Meningstukke / Lindie van Gass
Liewe leser
Suid-Afrikaanse huishoudings het van die laagste spaarkoerse in die wêreld. Die staat het dit goed gedink om produkte op die mark te stel om mense te motiveer om meer te spaar. Belastingvrye Spaarplanne en Beleggingsplanne is bekendgestel, wat jou toelaat om tot ‘n maksimum van R36 000 jaarliks en R500 000 in jou leeftyd tot een van hierdie produkte by te dra. Jy sal nie enige belasting op die dividende, rente of kapitaalwins betaal nie, wat natuurlik beteken die krag van saamgestelde rente is selfs meer in jou guns. Daar bestaan nie iets soos ‘n gratis middagete in hierdie wêreld nie, maar hierdie is so naby as wat jy kom en wanneer so ’n geleentheid aan jou deur klop – is dit ‘n goeie idee om dit met beide hande aan te gryp!
Die rekeninge is maklik toeganklik, byvoorbeeld deur jou bank of enige beleggingsfirma. Kanse is goed dat jy die naam al êrens op jou bank se toep gesien het. Daar is egter detail waarvan jy moet bewus wees om te verseker jy verspeel nie jou gratis middagete per ongeluk nie, want bemarkingsmateriaal kan maklik misleidend wees as jy net die opskrifte lees.
Hier is ‘n paar kitsfeite rakende hierdie beleggings:
- Jou maksimum bydrae per belastingjaar is R36 000; beperk tot R500 000 in jou leeftyd. Enige iets meer as dit sal teen 40% belas word. Hierdie is net die toelating van jou bydrae; die belegging self kan tot meer as dit groei.
- Sou jy geld onttrek, kan jy dit nie weer herbelê nie en het jy daardie toelating verbeur. Byvoorbeeld: As jy ‘n debietorder van R3 000 per jaar in ‘n belastingvrye belegging het, en jy onttrek R10 000, kan jy nie R10 000 ekstra belê voor die belastingjaar eindig nie, want dan gaan dit gesien word as R46 000 vir die jaar en jy gaan 40% belasting op daardie R10 000 betaal. Dit behoort dus nie te dien as ‘n noodfonds of spaarplan vir iets soos ‘n troue nie, maar as ‘n aanvulling tot jou aftrede.
- Jy kan die geld in hierdie produk in verskeie onderliggende bates belê en hoef dit nie net in ‘n spaarrekening met ‘n vasgestelde rentekoers te hou nie. Dit kan in effektetrusts (unit trusts) en ETF’s (Exchange Traded Fund) ook belê word, selfs in aandele by sekere maatskappye.
- Sou jy ‘n belastingvrye rekening by jou bank oopmaak en nie geweet het van die ander onderliggende beleggingsopsies nie, kan jy die geld skuif. Maak egter seker jy doen dit deur die amptelike kanale as ‘n oordrag van belegging tot belegging, en nie net deur dit te onttrek en oor te betaal nie. Dit sal as ‘n onttrekking en addisionele bydrae gesien word en opeindig met die bostaande 40% belastingboete.
- Anders as pensioengeld, word hierdie beleggings nie voorgeskryf in watter lande dit belê moet word nie en kan jy tot 100% van jou geld in buitelandse fondse hou met blootstelling aan name soos Google, Microsoft, ensovoorts. (Hierdie regulasies op aftreegeld word gestel deur Regulasie 28.)
- Jy kan enige tyd toegang tot jou geld verkry, solank jy onthou dat jy dan daardie voordeel verloor.
- Meeste plekke se minimum bydrae begin op R500 per maand.
- Jy kan by die meeste plekke maandelikse, kwartaallikse, halfjaarlikse of jaarlikse betalings maak, solank jy nie jou R36 000 oorskry nie.
Wanneer jy jou maksimum R500 000 bydrae bereik het, kan jy die geld daar laat lê om verder te groei tot wanneer jy dit wil gebruik. Jy kan dus die voordeel van saamgestelde rente oor jare trek wanneer jy so vroeg as moontlik hierin begin belê.
Selfdissipline is sleutel indien jy hierdie produk wil gebruik vir ‘n aanvulling tot jou aftreegeld, om ‘n belastingvrye inkomste te bied.
‘n Voorbeeld van hoe dit jou beleggings kan help, lyk soos volg: Jy begin op 25 om jou volle R3 000 per maand by te dra en belê dit in ‘n effektetrust (unit trust) met 100% blootstelling aan die buitelandse markte. Dit bied jou ‘n gemiddelde groei van 12.80% per jaar (hierdie syfer is gebaseer op die historiese groei in ‘n bestaande internasionale fonds; spesifiek die gemiddelde groei oor vyf jaar). Teen die ouderdom van 38.8 jaar, het jy jou volle R500 000 bygedra en staan jou belegging reeds op R1 367 227. Jy besluit om die geld in die fonds te los tot jy 65 is. Teen 65 jaar oud, staan jou belegging op R31 741 777 met die groei-aanname van 12.80%. Geen inkomstebelasting hoef op hierdie geld betaal te word wanneer jy dit gebruik vir aftrede nie, anders as wat die geval sal wees in ’n pensioen- of bewaringsfonds, en uittree-annuïteit.
Oor en uit.
Lindie van Gass is passievol daaroor om mense finansieel toe te rus en te bemagtig. Sy spog met ‘n BCom Honneurs in Beleggingsbestuur, ’n MCom in Finansiële Wetenskappe en ’n nagraadse diploma in Finansiële Beplanning (CFP). Sy is die stigter van Bank Beter met Lindie. Besoek gerus die webtuiste vir meer finansiële hulpmiddels en advies!

