Meningstukke / Lindie van Gass
Liewe leser
Ons almal het al gespot oor die dinge wat ons op skool leer en nooit gebruik nie, en omgekeerd. As dit kom by finansiële opvoeding, is daar ’n wesenlike gaping. Eerstens leer ons nie baie daarvan op skool nie, en tweedens sien menige mense dit as ’n taboe onderwerp en word daar nie genoeg daaroor in ons huise gepraat nie.
Mens sal omtrent ’n boek kan skryf oor elke afsonderlike onderwerp in finansies, maar as ek sommer ’n vinnige sewe wenke moet noem, sal dit wees:
1. Jy het nie rede nodig om te spaar nie
As mens net spaar vir ’n spesifieke doel soos ’n kar/huis/aftrede, het jy nooit geld wanneer iets onvoorspelbaar opduik of wanneer jy dalk ’n geleentheid kry nie, hetsy of dit nou vir ’n vakansie of ’n noodgeval is. Spaar altyd wanneer jy kan. Dit is vervelig, ek weet, maar dit wat die spaargeld vir jou kan bied op daardie oomblik wanneer jy dit onverwags nodig het, is alles behalwe vervelig.
2. Moenie lewe-admin afskeep nie
Jy weet waarskynlik presies waarvan ek praat. Daar is vele dokumente wat handig te pas sal kom as jy dit vinnig op een plek kan opspoor wanneer jy dit nodig het, maar die belangrikste van alles: maak seker jy het ’n testament in plek. Selfs al het jy nie veel om te erf nie, sal dit die seer vir jou geliefdes aansienlik verminder as jy ’n testament in orde het. Daar is talle gratis opsies om dit in plek te kry.
3. Doen jou belasting
- Weet jy dat jy in die 2021/2-belastingjaar, R3 984 kan terugeis vir een persoon se mediese fonds? Vir ’n gesin van vier, werk dit uit op R10 656.
- Jy kan bykomende mediese onkostes wat ’n sekere bedrag oorskry, terugeis.
- In sekere gevalle kan jy geld rakende jou reistoelaag terugeis.
4. Lewensversekering
Wanneer dit by finansies kom, volg ons baie keer net die na-aapmetode en doen wat ook al ons ouers gedoen het, of wat ons dink die wêreld van ons verwag. Ons merk maar net die volgende boksie op die grootmens-lysie, sonder om werklik te verstaan hoekom ons dit doen en of dit enigsins vir ons nodig is.
Lewensversekering is een van daardie produkte wat jou gesofistikeerd laat voel wanneer jy dit het, maar menigmaal onnodig verkoop word aan mense (gereeld omdat die adviseur ’n lekker kommissie kan verdien).
Maak seker jy het dit werklik nodig. Lewensversekering is ’n goeie produk en pas op sy tyd in ’n finansiële plan. As dit egter nog nie vir jou nodig is nie, kan jy veel eerder die geld wat jy op ‘n premie sou spandeer, belê.
Twee van die groot redes hoekom jy werklik lewensversekering nodig het, is:
- As iemand van jou inkomste afhanklik is, byvoorbeeld ’n eggenoot, kinders of selfs ouers vir wie jy sorg.
- As jy skuld het wat met jou afsterwe gedelg sal moet word. Jy sal byvoorbeeld nie sommer ’n huislening kan kry sonder dat jy lewensversekering het nie.
5. Gebruik lojaliteitsprogramme
Jy hoef nie eers met al die kaarte rond te loop nie. Laai die “Stocard” app af en laai al jou winkels en eetplekke se kaarte direk daarop om onmiddelike besparings te maak, of punte op te bou. Dit neem jou vyf sekondes ekstra wanneer jy betaal, maar kan jou letterlik duisende rande per jaar voordeel gee as jy dit optimaal gebruik. Gebruik dit dan selfs vir Kersgeskenke, Ag tog-aankope, jou jaarlikse toiletware of selfs vir liefdadigheid.
6. R25-maaltye
Maak dit ’n uitdaging en kyk hoe goedkoop jy ’n heerlike bord kos, met die nodige voedingswaarde natuurlik, kan maak. Dit kan ’n lekker uitdaging onder vriende wees, of selfs sommer net in jou huishouding of vir jouself. Dit laat jou kreatiwiteit werk en kan ’n ekstra besparing wees.
7. Kanselleer onnodige inskrywings
Nes lewensversekering, is daar soveel inskrywings waarvoor ons soms betaal, al het ons dit nie nodig nie. Dit gebeur gereeld omdat die bank vir jou verduidelik het hoe voordelig dit vir jou sal wees om maandeliks te betaal. Dan natuurlik daardie tydskrifte wat jy nie meer lees nie, of die gimnasium wat jy ’n jaar laas besoek het.
8. Bankkoste
Bankkoste kan blitsvinnig ’n groot uitgawe raak. Veral omdat ons so graag ook die swart kaart soek of omdat hulle ons gebel het en dit so oulik geklink het om ’n privaatbankier te hê. Vra jouself eers af of die toename in koste regverdig word deur die voordele wat jy ontvang. In sommige gevalle sal jy werklik meer voordeel in afslag op byvoorbeeld brandstof kan kry, as wat jy in bankkoste gaan betaal. In baie gevalle is dit egter nie die geval nie, en betaal jy honderde rande net om ’n privaatbankier te hê wat jy byna nooit gebruik nie.
9. Geld en verhoudings
Een van die topredes vir egskeidings is finansies. Dis redelik eenvoudig om dit beter te doen: praat daaroor. Praat oor geldsake in julle verhoudings, lig mekaar in oor die stand van sake, van vorige sake, van toekomstige sake. Leer jou kinders van kleins af oor finansies om die eeue lange tekort aan finansiële geletterdheid te beëindig. Bedryf ’n klein ekonomie in jou huis rakende sakgeld, werk, uitgawes, spaar, belê en gee. Laat jou kinders begrotings opstel vir hulle partytjies.
10. Finansiële vryheid gaan bitter min oor geld
Ek weet geld kan nie geluk koop nie, maar dit kan vir jou opsies gee. Finansiële vryheid se tegniese definisie is om genoeg geld te hê om jou uitgawes te dek, sowel as om jou lewensdoelwitte te kan finansier en bereik. Ek wil dit anders stel en sê finansiële vryheid se definisie verskil van persoon tot persoon. Dit word direk gekoppel aan jou “hoekom”. Wat is finansiële vryheid vir jou? Hoekom jaag jy dit na? Is dit om meer tyd met jou familie te spandeer, meer keuses te hê, ander te kan help? Wat ook al jou hoekom is, is waaroor dit eintlik gaan.
Beplan jou etes. Maak lysies. Moenie kos weggooi nie. Lees die fynskrif. Moenie net ja sê nie. Koste vs voordeel. Hierdie is alles deel van dinge wat deel kan vorm van jou leefstyl voordat jy jou oë uitvee. Soms is die pad na finansiële vryheid nie so moeilik nie en kan ’n paar klein dingetjies juis die grootste verskil maak.
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!

