Meningstukke / Lindie van Gass
Liewe leser
Ek het een keer gelees: “Kredietkaarte is ‘n fantastiese manier om vir goed te betaal, maar ‘n verskriklike manier om mee geld te leen.” Aanvanklik is dit ‘n vreemde stelling, want om op jou kredietkaart te koop, is tog altyd op skuld? Hierdie handige stukkie plastiek is natuurlik hoog op die lys van moet-hê’s volgens almal wat glo hulle het die poorte tot volwassenheid bereik. Baie mense bly myle weg van kredietkaarte af en assosieer dit onmiddellik met slegte skuld; waarskynlik nadat hulle, of iemand na aan hulle, dit wanbestuur het en oombliklik in ‘n donker gat van skuld beland het. Dit hoef egter nie so te wees as jy dit rég gebruik nie.
Kredietkaarte maak ‘n nuwe wêreld oop, maar soos meeste dinge wat vryheid en geleenthede bied, moet dit wys gebruik word sodat dit nie vir jou jare se kopsere veroorsaak nie. Dit is gans te maklik om jou (waarskynlik heeltemal te hoë) limiet te bereik met byna niks om daarvoor te wys nie.
Kredietkaarte en hulle voordele:
- Dis een van die maklikste en vinnigste maniere om ‘n goeie kredietrekord op te bou. ‘n Goeie kredietrekord tel in jou guns wanneer jy wil huur, bates soos karre en huise koop, kredietrekeninge oopmaak, ensovoorts. Dit help nie net in jou goedkeuring nie, maar ook in die rentekoers wat jy sal kry. (Kry maandeliks jou gratis krediettelling en wenke oor hoe jy dit kan verbeter op www.clearscore.com)
- Dis gemaklik, veilig en word byna enige plek aanvaar; van aanlyn winkels en tolhekke, tot internasionale aankope.
- In meeste gevalle, kry jy gratis reisversekering wanneer jy jou kaartjie met jou kredietkaart betaal.
- Jy kan vir ‘n tydperk rentevry leen. Die tydperk verskil van bank tot bank, maar is gewoonlik om en by 55 dae.
- Indien jy aan die einde van elke maand jou kredietkaart skoon betaal, betaal jy ook nie onnodige rente aan die bank nie.
- Die gebruik van kredietkaarte kan vir jou baie voordele inhou met verskillende banke se lojaliteitsprogramme, byvoorbeeld FNB se eBucks of Discovery se miles.
- Dit kan jou lewe vergemaklik gedurende noodgevalle, wanneer jou Ag tog-fonds nog nie voldoende is nie; hierdie is egter ‘n voordeel wat versigtig gebruik moet word.
Die gevaarkant van kredietkaarte:
- Mense besef nie altyd hoeveel geld hulle aan rente spandeer wanneer hulle net die minimum betaling elke maand op hulle kredietkaarte maak nie. Die verpligte minimum betaling is van so ‘n aard opgestel dat jy minimaal van jou kapitaal af betaal en hoofsaaklik net rente betaal – daar gaan mos natuurlik vir die bank ‘n wesenlike voordeel wees.
- Die gerieflikheid van kredietkaarte maak dit partykeer byna té toeganklik en voor jy jou oë uitvee, sit jy met hope skuld en dit voel asof jy nooit ontslae gaan raak daarvan nie.
- Dis algemeen dat jy voldoen aan ‘n baie hoër toelating op jou kredietkaart as wat jy ooit werklik gaan nodig hê, wat net versoeking stel.
Dus: ’n Mens kan beslis kredietkaarte vir goeie doeleindes aanwend. Jy kan ‘n kredietrekord bou, onmiddellike punte en afslag kry, kommervry vakansie hou en sommer vinnig jou kar volmaak voor die petrolprys styg – selfs al word jy eers more betaal.
Maak egter seker jy het die vermoë om te betaal vir jou aankoop en dat jy nie jou kredietkaart vir onbeperkte inkopiesessies of impulsiewe aankope gebruik nie. Beplanning is in elke deel van finansiële vryheid belangrik, van inkopies en spyskaarte, tot die terugbetaling van krediet sodra jy die skuld maak. Maak byvoorbeeld seker jy het reeds die geld beskikbaar in ‘n ander rekening of weet dat dit binne jou begroting pas gedurende die rentevrye periode, sodat jy dit met sekerheid aan die einde van die maand kan terugbetaal. In die geval van ‘n noodgeval, beraam onmiddellik ‘n plan om dit so gou as moontlik af te betaal.
‘n Goeie idee om optimale voordeel te kry, is om weekliks/maandeliks jou kredietkaart te gebruik vir jou gewone betalings soos koffie, kruideniersware, brandstof, ensvoorts, maar om te weet hoeveel jou beperking is en dit aan die einde van elke week/maand onmiddellik oor te plaas. Op die manier, kry jy die voordele wat gepaardgaan met die gebruik van ‘n kredietkaart en kan jy boonop gelyktydig rente op die geld in ‘n spaarrekening verdien.
Dit kan ‘n ver pad vir jou finansiële beplanning en lewe beteken as jy hierdie rekening met respek gebruik en nie as ‘n gratis lening beskou nie. Dit lyk dalk gratis en eenvoudig, maar dis bitter ver daarvan af.
‘n Paar dinge om in ag te neem wanneer jy ‘n kredietkaart wil kry:
- Die rentevrye tydperk.
- Die rente na die rentevrye tydperk.
- Die voordele, byvoorbeeld lojaliteitsprogramme.
- Die kostes. Pasop om net te kyk na die hoofopskrifte op die bank se webtuiste en laai die volledige prysgids af om seker te maak daar is nie enige verskuilde kostes waarvan jy nie weet nie.
- Vergelyk die kostes en voordele. Indien dit slim gekies word, sal die voordele jou bankkoste oorskry en word jy basies betaal om die kaart te gebruik.
- Maak seker hoe prakties die lojaliteitsprogramme is, byvoorbeeld as die spesifieke bank voordeel bied om by BP brandstof te koop, maar daar is net ‘n Engen naby jou, beteken die voordeel eintlik nie veel vir jou nie.
- Kanse is goed dat jy vir ‘n duurder rekening kwalifiseer as wat jy nodig het. Pasop om hom nie net te kry omdat die swart/silwer kaart oulik lyk nie.
- Moet nie die maksimum limiet aanvaar wat hulle vir jou aanbied nie. Kanse is baie goed dat jy dit nie nodig het nie.
Beplan en werk aktief aan jou verhouding met geld, sodat jy finansiële vryheid kan geniet.
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!

