Meningstukke / Lindie van Gass
Liewe leser
Daar is soveel verskillende doelwitte wat mens vir jou finansiële plan stel, van ’n Ag tog-fonds, tot troues en kinders, en huis koop. ’n Mens kan afsonderlik op die meeste van die doelwitte fokus om die spesifieke een so gou as moontlik te bereik. Die één doelwit wat egter deurlopend aan gewerk moet word, is voorbereiding vir jou aftrede. Dit voel aanvanklik onbereikbaar ver en daarom is dit maklik om te vergeet daarvan en eerder op die dinge reg voor jou te fokus. “Ek sal volgende jaar begin spaar vir aftrede; ek wil eers vanjaar Thailand toe gaan”, is opmerkings wat ek gereeld by vriende, familie en kliënte hoor.
Die probleem is egter dat daar beraam word dat slegs 6% van Suid-Afrikaners kan bekostig om af te tree.
Hoe vroeër mens begin spaar vir aftrede, hoe minder hoef jy fisies daarvoor te spaar. Die rede hiervoor is dat saamgestelde rente die geld namens jou groei – as beloning dat jy vroeg begin het. Elke persoon se doelwitte rakende die beleggings vir aftrede sal verskil, afhangend van jou leefstyl, jou ouderdom en verskillende ander faktore. Die algemene reël is dat jy omtrent 15% van jou bruto salarisse moet spaar vir aftrede, indien jy op 25 begin. Sou jy wag om eers op 50 te begin met voorbereiding vir aftrede, verhoog die bedrag na tot soveel as 50% van jou salaris wat nodig sal wees om vir aftrede voor te berei. Dink self: Is dit makliker om 15% weg te sit, of 50%? Dis mos ‘n eenvoudige besluit. Hierdie syfers is gebaseer op die gemiddelde persoon en die aanname dat jy gedurende aftrede op ongeveer 75% van jou huidige salaris sal kan oorleef.
Begin net!
Daar is ’n magdom sakrekenaars aanlyn beskikbaar om hierdie somme vir jou te doen en ’n goeie finansiële beplanner sal jou ook kan help. Die belangrikste is net om te begin. Al sit jy maandeliks R50 weg en bou daarop totdat jy by ’n meer realistiese bedrag uitkom, is dit ook reg. Begin net.
’n Paar wenke of algemene inligting rakende die voorbereiding vir aftrede:
- ’n Aftreefonds deur jou werk is nie noodwendig voldoende nie. Doen die moeite om dit te hersien en te bevestig of daardie bedrag vir jou sal kan sorg. Sou dit nie kon nie, maak addisionele planne.
- Maak ’n belastingvrye belegging of spaarplan oop om dit aan te vul.
- Probeer om van jou héél eerste salaris af vir aftrede te begin spaar.
- Indien jy te laat begin, soek die regte raad en probeer soveel as moontlik doen om die situasie te red.
- Vind uit watter ander opsies vir jou werk en hoe om die meeste daaruit te kry.
- Dis aanvanklik nie nodig om te veel in detail te beplan nie, solank jy begin spaar wanneer jy jonk is. Soos aftrede nader kom, sal dit belangriker raak om die plan mettertyd in meer detail te hersien en die nodige aanpassings te maak.
Daar is baie faktore wat in ag geneem moet word met die fyn detail van jou aftreebeplanning. Hoe jonger jy is, hoe minder hoef jy op die detail te fokus, solank as wat jy besig is om te spaar en belê daarvoor. Dinge soos jou maag vir risiko, jou ouderdom, doelwitte, bates, ensovoorts, sal alles ’n rol speel hoe en waar jy belê.
Dis nader as wat jy dink …
Die tydperk wat jy het tot aftrede speel egter die grootste rol van almal. Dis ver. Dit voel onbereikbaar. Jy wil egter nie afhanklik wees van pensioensubsidies, of op ‘n familielid se nek lê nie; dis nie eers ’n gegewe dat daar ’n familielid is wat vir jou sal kan sorg nie. Begin dus so gou as moontlik hiermee. Glo my, jy sal later dankbaar wees.
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!

