Meningstukke / Lindie van Gass
Liewe leser
Mens kry menige verskillende tipes noodfondse, maar in hierdie artikel gaan ek op twee fokus, aangesien dit dié is wat op die meeste mense van toepassing is. Ek het hierdie twee die “ag tog”- en “donderstorm”-fondse gedoop. Noodfondse is een van die belangrikste boustene van die pad na finansiële vryheid.
Het jy geweet dat 40% van Amerikaners nie ‘n $400 onverwagse uitgawe sal kan dek sonder om skuld te maak of ander betalings te moet oorslaan nie? Suid-Afrikaners is bekend as mense met verskriklike swak spaargewoontes. Dié lyk dus heel moontlik nóg slegter by ons. Kom ons maak dit minder as $400; as jou kar onverwags breek en dit kos R5 000 om reg te maak – sal jy dit kan betaal sonder om skuld te maak? En kom ons wees eerlik, R5 000 is maar min as dit by karskade kom.
Ongeveer 1 uit 5 Suid-Afrikaners sal drie maande kan oorleef sonder ‘n salaris as hulle onverwags nie meer een kry nie. Is jy een van hulle? Ons sit jy midde-in ‘n krisis waar dit die realiteit van talle mense is; mense na aan jou. Sou jy die een uit vyf wees? Indien nie, hoe gaan jy jouself daar kry?
Die verskil en detail rondom hierdie twee fondse wat jy behoort te hê, of so gou as moontlik moet kry, is soos volg:
- ‘n Ag tog-fonds
Wat is dit? Dis vir daardie gebeure wat jou net laat sug, bietjie laat huil oor jou stuurwiel voor jy die huis binnegaan en uitskree: “Ag tog!”, of jou leliker dinge laat kwytraak. Dit is vir werklike noodgevalle en onverwagse uitgawes, soos as jou kar breek, die yskas onverwags oppak, mediese onkostes of vervoerkoste na geliefdes toe indien daar ‘n krisis opduik. Dit is nié vir daardie maande waarin jy bietjie te veel spandeer op inkopies, jouself bederf met klere, ‘n nuwe foon soek (nie nodig het nie) of ‘n wegneemete te veel bestel het nie. Sodra enige geld uit die fonds gebruik is, moet jou eerste prioriteit wees om die geld weer te vervang.
Hoeveel geld moet daar in jou ag tog-fonds wees? Doen ondersoek en vind uit wat is die waarde van jou duurste item wat ‘n noodgeval gaan bied indien dit onverwags breek. Mik daarvoor om ‘n bedrag in die rekening te hou wat dit sal kan vervang. As dit byvoorbeeld jou skootrekenaar is, spaar genoeg om hom te kan vervang. ‘n Doelwit kan selfs wees om die bybetaling op jou versekering te spaar. Dit kan partykeer onmoontlik voel as jy die bedrag eers bepaal, maar begin deur te mik vir R500 en dan ‘n R1000, en dan meer. Klein treetjies is die sleutel tot sukses. Dit sal dus verskil van persoon en omstandighede, maar ek reken ‘n goeie bedrag om voor te mik, is R10 000.
Waar moet jy die geld spaar? Verkieslik in ‘n rekening wat onmiddellik toegang bied vir wanneer die noodgeval opduik en verkieslik ‘n rentekoers verdien so na aan inflasie as moontlik. Inflasie is op die oomblik egter buitengewoon hoog, so mik vir enige goeie spaarrekening.
- Donderstormfonds
Wat is dit? Hierdie is vir tye waarin jy vir ‘n ruk van die fonds af moet lewe. Voorbeelde van sulke tye is soos inperkings wat jou verhoed om te werk en dalk jou salaris sny, afdankings, onbetaalde swangerskappe, of enige ander gebeure wat lei na ‘n verlies van ‘n gedeelte of jou hele inkomste. Selfs indien jy beplan om jou eie besigheid oop te maak, maar intussen steeds moet leef.
Hoeveel geld moet daar in die donderstormfonds wees? Die voorstel is om 3-6 maande se leefkoste hierin te hou vir die tye wanneer ‘n donderstorm op jou neersak en jy nie net die ag tog-sug doen nie, maar deur die storm moet oorleef.
Waar moet jy die geld spaar? Hierdie fonds kan gehou word in ‘n rekening wat bietjie hoër groei bied as die ag tog-fonds en dalk ‘n kennisgewing nodig het voordat jy toegang tot die geld verkry. Daar bestaan rekeninge waarin jy net 24 uur kennis hoef te gee en ander met 7 of 14 dae; selfs meer.
Kredietkaarte is nie noodfondse nie
Ons hoor gereeld in flieks, TV-reekse of die mense rondom ons dat kredietkaarte vir noodgevalle is, maar ons moet egter onthou dat dit nie dien as ‘n noodfonds nie.
‘n Fonds is uit die aard van die saak geld wat opgehoop het en beskikbaar is vir gebruik. Hierdie is fondse wat spesifiek opsy geplaas is vir toekomstige situasies waarin dit dalk sal kan help vir onbeplande uitgawes of om die stres van reeds stresvolle situasies te verminder. Ja, jy kan die plastiekkaart gebruik en al hierdie dinge met krediet betaal, maar al wat jy veroorsaak is om ‘n addisionele uitgawe te vorm wat uiteindelik afbetaal moet word.
Die skuld én moontlike rente op jou kredietkaart gaan tog uiteindelik terugbetaal moet word, wat baie keer nie die stresvlakke direk na ‘n noodgeval enigsins aanhelp nie. Jy finansier dus jou noodgeval met ‘n lening. Indien jy jou kredietkaart gebruik as ‘n ag tog– of donderstormfonds kan dit jou lui maak om ‘n goedkoper oplossing te kry vir die probleem, of om selfs ‘n doen-dit-jouself-projek daarmee aan te pak, omdat jy so gemaklik terugval op die betroubare plastiekkaart en dit nie nodig ag om aan ander moontlikhede te dink nie.
Dink net egter, as jy ‘n noodfonds het, sal jy:
- waarskynlik nie net alles wil blaas nie, omdat jy weet hoeveel selfdissipline dit geneem het om op te bou en sal jy jou oplossings strategies en effektief probeer kies; en
- die fonds weer stelselmatig kan herbou, in plaas daarvan om rente en gedwonge afbetalings aan ‘n bank hoef te maak.
Jy kan natuurlik ook mettertyd jou kredietkaart se beperking bereik, veral in gevalle waar jy vir ‘n lang tydperk nie ‘n inkomste kry nie of wanneer meer as een onbeplande uitgawe hulle verskyning kort op mekaar se hakke maak. Daar sal waarskynlik tye wees waartydens jy nie ‘n ander keuse het as om jou kredietkaart te gebruik nie en ‘n mens wil dan nie sit met ‘n limiet wat reeds bereik is nie. In situasies waar daar byvoorbeeld twee of drie uitgawes opduik waarop jy nie begroot het nie, sal jy dalk net een met skuld moet betaal, eerder as al drie en sodoende die las op jou skouers onmiddellik kan verlig en slapelose nagte vermy, of ten minste verminder.
Koop vir jou vryheid én slaap gedurende noodgevalle, sodat jy nie onnodig skuld hoef te maak nie deur nou ‘n maandelikse bedrag vir noodfondse opsy te begin sit. Stel vir jouself ‘n doelwit en begin daaraan werk. Finansiële vryheid gaan bitter min oor geld, en verskriklik baie oor jou kwaliteit van lewe.
Ek weet dit klink intimiderend en dit klink soos baie geld. As dit nie so geklink het nie, sou dit nie soveel die moeite werd wees nie. Dis juis waarom dit vir jou vryheid bied. Begin met ‘n ag tog-fonds, fokus dan daarop om jou skuld af te betaal en te begin bou aan ‘n donderstormfonds. Begin net. Al is dit met R10 elke dag. Of slaan elke tweede wegneemkoffie oor. Gewoontes kan net gewoontes raak as jy iewers begin.
Vryheid is om nie iets of iemand se slaaf te wees nie. Moenie ingeperk word, of beheer word deur skuld nie.
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!

