Dis nie aldag wat ʼn Afrikaanse kortfliek kans kry om ʼn buiging op die internasionale verhoog te maak nie. Hierdie eer het egter die kortfliek Dissonant te beurt geval toe dit op Dinsdag 24 Mei op die Cannes-rolprentfees vertoon is. Die Cannes-rolprentfees word beskou as die toonaangewende uitstalgeleentheid vir rolprente en duur vanjaar tot 27 Mei.
Dissonant is ʼn Afrikaanse kortfliek met Engelse onderskrifte wat deur De Wet van Rooyen en Linsen Loots gemaak is. Dit vertel die verhaal van ʼn komponis, Gabrielle Duarte, wat met haar komposisie by ʼn radio-ateljee instap en die omroeper, Anton Brink, ontmoet. Niks is ooit weer dieselfde nie. Antoinette Louw en Deon Lotz is in die rolle van Gabrielle en Anton te sien.
Dissonant was die Kaapstadse wenner van ʼn kortfliekkompetisie wat oor 110 stede wêreldwyd beslis is. Daarna het dit deurgedring na die internasionale rondte in Washington waar dit as een van 14 kortflieks aangewys is om by die Cannes-rolprentfees vertoon te word. Elretha Britz van Netwerk 24 beskryf Dissonant as ʼn kortfliek wat jou met geweld op die krop van jou maag tref.
In die internasionale rondte in Washington is Dissonant vereer met drie pryse. Antoinette Louw is bekroon as beste aktrise en die prys vir die beste draaiboek het ook aan Dissonant gegaan. By die prysuitdelingseremonie is De Wet van Rooyen en Linsen Loots as beste vervaardiger van die jaar bekroon. Die fliek het met die vertoning daar ʼn staande ovasie ontvang. Nou gaan die twee vervaardigers die volgende fase betree en ʼn vollengte rolprent aanpak.
Lees meer hier.