Bokmelk het ’n effens suur smaak wat goed met die soet smaak van botterskorsie kombineer. Die slaai is geskik vir ’n voorgereg of ligte hoofgereg, en selfs as bykos. Die slaaisous kan vir enige slaai gebruik word, so maak dit sommer dubbeld.
Lewer 4 – 6 porsies
Slaaisous
100 ml olyf- of avokado-olie
45 ml (3 e) balsamiese asyn
fyngerasperde skil en sap van 1 lemoen
15 ml (1 e) heuning
sout en peper
Slaai
500 g botterskorsie, geskil en in blokkies gesny
500 g beet, geskil en in wiggies gesny
100-150 g gemengde vars slaaiblare, met roket- en klein beetblare
2 sprietuie, in dun skyfies gesny
100 g bokmelkkaas, gekrummel
75 ml (5 e) dukkah (sien wenke)
- Slaaisous: Meng al die bestanddele saam en geur na smaak.
- Slaai: Voorverhit die oond tot 200 °C. Plaas botterskorsie en beet op ’n bakplaat en giet ’n derde van die slaaisous oor. Rooster vir 30-40 minute of tot gaar.
- Sit slaaiblare op ’n groot slaaibord of op individuele slaaiborde. Plaas botterskorsie en beet bo-op. Strooi die sprietuie, kaas en dukkah bo-oor.
- Sit dadelik saam met die slaaisous voor. Dit is heerlik warm, maar kan ook teen kamertemperatuur as bykos voorgesit word.
Fotokrediet: Maak vyf/Make five, deur Heleen Meyer | Fotograaf: Neville Lockhart
Wenke
- Gebruik feta-, pecorino- of ricottakaas in plaas van die bokmelkkaas.
- Vervang die dukkah met gekapte neute van jou keuse of ’n mengsel van neute en sade soos sesam- of sonneblomsaad.