Meningstukke / Lindie van Gass
Liewe leser
Geen spandeer-dae kan jou finansiële posisie elke maand verbeter. Dis redelik eenvoudig en word presies deur die naam verduidelik: dae waarop jy geen geld spandeer nie. Jy mag nie geld op enige wyse spandeer op hierdie dag nie; nie kontant, kredietkaart, debietkaart, aanlyn, of versamelde punte nie.
Dis ‘n uitdaging wat jy aan jouself, jou huishouding en selfs saam met vriende kan aanpak wanneer julle voel julle spaar dalk nie genoeg nie. Daar is ook verskillende maniere wat die uitdaging beplan kan word:
- beplan ‘n sekere hoeveelheid geen spandeer-dae per maand,
- probeer sulke naweke,
- kyk hoeveel dae in ‘n ry jy dit kan regkry, of
- daag iemand uit om te kyk wie kan dit die langste regkry.
Hierdie dae verg beplanning. Jy gaan natuurlik moet seker maak jy het reeds spyskaartbeplanning gedoen en genoegsame kruideniersware gekoop. Jy gaan moet middagete inpak, sou jy gewoonlik gou iets gaan koop by die kafee oorkant die pad. Jy gaan jou koffie maar in ‘n wegneembeker moet maak, eerder as by die plaaslike koffiewinkel draai voor werk.
Jy kan egter spaar hierdeur, sowel as leer en geld maak. Die volgende voordele bestaan:
- Ons is geneig om meer te koop as waarvoor ons aanvanklik in die winkel ingaan omdat ons dinge raaksien en impulsief is. Hierdie uitdaging weerhou jou om hierdie impulsiewe aankope te maak.
- Jy behoort jou siening oor die waarde van aankope te verander en skielik twee keer te dink daaroor wanneer jy tog geld spandeer. Veral as jy gedurende hierdie uitdaging sien hoeveel langer jou geld in ‘n maand hou.
- Jy kan die geld wat jy spaar, ekstra op skuld afbetaal. Nie net word die kapitaalbedrag minder nie, maar jy spaar ook ekstra op rente. Selfs al is dit net R50. As jy byvoorbeeld R50 ekstra in ‘n maand betaal op jou karskuld (die aanname is ‘n 14% rentekoers op die lening en uitstaande tydperk van vyf jaar), sal jy ongeveer R1 300 se rente spaar oor die oorblywende tydperk.
- Meeste spaarrekeninge by banke se rente word daagliks saamgestel, wat beteken vir elke dag wat die geld daar lê, verdien jy ekstra rente.
- Jy verbreek die verbruikersingesteldheid. Sou ‘n probleem opduik, of jy skielik lus raak vir iets, gaan jy nie vir die kredietkaart kan reik nie, omdat jy die pertinente besluit gemaak het om nie geld te spandeer nie. Jy sal gedwing word om óf buite die boks te dink, óf te bevraagteken hoe nodig iets werklik is.
Ek dink nie sulke dae is maklik nie, maar bitter min dinge wat die moeite werd is kom maklik. Daag jouself uit. As jy sien jou geld gaan dalk nie die week/maand hou nie, probeer so paar geen spandeer-dae inwerk.
Selfdissipline speel seker die belangrikste rol in jou reis na finansiële vryheid. Niemand gaan weet as jy verneuk op hierdie uitdaging nie, maar op die ou end verneuk jy net jouself.
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!

