaak word om verbruiksgoedere, wat ‘n kort leeftyd het, te koop. Met ander woorde, items wat net gebruik word en nie bydra tot jou bates of om vir jou ‘n inkomste te genereer nie. Dit sluit dinge soos gewone produkte en dienste in, byvoorbeeld klere, kos en vermaak.
Kredietkaartskuld kan as goeie skuld beskou word, indien jy dit verantwoordelik gebruik en elke maand weer skoon betaal.
Twee bekende strategieë om suksesvol ‘n pad na vryheid van skuld te vind, is die sneeubaleffek en die stortvloedeffek (‘avalanche’ in Engels).
Die sneeubaleffek om ontslae te raak van al jou skuld is ‘n eenvoudige strategie wat gebaseer word op die krag van momentum, soos wanneer ‘n sneeubal klein begin rol en mettertyd al hoe groter raak. Die strategie werk soos volg:
- Jy betaal steeds jou minimum premie op al jou lenings en bronne van skuld.
- Jy kies dan die een met die laagste uitstaande balans en probeer enige ekstra fondse gebruik om dit af te betaal.
- Wanneer die kleinste lening geëlimineer is, begin jy by die tweede kleinste een.
- So elimineer jy een vir een al jou bronne van skuld totdat jy skuldvry is en niemand oor jou skouer kyk nie.
Die stortvloedeffek gaan effens meer huiswerk van jou kant af verg, maar gaan jou aansienlik meer geld in rente spaar. Hierdie metode werk soos volg:
- Jy betaal steeds jou minimum premie op al jou lenings en bronne van skuld.
- Jy vind uit wat die rentekoers is op elke lening en posisioneer hulle van hoog na laag.
- Jy neem dan enige ekstra beskikbare fondse om die balans met die hoogste rentekoers af te betaal.
- Wanneer hierdie lening geëlimineer is, begin jy by die tweede hoogste rentekoers.
- So elimineer jy een vir een al jou bronne van skuld en spaar die maksimum hoeveelheid rente tussen die twee metodes.
Om ontslae te raak van skuld is ‘n groot stap tot finansiële vryheid wat jou soveel meer geleentheid vir keuses en vryheid in jou lewe bied. Onthou, finansiële vryheid gaan nie oor geld nie, dit gaan daaroor om jou beste moontlike lewe te kan lewe.
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!

